Raadslede in hof oor bakleiery by vergadering

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Twee ANC-raadslede van Nelson Mandelabaai het Dinsdag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die aanklagte hou verband met ʼn gewelddadige bakleiery tydens ʼn vergadering verlede jaar in November. Maroela Media het vroeër berig ’n raadsvergadering het met ʼn skoot geëindig waarna twee raadslede na ʼn hospitaal vervoer is. Daar het volgens berigte ʼn onderonsie tussen ANC- en DA-raadslede ontstaan.

Gamalihleli Maqula (28) en Andile Lungisa (39) het Dinsdag afsonderlik in die hof verskyn. Die twee het hulself na die onderonsie aan die polisie oorgegee en is tans uit op borgtog van R1 000 elk.

Maqula is vroeër skuldig bevind op aanklag van die ontvoering en aanranding van ʼn tienerseun en dien tans korrektiewe toesig uit. Maqula se saak is tot 30 Maart uitgestel vir die staat om videomateriaal te bekom.

Die saak teen Lungisa is ook tot 30 Maart uitgestel, aangesien die staat nog wag vir ʼn verklaring van ʼn getuie.

Volgens bronne het Maqula die DA se hoofsweep, Werner Senekal, met ʼn skerp voorwerp in die rug gesteek terwyl Lungisa glo DA-raadslid Rano Kayser met ʼn glasbeker oor sy kop geslaan het.

Die twee mans word in die hof ondersteun deur mede-ANC-lede insluitend die partyleier en voormalige adjunk-burgemeester Bicks Ndoni. Ndoni het gesê die party sal nie by die saak inmeng nie en hulle verwag dat geregtigheid sal geskied. “Politieke sake moet polities opgelos word. Ek glo ook daar is sekere raadslede wat die polisie genader het om aanklagte aanhangig te maak. Ons is nog nie heeltemal seker wie nie, maar die saak duur voort. Ons hoop die sake sal opgelos word, maar hierdie prosesse is buite ons beheer,” het hy gesê.

Ndoni het gesê die speaker, Jonathan Lawack, kon die situasie beter hanteer het. “Ons het van die begin af gesê dinge kon beter hanteer gewees het. Die manier hoe die vergadering hanteer is, daar was chaos en dinge het versleg. Die speaker moet altyd sy oordeel gebruik wanneer kwessies opduik, jy kan nie met ʼn raadsvergadering aangaan as daar chaos is nie. En sodra daar chaos is, moet die vergadering verdaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rabes ·

Hoe is dit moontlik dat ‘n ontvoerder en aanrander op ‘n tiener op die raad dien. Dit wil my voorkom of hy die ministers volg

Apie ·

Lyk my hoe n groter krimineel jy is, hoe beter is jou kanse om president van die land te word. En jy moes kleispeel in graad 1 gedruip het, en toe skool verlaat het.

pieter ·

Ag kom by julle is nie kinders nie ANC stel bietjie voorbeeld vir julle jeug maar nee wil alles met geweld en brand en wat nog regmaak julle gaan nerens kom nie. So word Groot ANC.

Johann ·

Mooi, so kan hulle asseblief nou ophou om mekaar “honourable” te noem? Of is dit “horrible”?

GES ·

Ek dink dit is horrible comrad. Die hartseer is dat die ANC polities en moreel bankrot is en niks meer konstruktief het om aan te bied. Dit verklaar ook hulle walglike optrede en handelinge. Dit is al baie kere gesê maar hier is ʼn duidelike geval van die vis wat van sy kop af vrot word. Ons moet net vasbyt, hulle gaan hulleself uit faseer.

Cherokee ·

Vreemd dat die ANC en DA in ‘n geveg teen mekaar betrokke raak. Soort van familietwis.

zahn ·

Die lasaste sin in die artikel klaar alles op. sodra daar chaos is, moet die vergadering verdaag, en dit is presies wat die cANCer wil hê. Say no more..

Wouter ·

As jy iemand met n skerp voorwerp in die rug steek is dit poging tot moord en nie aanranding nie. As jy hom slaan met die kaal hande of vuiste is dit aanranding.

anton. ·

Wouter ek stem 100% saam met jou!!!
Nou verklaar vir my hoe kan n Hof beslis as iemand op jou geskiet het en jou raak geskiet het, die persoon skuldig bevind word aan Aanranding ernstig?
Dan was die skietter se lewe glad nie in gevaar of hy aangeval nie! Dus nie uit noodweer opgetree nie.
Die Howe het volgens my n groot klug geword!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.