Raadslid vas ná huis ontplof

Argieffoto

ʼn 36-jarige raadslid van KwaZulu-Natal sal na verwagting Maandag in die Madadeni-landdroshof in Newcastle verskyn nadat hy deur die Valke vasgetrek is in verband met ʼn saak van 2015.

Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, is die raadslid van die Amajuba-distrik Saterdag vasgetrek nadat hy glo saamgesweer het om die huis van ʼn 46-jarige raadslid in 2015 te laat ontplof.

“In 2015 het onbekende aanvallers glo ploftoestelle geplant wat later ontplof en erge skade aangerig het. Ten tyde van die voorval is daar vermoed die ontploffing is deur ‘loodgietery’ veroorsaak omdat die stowwe langs die geiser weggesteek was. Daar is geen saak aanhangig gemaak nie. Die Valke het egter in September vanjaar inligting oor die raadslid ontvang,” het Mulaudzi gesê.

Volgens hom het twee raadslede ʼn onderonsie gehad. Daar was ook sprake van onregmatige beïnvloeding en moontlike korrupsie. “Die man het toe besluit om sy vertroueling te vermoor sodat sy ondergrondse bedrywighede nie oopgevlek word nie.”

Mulaudzi het ook gesê die raadslid het ooggetuies betaal om nie met die ondersoekspan saam te werk nie.

Hy staan tereg op poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, dwarsboming van die gereg en die oortreding van die Wet op Plofstowwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.