Raad besluit oor parool vir Bob Hewitt

Bob Hewitt tydens sy verhoor. (Foto: Werner Beukes/SAPA

Die veroordeelde verkragter en voormalige tenniswêreldkampioen Bob Hewitt is binnekort ʼn vry man.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het Dinsdag bevestig Hewitt word as eerste oortreder op parool vrygelaat in ooreenstemming met wetgewing wat die minimumtermyn bepaal wat ʼn oortreder moet uitdien voor hy in aanmerking vir parool mag kom.

Die 80-jarige Hewitt het drie jaar, ses maande en 22 dae van sy vonnis van ses jaar uitgedien. Hy word op 24 April vrygelaat.

Hewitt is in 2015 skuldig bevind aan die verkragting van Theresa “Twiggy” Tolken en Olivia Jasriel (voorheen bekend as Suellen Sheehan) in die 1980’s en die seksuele aanranding van nog ’n vrou, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, in die 1990’s.

Die misdade is gepleeg terwyl hy vir hulle tennislesse gegee het. Hewitt het onskuldig op die aanklagte gepleit.

Hy dien sedert September 2016 tronkstraf uit in die St. Albans- korrektiewe sentrum in Port Elizabeth nadat die Konstitusionele Hof vroeër sy aansoek om verlof tot appèl afgekeur het.

Nxumalo het gesê Hewitt het aan verskeie van DKD se programme vir oortreders deelgeneem en het verskeie assesserings, onder meer deur maatskaplike werkers en sielkundiges, ondergaan om vas te stel of hy in aanmerking vir parool behoort te kom.

Bob Hewitt. (Foto: Werner Beukes/SAPA)

Volgens hom is “slagoffers uitgenooi en het sommige deelgeneem” aan die paroolraad se bespreking oor Hewitt se parool.

Hewitt sal die res van sy termyn onder korrektiewe toesig uitdien en moet in dié tyd aan spesifieke voorwaardes voldoen.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat parool deel vorm van die omvattende rehabilitasieprogram om gedrag te korrigeer. Dit sluit die voortsetting van programme in wat daarop gemik is om herintegrasie in die gemeenskap te verseker,” het Nxumalo gesê.

Die organisasie Women and Men Against Child Abuse (WMACA) het vroeër gesê pres. Cyril Ramaphosa het die regering verbind tot die bekamping van geslagsgebaseerde geweld, maar dat parool vir Hewitt vrae oor dié verbintenis laat ontstaan.

“Die president het gevra vir ‘geen parool’ vir seksoortreders. Daar moet hieraan gehoor gegee word as daar van slagoffers verwag word om die regbank en korrektiewe dienste te vertrou,” het Luke Lamprecht, bewusmakingsbestuurder van WMACA, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Ek voel vir hom jammer, maar ek voel meer jammer vir sy slagoffers, hulle was net so magteloos, maar daar was nie ‘n regstelsel of enige vorm van beskerming of genade vir hulle nie. Ek hoop egter sy skuldigbevinding en straf praat met alle mans en ouers (ek hoor vroue is ook op daai bandwagon van molesteer) , kry die boodskap, iewers gaan jy moet rekenskap gee, maak nie saak of jy vir 80 gaan loop haal nie.

Benn

Wonder of Oscas Pistorius al vir parool in aanraking kom? Mens hoor niks.

Lorayne

Geen simpatie. . . Mollesteerders en verkragters moet vrot in die tronk!