Raadslede weer in hof oor geweld by raadsvergadering

Werner Senekal en Rano Kayser op ‘n vorige geleentheid buite die hof. Foto: ANA

Die DA-raadslid wat in 2016 tydens ʼn skermutseling by ‘n raadsvergadering met ʼn skerp voorwerp in die rug gesteek is, het gesê hy het nie gevoel hoe hy gesteek word en nie self gesien wie hom aangeval het nie.

Die verhoor van twee ANC-raadslede, Gamalihleli Maqula (28) en Andile Lungisa (39), van die Nelson Mandelabaai-metro wat teregstaan op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof voortgesit.

Daar word beweer dat Maqula vir Werner Senekal, hoofsweep van die raad, met ʼn skerp voorwerp in die rug gesteek het. Lungisa het na bewering vir Rano Kayser, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, tydens die vergadering met ʼn glasbeker oor die kop geslaan.

Sowel Lungisa as Maqula het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle. Die hof moes vlugtig verdaag toe ʼn emosionele Senekal gesukkel het om te praat toe staatsaanklaer Wayne Ludick hom oor die dag se gebeure uitgevra het.

Toe die hof hervat, het Senekal getuig die raad het in chaos verval en hy het na die hoofingang van die lokaal gegaan om speaker Jonathan Lawack se persoonlike lyfwag binne die lokaal te kry.

Volgens hom was hy by die deur toe ʼn skoot afgegaan het en hy in ʼn “mini-tsoenami” vasgevang is soos mense uit die lokaal probeer storm het. Hy het gesê hy is in die voorportaal deur ANC-raadslede voorgekeer wat hom beskuldig het dat hy ʼn wag opdrag gegee het om die skoot af te vuur.

Senekal is daarna terug na die lokaal, vergesel deur mederaadslede. Volgens hom het die stadsbestuurder, Johan Mettler, toe vir hom gesê hy is pas met ʼn skerp voorwerp gesteek.

Hy het sy baadjie en hemp verwyder om die omvang van sy beserings te bepaal en gesien sy klere is stukkend gesteek, maar hy het net ʼn klein snywond tussen sy blaaie opgedoen.

Hy het nie gesien wie hom gesteek het nie. Senekal het onder kruisverhoor gesê hy kan nie ontken dat sy beserings moontlik opgedoen is tydens die deurmekaarspul by die ingang van die lokaal of die konfrontasie buite in die voorportaal nie.

Ná Senekal het Mettler getuig en gesê hy was binne die lokaal toe die beweerde steekvoorval plaasgevind het.

Mettler, wat meer as twee meter lank is, het gesê hy kon Senekal duidelik sien en het gewaar hoe Maqula, wat agter die hoofsweep was, ʼn steekaksie uitgevoer het.

Volgens hom het Senekal dieselfde oomblik ʼn tree vorentoe gegee en gegrynslag asof hy in pyn verkeer.

Volgens Mettler het dít hom tot die gevolgtrekking gelei dat Senekal gesteek is en dus het hy hom te hulp gesnel. Toe vasgestel is dat Senekal se beserings nie ernstig is nie, het hy Kayser gaan help.

Die hof het verdaag vir die dag ná Mettler se getuienis.

Die saak gaan Maandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.