Raad bestudeer nog Puk-verslag

Ingang na Puk-kampus Foto: AfriForum Jeug

Ingang na Puk-kampus Foto: AfriForum Jeug

Die Noordwes-Universiteit het Vrydag in ʼn mediaverklaring gesê sy Raad het verdere uitstel versoek om die inhoud en aanbevelings van ʼn verslag deur dr. Leon Wessels te bestudeer.

Die Raad het tydens ʼn buitengewone vergadering op 4 Junie meer tyd versoek om die verslag te bestudeer. Dié onafhanklike ondersoektaakspan se verslag is Donderdag en Vrydag breedvoerig bespreek.

Maroela Media het Vrydag berig die raad van die Noordwes-Universiteit het nog geen besluit geneem oor die verslag nie, ten spyte van beriggewing in ander media wat die teendeel impliseer.

Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys en opleiding het die Raad vroeër opdrag gegee om ondersoek in te stel na oriëntering en beweerde ontgroeningspraktyke op die drie kampusse van die NWU. Die Raad het die taakspan onder voorsitterskap van Wessels aangestel wat moes bepaal of daar ʼn “kultuur van intimidasie, teistering, vrees en suiwering” by die Universiteit bestaan teen personeel en studente wat poog om standpunt in te neem teen sodanige praktyke. Die taakspan moes ook die onderskeie ontvangs- en bekendstellingsprogramme op al die kampusse van die Universiteit evalueer, en aanbevelings maak oor die moontlike herstrukturering daarvan.

Die raad moes op 4 Junie al terugvoer hieroor gegee het aan die minister, maar Peet van der Walt, voorsitter van die Raad, het uitstel gevra sodat ʼn behoorlike proses gevolg kon word en om Raadslede ʼn geleentheid te gun om die inhoud van die verslag te bestudeer. Uitstel is gegee tot 26 Junie 2014.

“Gedurende vandag se vergadering onder voorsitterskap van die ondervoorsitter, me Itumeleng Pooe, het die Raad erkenning gegee aan die inhoud van die verslag en waardering uitgespreek aan die taakspan vir die ondersoek en die opstel van die verslag,” het Louis Jacobs, direkteur van korporatiewe kommunikasie en belanghebber-verhoudinge, in ʼn verklaring gesê. “Die Raad het gewys op sekere tekortkominge met betrekking tot die proses en struktuur wat deur die taakspan gevolg is met die finalisering van die verslag. Daar is ook kennis geneem van die feit dat sekere elemente van die opdrag van die taakspan nie hanteer is nie.”

Jacobs sê daar was egter eenstemmigheid dat die inhoud en aanbevelings van die taakspan as inset gebruik sal word vir die antwoorde wat aan die minister verskaf sal word in reaksie op die vrae wat hy aan die Raad gestel het. “Die Taakspan se verslag sal ook as ʼn saak van dringendheid as werksdokument gebruik word om die Universiteit vorentoe te neem deur die hantering van sekere pertinente kwessies soos die bevordering van ʼn kultuur van menseregte,” het hy bygevoeg.

ʼn Kernspan van die Raad is getaak om die verslag op te stel wat op 26 Junie aan die Minister oorhandig sal word, met inagname van die insette van die taakspan en die aanbevelings van die Raad.

Die Raad het weereens sy standpunt herhaal dat geen menseregteskendings by die Universiteit geduld sal word nie. “In die lig hiervan sal die verslag aan die Minister beslissende maatreëls bevat oor hoe die NWU sal voortgaan om sy zero-toleransie-benadering te implementeer en uit te bou ten einde menseregteskendings en enige vorm van ontgroening tydens toekomstige ontvangs- en bekendstellingsprogramme vir eerstejaarstudente te voorkom,” sê Jacobs.

Die Raad het besluit dat die inhoud van die verslag aan die Minister openbaar gemaak sal word nadat die finale verslag van die NWU Raad aan hom oorhandig is.

Lees ook:
Puk: Nog géén besluit oor Wessels-verslag
AfriForum Jeug eis dat Wessels-verslag verwerp word
Puk-debat: Waaroor die geveg gaan en nié gaan nié
Puk-verslag “in politiek ontvang en gebore”
Raad wil Puk-verslag oor ontgroening eers verder bekyk
NWU-klag teen dagblad teruggetrek; transformasie by Puk bespoedig
Voorstelle van internasionale ondersoekspan by NWU belemmer multi-kulturele inslag
Puk: Engels moet gelyk met Afrikaans, sê verslag
Theuns Eloff tree uit met roerende afskeidsboodskap
NWU dien klag in by Persombudsman teen dagblad
Puk-ondersoekspan bekend gemaak
Puk-koshuise: Ondersoek afgehandel
Puk-raadsvergadering: Eloff tree uit; ondersoek van stapel gestuur
Puk-groet: Raad besluit oor Puk se pad vorentoe
Zuma reageer op Puk-groet
Regshulp vir geskorste Puk-HK-lede
Oud-student bedank Puk vir balans
Video: Hitler se reaksie op Puk-groet
Basson se roekelose joernalistiek
Video: pukke moet transformeer – departement
Puk-studente begin met eie veldtog
Video: Puk-studente stap uit tydens Nazi-video
Solidariteit v. Beeld lok vurige reaksie uit
Solidariteit: Bloedneus vir Beeld en Basson
Puk-groet: Departement sê koppe gaan rol
NWU-raad: “Ons sal nie menseregteskendings duld nie”
Puk-groet: NWU-bestuur moet dringend afgedank word – HETN
Premier reageer op Puk-groet
Puk-groet: Twitter-vermaak terwyl storm woed
Debat oor Puk-groet ‘n g*tslag vir Afrikaans
Puk-rektor sê oor Nazi-saluut

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jessica ·

“Taakspan” se voet. “ANC-taakmag” is ‘n beter beskrywing. En ons weet watter “taak” hulle lankal reeds besluit het om op die Puk af te dwing.

Dis naakte intimidasiepolitiek wat fyn vooraf beplan is deur ‘n hele skare van die Bewind van Diewe se saamkeffers en werfbobbejane.

Hulle is nie tevrede daarmee om Afrikaanse skole, universiteite en kolleges bloot oor te neem en te sentraliseer nie. Dié moet verengels en oorstroom word deur ‘n Afrikanistiese identiteit en kultuur wat aan die Bewind onderdanig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.