Raadslid vas wat glo premier wou vermoor

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes Foto: premier.nwpg.gov.za

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes Foto: premier.nwpg.gov.za

ʼn Vrou is Dinsdag in hegtenis geneem nadat sy saamgesweer het om die Noordwes-premier Supra Mahumapelo en die uitvoerende burgemeester van Mahikeng, Gosiame Seatlholo, te vermoor, het die Valke gesê.

“Die 42-jarige raadslid is in die vroeë oggendure in Mmasebudule in hegtenis geneem,” het Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê.

Die vrou het ʼn tradisionele geneser op 21 November genader en hom om hulp gevra om Mahumapelo en Seatlholo met moetie te vermoor. Hy het teësinnig ingestem, maar op 28 November die polisie van haar planne in kennis gestel.

“Sy is Dinsdag in hegtenis geneem toe sy die tradisionele geneser vir die tweede keer gaan besoek het,” het hy bygevoeg. Sy sal Woensdag in die Lehurutshe-landdroshof verskyn.

Die premier se kantoor het hul skok uitgespreek oor die inhegtenisneming. “Die kantoor van die premier verneem met skok kennis oor die inhegtenisneming van ʼn verdagte wat premier Mahumapelo wou vermoor,” lui ʼn verklaring. Die woordvoerder het ook die polisie bedank vir hul vinnige reaksie op die saak. “Intussen kan ons lede van die publiek verseker dat premier Mahumapelo veilig is en met sy gewone amptelike take voortgaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.