Raad: Hoe gemaak by ’n motorongelukstoneel?

Foto verskaf deur ER24

Blade Nzimande, minister van vervoer, het vroeër verlede jaar bekend gemaak dat altesaam 510 mense gedurende die Paastyd op Suid-Afrika se paaie gesterf het, vergeleke met die 449 oor dieselfde tydperk in 2017. Met hierdie skokkende 14%-styging in sterftes op die land se paaie lê Paasfees weer om die draai.

Om op ’n motorongelukstoneel af te kom, is ’n skrikwekkende gedagte. Met Suid-Afrika se padsterfte-ongeluksyfer is dit egter wel moontlik en wat moet ʼn mens dan doen?

ER24-woordvoerder, Russel Meiring, het ’n paar wenke gegee van wat om te doen op ’n ongelukstoneel indien jy self in die botsing betrokke was of as jy op so ’n toneel afkom.

“Wanneer jy in ’n ongeluk was waar jy slegs geringe beserings opgedoen het en die voertuig nog steeds in werkende toestand is, bring die voertuig tot stilstand. Moet in geen omstandighede die toneel verlaat nie. Maak seker jou voertuig is op ʼn veilige gedeelte aan die kant van die pad om verdere moontlike ongelukke te voorkom,” sê Meiring.

Jy moet die volgende besonderhede kan verskaf, indien dit van jou verwag word:

  • Jou naam
  • Adres
  • Naam en adres van die eienaar van die voertuig
  • Registrasienommer
  • Besonderhede van jou bestuurslisensie

Die ongeluk moet binne 24 uur by die naaste polisiekantoor aangemeld word.

Die goue reël op enige ongelukstoneel is om so kalm moontlik te bly. Assesseer die situasie om te bepaal wat die beste manier sal wees om dit te hanteer. Maak gebruik van gevaarligte en ’n nooddriehoek vir verbygaande voertuie om sekondêre botsings te voorkom.

Meiring beklemtoon dat die aard en omvang van die ongeluk bepaal moet word: “Maak seker dat al die passasiers ongedeerd is. Wat is die toestand van die passasiers wat saam met jou in die voertuig was? Hoeveel passasiers is in die proses beseer? Is daar van die passasiers in die voertuig vasgevang? Was daar ’n brand wat tot verdere beserings kon bydra? Lê van die passasiers in die pad?”

Ontbied onmiddellik die nooddienste of indien jy nie self daartoe in staat is nie, vra iemand om dit te doen. Maak dus seker dat jy te alle tye toegang tot belangrike kontakbesonderhede op jou selfoon het, soos dié van ER24- of Netcare911-nooddienste of die SAPD. Volgens Meiring het ER24 ’n toegewyde noodkontaksentrum wat die publiek in staat stel om telefonies ’n noodvoertuig enige tyd van die dag te versoek. Dis belangrik om in gedagte te hou dat die inligting wat jy aan die nooddienste verskaf van uiterste belang is omdat dit die eerste stap is waardeur jy ’n lewe kan red.

Begin dadelik met noodhulp waar nodig en indien jy in staat is om dit te kan doen. Die volgende moet in gedagte gehou word:

  • Maak seker dat jy ook altyd ’n noodhulpkissie in jou voertuig bêre vir noodgevalsituasies.
  • As jy ’n beseerde teëkom wat bewusteloos is, maak die persoon se mond oop om te kyk of daar nie iets binne-in is wat ’n obstruksie kan veroorsaak nie.
  • Kontroleer ook of die bewustelose beseerdes asemhaal.
  • Indien die beseerde asemhaal, laat die persoon doodstil in die posisie waarin jy hom of haar gekry het, lê.
  • Indien die persoon nie asemhaal nie, begin om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas indien jy opgelei is om dit te kan doen.

In die geval van ’n gewonde persoon wat swaar bloei:

  • Gebruik katoengaas of gesteriliseerde band vanuit die noodhulpkissie en plaas dit op die wond.
  • Indien jy nie een van die bogenoemde tot jou beskik het nie, gebruik dan ’n handdoek, T-hemp of kombers.
  • Druk die gaas of enige ander materiaal styf vas op die wond.
  • Hou die drukking op die wond totdat die nooddienste opdaag.
  • Moenie ophou om drukking op die wond te plaas nie.

Moet in geen omstandighede ’n beseerde persoon beweeg nie, behalwe as dit vir hulle eie veiligheid is (byvoorbeeld as die voertuig aan die brand slaan of as daar enige ander vorm van bedreiging is).

In die geval van ’n brand, gebruik ’n brandblusser wat tot jou beskikking is. Dit is belangrik om ’n brandblusser in jou voertuig te hou.

Meiring lê ook klem op die belangrikheid van jou eie veiligheid wanneer jy slagoffers van ’n ongeluk help. Jy moenie iets probeer wat jou eie veiligheid in gedrang bring nie. “Daarom is dit belangrik om sekere veiligheidsmaatreëls in te stel soos byvoorbeeld om te alle tye handskoene te dra wanneer jy ’n beseerde persoon help,” sê Meiring.

Wanneer daar kinders op die ongelukstoneel is, is dit belangrik om die kinders veilig en onder toesig te hou.

ʼn Verbygaande motoris moet veral konsentreer op die pad vorentoe en waar enige moontlike vertragings mag voorkom. Indien jy stilhou om hulp by die ongelukstoneel aan te bied, moet jy seker maak jou eie voertuig is veilig en hou nie verdere gevaar of obstruksie in vir ander nie.

Skakel die ER24-noodnommer by 084 124 vir enige mediese noodgevalle.

Lees Veiligheid op ʼn ongelukstoneel: ʼn Paramedikus se storie waar ‘n paramedikus beseer is in ‘n sekondêre botsing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andreas ·

Sonder om snaaks te wees, en ek is ernstig, baie, ek dink in hierdie land moet dit verpligtend wees dat elke voertuig se gebruikershandleiding hierdie aanwysings in het.

IK ·

Lees ek die volgende mis in die berig of is dit nie van toepassing?:
a) Wanneer ‘n bewustelose persoon op sy rug lê bestaan daar ‘n groot moontlikheid dat hy sy tong kan insluk. Indien jy opgelei is moet hy/sy op hom /haar sy gedraai word ( help my reg indien ek hier fouteer). Moet geen liggaamsdeel probeer reg draai selfs al sit die hak van die voet teen die agterkop (as voorbeeld).
b) Neem besonderhede af van ooggetuies.
c) Belangrik om GEEN verklaring af te lê op die ongelukstoneel en dit sluit die polisie in.
d) Moenie skuld erken of ontken.
e) Neem soveel foto’s as moontlik.
f) Ten laaste gaan koop maar eerder ‘n kamera (dash cam) om jou onskuld te help bewys. So ‘n kamera gaan ook tot gevolg hê dat selfs jyself versigtiger gaan bestuur.
Dit is ‘n slagveld daarbuite op die pad en slegs ‘n K53 is nutteloos. Ook behoort ‘n basiese opleiding verpligtend gemaak te word by jou bestuurslisensie, selfs net die drukpunte om bloeding te stop is beter as drukking alleen op die wond behalwe by ‘n kopbesering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.