Raadslid sterf ná petrolbomaanval

Argieffoto

Festus “Mochini” Matshogo, ʼn ANC-raadslid aan die Wes-Rand, het aan sy brandwonde beswyk nadat sy huis Sondag in die vroeë oggendure met petrolbomme bestook is.

Sanele Ngweventsha, die party se streeksekretaris, het Matshogo (58) se afsterwe bevestig. “As die ANC in die Wes-Rand veroordeel ons die barbaarse aanval op raadslid Matshogo en doen ons ʼn beroep op die gemeenskap van Mohlakeng om na vore te kom met enige inligting wat die wetstoepassers kan help om die skuldiges vas te trek,” het Ngweventsha gesê.

“Ons betuig ons opregte en innige medelye met comrade Matshogo se familie, sy kollegas en vriende. Ons wens hulle sterkte en krag toe in hierdie moeilike tyd van rou waar hulle die verlies van hierdie reus moet verwerk.”

Maroela Media het vroeër berig Matshogo het Sondagoggend geslaap toe sy huis in Mohlakeng tussen 04:00 en 05:00 met petrolbomme bestook is. Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê die polisie se voorlopige ondersoek het daarop gedui dat ander plofstowwe behalwe petrolbomme ook deur die aanvallers gebruik is.

Minstens drie ongebruikte petrolbomme is op die toneel gevind.

Die motief vir die aanval op Matshogo se huis is nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

zeno ·

Ai tog!! kan die mense nie stop met sulke goed nie,so onnodig,veroorsaak net hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.