Raadslid, 4 ander vas ná moord op ANC-raadslid

Victor Molosi (Foto: ANA)

Nóg vier verdagtes, onder wie ʼn dienende Knysna-wyksraadslid, is Dinsdagaand in hegtenis geneem in verband met die moord op ANC-raadslid Victor Molosi.

Molosi (50) is in Junie ʼn paar meter van sy huis af in sy kop geskiet.

Hy was die raadslid vir wyk agt, wat Concordia en Joodse Kamp in Knysna insluit.

Maroela Media het vroeër berig Molosi is omstreeks 22:00 aangeval ná ʼn beheerliggaamvergadering by Hoërskool Concordia. Hy is verskeie kere geskiet. Hy is in die kop gewond en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar hy met aankoms dood verklaar is.

Mandla Tyololo (39), die eerste verdagte wat kort ná die moord in hegtenis geneem is vir sameswering om moord te pleeg, het Woensdag in die Knysna-landdroshof verskyn waar hy aansoek gedoen het om borgtog. Sy aansoek is uitgestel tot Donderdag wanneer hy saam met die ander vier verdagtes in die hof sal verskyn.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê twee van die mans, albei 37 jaar oud, is in Kaapstad vasgetrek.

“Twee ander mans, 58 en 42 jaar oud, is by hul huis in Knysna vasgetrek. Vier mense is dus Dinsdag in hegtenis geneem en altesaam vyf staan tereg in verband met die moord.”

Volgens Pojie is die 58-jarige verdagte tans ʼn lid van Knysna se munisipale raad.

Die verdagtes staan tereg op aanklag van moord en sameswering om moord te pleeg.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanzie ·

Verrot, van bo tot onder! Moor mekaar uit deur afguns en jaloesie!

Stuiwer ·

Ek wonder of die polisie so gou die verdagtes sou vastrek as dit net ‘n gewone ou van die straat was wat vermoor is? Ek sê maar net…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.