Raadslede in hof ná geweld in raadsvergadering

Werner Senekal en Rano Kayser op ‘n vorige geleentheid buite die hof. Foto: ANA

Die verhoor van twee ANC-raadslede van Nelson Mandelabaai wat tereg staan op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, het Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof begin.

Die aanklagte teen Gamalihleli Maqula (28) en Andile Lungisa (39) hou verband met ʼn gewelddadige skermutseling wat tydens ʼn raadsvergadering in Oktober 2016 uitgebreek het.

Daar word beweer dat Maqula vir Werner Senekal, hoofsweep van die raad, met ʼn skerp voorwerp in die rug gesteek het. Lungisa het na bewering vir Rano Kayser, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, tydens die vergadering met ʼn glasbeker oor die kop geslaan.

Staatsaanklaer Wayne Ludick, het Renaldo Gouws, ʼn DA raadslid, as eerste getuie geroep. Gouws het aan die hof gesê hy het die betrokke dag talle video’s op sy foon geneem.

Hy het gesê hy het bedreig gevoel deur die ANC-raadslede se gedrag. Dié geveg het uitgebreek nadat die speaker, Jonathan Lawack, vir Xola Sabani, ʼn ANC-raadslid, gevra het om die lokaal te verlaat.

Volgens Gouws het die raadslede begin betoog en papiere geskeur en dit in die lug op gegooi. Hulle het glo die veiligheidswagte wat Sabani wou verwyder van hom af weg gehou.

Toe Gouws die video in die hof gespeel het, het hy gesê hy het die beeldmateriaal stadiger gemaak ter wille van die verrigtinge hoewel hy die oorspronklike lêers op sy foon beskikbaar het indien dit nodig is.

Op die video kan gesien word hoe Kayser die speaker se podium waar Lungisa was nader. Soos Kayser naderkom lig Lungisa ʼn groot glasbeker in die lug, Kayser probeer die beker wegstoei, dan lig hy sy arm op in selfverdediging soos die beker op sy kop neerkom.

Luthando Ngqakayi, prokureur vir die verdediging, het gemeld dat Gouws die raad se regulasies oortree het deur die opname te maak.

Gouws het dit erken en gesê hy het ʼn R50 boete betaal as gevolg daarvan. Hy het gesê die raad het kringtelevisiekameras geïnstalleer ná Oktober se geweld.

Ná Gouws se getuienis het speaker Lawack gesê hy het Sabani gevra om die lokaal te verlaat ná afloop van sy oproerige gedrag. Toe hy nie gehoor aan Lawack se opdrag gee nie het Lawack die stadsbestuurder, Johan Mettler, gevra om hom deur veiligheidswagte te laat verwyder.

Volgens Lawack het “hel losgebars” toe die ANC-raadslede Sabani van die wagte geskerm het.

Volgens hom het Lungisa en Makhi Feni, ʼn ander ANC-raadslid, hom genader.

“Dit was duidelik uit hul houding dat hul bedoeling was om my te intimideer en fisiek aan te val. Hul bedoeling was duidelik,” het Lawack gesê.

Volgens hom het Feni na hom uitgereik en hom aan die arm gegryp voordat ʼn kollega ingetree en hulle uitmekaar gekry het. Hy het toe aanskou hoe Lungisa vir Kayser aangeval het.

Kayser het gesê toe hy sy bewussyn herwin het, was kollegas besig om hom by te staan en toe later paramedici van die ambulansdienste.

Hy is na St. George-hospitaal geneem waar hy steke aan sy linkerslaap ontvang het. Hy het ook snye en kneusplekke aan sy arm en nek gehad. Hy moes glo ook glasstukke uit sy nek en bors laat verwyder.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

TYDMORS ·

Hulle behoort niks oor te kom nie. Het nog nooit van ‘n ANC parlementslid gehoor wat homself wangedra het en iets oorgekom het in die SA parlement nie, dit is maar hoe dinge daar gedoen word.

Helien ·

Groot mense wat so aan gaan en n baie goeie voorbeeld vir hulle kinders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.