Raad sal ondersoek oor KPMG se werk vir Guptas bespoedig

KPMG-twitter

Foto: @SADN_Diaspora/Twitter.com

Die onafhanklike regulerende raad van ouditeure (Irba) het Dinsdag gesê hy het met KPMG Internasionaal se voorsitter Bill Thomas vergader en hom gemaan om sy volle samewerking te gee met die ondersoek oor die werk wat die ouditeursfirma vir die Gupta-familie gedoen het.

Bernard Agulhas, uitvoerende hoof van Irba, het gesê sedert die vergadering, wat ook deur KPMG SA se uitvoerende hoof Nhlamu Dlomu bygewoon is, is daar beslis beter samewerking en die organisasie beplan om die ondersoek te bespoedig. “Hulle houding het beslis verbeter sedert ons op ʼn internasionale vlak met hulle vergader het,” het Agulhas aan die media gesê.

Hy het aan die parlementêre staande komitee oor finansies gesê KPMG het aanvanklik “nie ten volle saamgewerk nie”, ondanks ʼn versekering dat die maatskappy gewillig was, ná vrae in Junie ontstaan het oor werk wat die maatskappy vir die Gupta-familie gedoen het.

Die Gupta-familie word daarvan verdink dat hulle publieke prosesse gemanipuleer het om politici voordeel te laat trek en KPMG word daarvan beskuldig dat hulle die familie gehelp het om kontrakte van miljarde rand van die regering te bekom.

Agulhas het bevestig dat die Irba-ondersoek in hierdie stadium fokus op KPMG se rol in die ouditwerk wat vir Linkway Trading gedoen is, ʼn maatskappy wat aan die Gupta-familie behoort, en vermoedelik betrokke was om openbare geld deur middel van die Vrede-suiwelplaas in die Vrystaat na die Verenigde Arabiese Emirate te stuur. Die feit dat uitvoerende lede van KPMG ʼn Gupta-familietroue in 2014 by Sun City bygewoon het, word ook ondersoek.

Die geld wat na die VAE gestuur is, is vermoedelik gebruik om vir die luukse troue te betaal.

Agulhas het aan LP’s gesê die Irba-ondersoek sal ook KPMG se verslag insluit oor die sogenaamde “rogue”-eenheid binne die SAID onder leiding van voormalige minister van finansies Pravin Gordhan. Die SAID-kommissaris Tom Moyane het die verslag versoek en is gebruik as die basis om strafregtelike klagtes teen Gordhan aanhangig te maak.

Agulhas het gesê alhoewel dit ʼn forensiese verslag is, het die raad beslis dat dit deur ʼn geregistreerde ouditeur gedoen is, en dit val dus binne Irba se mandaat om dit te ondersoek.

Hy het gesê ʼn Irba-ondersoek duur gewoonlik 18 maande, maar die raad sal poog om die KPMG-ondersoek te bespoedig, omdat dit in openbare belang is.

Hy het sy misnoeë uitgespreek dat die hoogste sanksies wat die raad kan toepas, skorsing is of boetes van tot R250 000 per aanklag en hy het die komitee versoek om wetgewing te ondersteun wat voorsiening sal maak vir groter boetes.

Yunus Carrim, voorsitter van die komitee, het gesê die maatreël sal sy volle ondersteuning geniet, maar het gewaarsku dat, indien nuwe boetes ingestel word, dit nie terugwerkend toegepas kan word op ʼn ondersoek wat reeds aan die gang is nie. Hy het gesê diegene wat skuldig bevind word, sal na die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

En niemand het hiervan geweet nie ? Watergate skandaal lyk soos ‘n kinderkrans partytjie ,teenoor die dinge wat in die land deur die behoeders van verkeerde dinge toegelaat word.

Johan ·

Skitterend. Ek het enkele jare gelede na ek ‘n boek oor Brett Kebble gelees het, al gewonder oor die KPMG’s en al hierdie ouditeursfirmas en in hoe ‘n mate hulle “kop in een mus” is met die ongerymdhede. Geld PRAAT en elke mens en maatskappy het sy prys.

Die onthullings van KPMG is dus nie heeltemal verbasend vir my nie, en dit is tyd dat sulke maatskappye bitter swaar gestraf word. Die boete van R250 000 is ‘n totale grap – die eintlike straf en skade is reeds aan gebeur – kliente wat nie meer van KPMG se dienste wil gebruik maak nie. As mens kyk na die ouditeursfirmas se fooie, is dit klaar genoeg bewys vir my dat hulle uitspattige fooie vra – wat grens aan geldgierigheid.

Miskien moet Irba hul ondersoek uitbrei en die ander ouditeursfirmas sommer ook ondersoek. Ek sal nie verbaas wees as daar ook ‘n paar geraamtes in hul kaste is nie.

Eish ·

Ek dink nie so nie. Alhoewel daar altyd n paar vrot eiers in elke beroep sal wees, is die professie as geheel, bo verdenking. 7 tot 8 jaar se opleiding sê nogal iets van jou as mens. In die besondere geval van KPMG is dit juis n BEE vennoot wat die troue bygewoon het en betrokke was by die spesifieke Gupta transaksies en geen sprook gespraak het nie. Die hele bestel tans kweek juis mense met lae integriteit vir bestuursposisies, deurdat hul met hopeloos te min ervaring in bestuursposte aangestel word.In die verlede het dit jou n leeftyd geneem om deur die range te beweeg en uiteindelik die topposisie te bereik. Dus kon die krake betyds bespeur word. Deesdae word vrot eiers ryp gedruk ter wille van die BEE telling. Selfs blanke klerke moet tevrede wees met n aansienlik kleiner salaris dan hul eweknieë wat op die wolk van bevoordeling verkeer. Nogal n ding om te verwerk in jou binneste. Die proses druk mense ryp voor hul tyd en gaan die privaatsektor nog kos. “Mark my words!”

AL ·

Als goed en wel dat die korporatiewe skandale oppgevlek word in die staatskaping en soos Bell Pottinger in Uk wat ernstige verliese ly.
Die ware culprits soos Zupta is nog steeds stewig in die saal en is vervolgingsvry. Dis verkeers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.