Raad van Provinsies vandag ingesweer

Mogoeng Mogoeng

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: GCIS

Kort op die hakke van hul 400 afgeskeide kollegas in die Nasionale Vergadering word die 54 lede van die Nasionale Raad van Provinsies Donderdag in Kaapstad deur hoofregter Mogoeng Mogoeng ingesweer.

Die verwagting is dat dit nie so ʼn uitgerekte affêre soos gister se inhuldiging van die Nasionale Vergadering sal wees nie, veral omdat daar soveel minder lede is om in te sweer en daar nie ʼn president verkies hoef te word nie.

Wat die verkiesings betref, moet ʼn voorsitter en ondervoorsitter wel vir die raad aangewys word.

Die ANC gaan die oudburgemeester van Johannesburg, Amos Masondo, as voorsitter voorstel. Onder sy leiding het die rekeningestelsel van die Goudstad ten gronde gegaan, en as voorsitter van die parlement se etiekkomitee die afgelope vyf jaar het ʼn klomp van die komitee se werk agterweë gebly.

Dit is nie tans seker wie die ANC, wat ʼn volstrekte meerderheid in die raad het, as ondervoorsitter gaan nomineer nie. Die aanvanklike aankondiging was dat Sylvia Lucas, oudpremier van die Noord-Kaap, genomineer sou word. Teenstrydige gerugte oor haar moontlike onttrekking vier sedertdien hoogty.

Die Nasionale Raad van Provinsies se rol is veral om die belange en funksionering van provinsiale en munisipale belange en bestuur in die parlement te dien en te monitor, en om as siftingsproses asook wanneer nodig as vertraging en herbesinningsplek vir omstrede wetgewing te funksioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Laat my wonder, baie keer moet jy vir iemand dit twee keer herhaal om die taak te verduidelik.

Gert van Wierdapark ·

As gekyk word nie funksionering van Munisipaliteite in SA dan lyk dit nie asof die NRvP enige verskil met sy monitoring ens gemaak het nie! Miskien gee hul wel raad wat dan nie gevolg word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.