Raaisel ná liggame in rivier gewaar is

Talle paaie in Pretoria het van Saterdag tot Sondag oorstroom. Foto: Gregory Harington
@AskGregory

Die soektog na twee liggame wat tydens die naweek se swaar neerslae glo in die Apiesrivier in Pretoria gesien is, is Maandagoggend 08:00 hervat.

Johan Pieterse, woordvoerder van Tshwane-nooddienste, sê twee mense het Saterdagmiddag op die laagwaterbrug in die voorstad Capital Park, sowat 3 km noordwes van Kerkplein, staan en kyk hoe die stormwater afkom toe hulle glo twee liggame vinnig sien verbyspoel het.

Hy sê dit het so vinnig gebeur dat die ooggetuies nie mooi kon sien hoe die liggame lyk nie, maar een het blykbaar ʼn blou oorpak aangehad en die ander een ʼn rooi trui.

Pieterse sê dit is vir hom vreemd dat niemand van Saterdag tot Maandag hul naasbestaandes as vermis aangemeld het nie.

Die soektog vanaf die brug in ʼn weswaartse rigting is vanoggend hervat, maar het tot dusver niks opgelewer nie, sê Pieterse.

Die naweek se storm het aan die Oos-Rand begin en daarvandaan na Pretoria oorgewaai, waar dit ontwrigting veroorsaak het met oorstroomde paaie, onklaar verkeersligte en kragonderbrekings, berig Times Live.

Die noorde en weste van die Jakarandastad het vanaf 13:00 Saterdag die kwaaiste deurgeloop in die storm wat met swaar neerslae, weerlig, donderweer en hael gepaardgegaan het. Dit het plek-plek tot laat Sondagoggend nog gereën.

Verstopte afvoerpype het tot oorstroomde paaie gelei, terwyl die verkeer weg van laagwaterbrûe en duikweë herlei is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ag regtig ·

Behalwe as dit boemelaars wat onder ‘n brug gebly het was, dan sal niemand hulle as vermis aanmeld nie.

Anoniem ·

Daar is ‘n hele paar gehuggies in die omgewing van die laagwaterbrug. Dalk is dit een van daardie persone wat in een van die gehuggies bly wie per ongeluk in die rivier beland het.

Inwoner ·

Het daar nie ook so twee jaar gelede ‘n dame en haar seun van daai brug afgespoel nie? Hy het dit gemaak maar haar liggaam is nooit gekry nie. Hulle het weke lank na haar gesoek. Die Apies is ‘n gevaarlike rivier as hy afkom.

Vra ek ook ·

Ek het aan presies die selfde geval gedink. Niks is weer van daardie storie gehoor nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.