Raadslid, 9 ander ook vas ná Noordwes-geweld

Twee polisievoertuie en ‘n ambulans is in vlamme gehul na die gemeenskap reg in eie hande geneem het (Foto: First Help, Twitter)

ʼn Raadslid en nege ander verdagtes is die week in hegtenis geneem in verband met verlede maand se oproer in Boikhutso net buite Lichtenburg in Noordwes.

Volgens brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, is nege verdagtes, tussen 18 en 23 jaar oud, Maandag in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer kwaadwillige saakbeskadiging, aanranding met die doel om ernstig te beseer, diefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Die 39-jarige raadslid is Woensdag op dieselfde aanklagte in hegtenis geneem.

Dit volg na oproerigheid in Boikhutso op 21 April toe twee polisievoertuie en ʼn ambulans in die gebied aan die brand gesteek is. ʼn Adjudant-offisier verbonde aan die polisie se honde-eenheid het vroeër die dag ʼn agtjarige seun doodgery terwyl die kind oor ʼn straat gehardloop het.

Twee polisievoertuie en ‘n ambulans het in die slag gebly. (Foto: First Help/Twitter)

Chaos het losgebars en die voertuie is aan die brand gesteek. ʼn Voertuig wat aan die plaaslike verkeersowerheid behoort is ook met klippe bestook. Verskeie informele winkeltjies is geplunder.

Volgens Mokgwabone is daar tydens die inhegtenisneming van die verdagtes op verskeie goedere beslag gelê, insluitend ʼn noodband, handboeie en vermoedelik gesteelde kruideniersware. Van die verdagtes het Woensdag in die Lichtenburg-landdroshof verskyn, terwyl die ander Donderdag verskyn het. Hulle sal weer op 5 Mei in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Hulle bly in aanhouding tot dan.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het beamptes geloof vir hul volgehoue pogings om seker te maak die skuldiges word vasgetrek. Hy het gewaarsku dat die polisie voort sal gaan met hul harde werk om te verseker dat diegene wat die gesag van die staat ondermyn, vasgevat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boortor

Met baie van die gevalle is daar een of ander amptenaar of beampte betrokke. Dit maak my baie wonder oor wat nou in hierdie piesang republiek aangaan. Is dit alles georkestreer of net toevallig. Wonder maar net as mens na die drakoniese inperkings kyk.

Fedup

Apart from the fact that parents lost a child, which is sad, these people unreasonable actions do not shock me anymore. Where exactly and for how long will they keep this lot?

Raadslid

Dit was nie ek nie…..

Sarel

Nou sien jy waar die oorsprong en hoekom daar nie teen geweldenaars opgetree word nie. Raadslid gaan nou Parlement toe

JM

Gebrek aan beskaafdheid! Waarom brand stig en plunder? Sommiges sal nooit verander nie.