Raad wil openbare vervoer tot noodsaaklike diens verklaar

Pendelaars wag op taxi’s by die Nyanga-staanplek te midde van ʼn landswye staking deur busbestuurders (18 April 2018). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het Vrydag gesê hy het vertoë aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se Komitee vir Noodsaaklike Dienste gerig met die opdrag om te ondersoek of openbare vervoer ʼn noodsaaklike diens is.

Die aansoek aan die komitee is by die Swart Verbruikersraad ingedien wat aanvoer dat werkers in die vervoersektor onder noodsaaklike dienste moet val.

Volgens die vakbond is die aansoek ingedien om werkers in dié sektor te verhoed om op ʼn beskermde staking te gaan.

“Die Swart Verbruikersraad het sy bewerings gegrond op die feit dat die gemeenskap erg ontwrig is deur die nasionale busstaking wat in Maart vanjaar plaasgevind het. Hulle het ook verwys na die uitwerking van die staking op die ekonomie,” het Numsa gesê.

“Numsa het vertoë aan die komitee gerig om te versoek dat dié aansoek verwerp word op grond daarvan dat daar nie voldoen word aan die regsdefinisie van wat as ʼn noodsaaklike diens bestempel kan word nie. Daar is geen bewyse dat die stakende werkers in die busvervoersektor gelei het tot lewensverlies nie, wat volgens wet ʼn vereiste is. Ons beskou hierdie aansoek as ʼn aanval op die reg om te staak en staan dit ten sterkste teen.”

Die vervoervakbond Satawu het vroeër Vrydag ook gesê hy staan die aansoek by die Komitee vir Noodsaaklike Dienste teen. “Satawu sal die aansoek teenstaan op grond daarvan dat dit ligsinnig is en ʼn poging om werkers van hul grondwetlike regte in die werksomgewing te ontneem,” het Satawu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

leser ·

stop busdienste en hulle staak, veroorsaak probleme
stop “noodsaaklike taxi diens, veroorsaak probleme
maak nie saak wie gestop word nie, probleme met stakings sal daar wees

zoom zoom ·

Die werkers dra elke maand by tot die unie waaraan hulle behoort. Tydens die staking toi toi en brande score net die leier van die unie en die stakkers word nie betaal nie. Kan hulle nie dit verstaan nie. Laat die een aanbewind van daai vakbond onderhandel vir lone. Dan sal die stakkers geld verdien terwyl hulle nog werk. Dit is nie rocket science nie

Belinda Erasmus ·

Wat word van d reg van werkers om by d werk te kan kom, om sodoende n inkomste te kan verdien om na hul families te kan omsien. Hulle word d swaarste getref. Jy kan nie by d werk, dokter, kliniek of hospitaal uitkom nie. Ek stem saam dat openbare vervoer as n noodsaaklike diens verklaar moet word. Dit het tyd geword dat daar op n ander manier onderhandel moet word vir beter werksomstandighede en verdienste. Dit moet gebeur sonder dat die mense , wat afhanklik is van openbare vervoer, se reg tot daardie diens weggeneem word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.