Raadslede met veiligheidswagte in hof ná bakleiery

Werner Senekal, hoofsweep van die raad, en Rano Kayser, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, verlaat die hof saam met ʼn paar DA-lede. Foto: ANA

Die saak teen twee ANC-raadslede van Nelson Mandelabaai wat tereg staan op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof uitgestel.

Die aanklagte teen Gamalihleli Maqula (28) en Andile Lungisa (39) hou verband met ʼn gewelddadige skermutseling wat tydens ʼn raadsvergadering in Oktober verlede jaar uitgebreek het.

Daar word beweer dat Maqula vir Werner Senekal, hoofsweep van die raad, met ʼn skerp voorwerp in die rug gesteek het. Lungisa het na bewering vir Rano Kayser, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, tydens die vergadering met ʼn glasbeker oor die kop geslaan.

Senekal en Kayser was ook Maandag in die hof omring deur veiligheidswagte en DA-lede.

Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het verlede week ʼn dringende perskonferensie gehou waar daar beweer is dat Senekal en Kayser “geverifieerde doodsdreigemente per SMS” ontvang het wat verband hou met die saak teen Lungisa en Maqula.

Athol Trollip, uitvoerende burgemeester, het gesê daar is “direkte inligting dat daar ʼn kontrak of ʼn huurspan is om die werk te doen” en het gesê die veiligheid van sy burgemeesterskomiteelede is in gedrang.

Sedert die doodsdreigemente aan die lig gekom het, is veiligheid rondom Senekal en Kayser opgeskerp. Die ANC in Nelson Mandelabaai het die beweerde doodsdreigemente teen Senekal en Kayser veroordeel, maar het na die DA-koalisieregering gekap omdat hulle insinueer dat ANC-raadslede daarby betrokke is.

Die beweerde doodsdreigemente is nie tydens Maandag se hofverrigtinge genoem nie. Die saak teen Maqula en Lungisa is op hul versoek tot Woensdag uitgestel. Hulle is albei tans uit op borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johnny_walker ·

en so my liewe vriende sal dit gaan wanneer die ANC die dag die nasionale verkiesing verloor , hulle sal oorgaan tot geweld want hulle geskiedenis bewys dit , dit is hoe hulle in die eerste plek aan bewind gekom het , deur die massas te intimideer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.