Raad vir eiendomsagente bevestig vlak 3-riglyne

Argieffoto (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

Die Raad vir Eiendomsagentskapsake (EAAB) het ʼn stel riglyne gepubliseer om werkgewers, werknemers en die publiek in kennis te stel hoe sake veilig gedoen kan word tydens die Covid-19-pandemie.

Eiendomsagente word aangemoedig om virtuele toere van eiendomme te hou en enige koopaanbod elektronies te hanteer tydens risikovlak 3 van die regering se afsonderinsmaatreëls, het die EAAB Sondag in ʼn verklaring gesê.

Indien enigiemand beslis belangstel in ʼn betrokke eiendom (koper of huurder), moet die eiendom op enige gegewe tydstip aan nie meer as twee persone gewys word nie. Die onderhoud moet ook kort van duur wees en in lyn met Covid-19-gesondheidsregulasies.

Mamodupi Mohlala, uitvoerende hoof van die EAAB, het gesê die riglyne is belangrike instrumente om seker te maak dat die bedryf en die publiek weet “hoe om bedagsaam te wees, die virus te bekamp en lewens te red”.

Die riglyne is ontwerp kragtens verskeie wetgewende instrumente, insluitend die Wet op Rampbestuur, die Wet op Beroepsgesondheid en -Veiligheid, Covid-19-regulasies en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.

Die riglyne bevat ook risikobestuur en prosesse om die risiko te verlig, te voorkom en te beheer. ʼn Covid-19-reaksiespan sal aangestel word met protokol hoe om enige besmette persoon uit te ken en watter vertroulikheidsvereistes toegepas moet word. Die riglyne gee ook ʼn uiteensetting hoe vergaderings gehou moet word, kontraktuele verpligtinge nagekom moet word en hoe om nakomingskwessies te hanteer.

Volgens die EAAB is die fokuspunt van die riglyne die gesondheid en veiligheid van enigiemand in die waardeketting, insluitend sosiale distansiëring en goeie higiëne, die dra van persoonlike beskermingstoerusting te alle tye en die gereelde skoonmaak en ontsmetting van oppervlakke en kantore.

Wat betref interaksie met kliënte, sluit die riglyne in:

– Alle voornemende kliënte moet die veiligheidsprotokol ontvang voor hulle na ʼn eiendom gaan kyk en moet altyd aan dié protokol voldoen;

– Eiendomsagente mag nie met kliënte in dieselfde voertuig ry om na die eiendom te gaan kyk nie;

– Kliënte wat weier om hul hande te ontsmet voor hulle ʼn eiendom betree, moet nie toegang gegun word nie;

– Eiendomsagente en voornemende kliënte moet seker maak dat daar nie aan enige oppervlak of voorwerp in die eiendom geraak word nie; en

– Eiendomsagente moet bevestig dat hulle die kliënte dopgehou het en tevrede is dat hulle nie enige simptome wys wat met Covid-19 verband hou nie (hoes, seer keel, rooi oë, asemhalingstekort, swakheid).

Die riglyne sal gereeld bygewerk word kragtens veranderinge aan die wetgewing. Die dokument is beskikbaar op die EAAB se webwerf en sal ook per e-pos gestuur word aan alle belanghebbendes op die organisasie se databasis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.