Raaisel oor blaasoppies wat op Kaapse strand uitspoel

Meer as 300 blaasoppies het die afgelope twee dae op Long Beach in Simonstad in die Wes-Kaap uitgespoel. (Foto: Gregg Oelofste / Stad Kaapstad)

Plaaslike owerhede krap kop oor die meer as 300 blaasoppies wat die afgelope twee dae op Long Beach in Simonstad in die Wes-Kaap uitgespoel het.

Die blaasoppies behoort aan die Evileye-spesie van dié klein vissoort, wat algemeen in die omgewing voorkom. Hulle eet onder meer krappe en klein vissies en begrawe hulself in die sand om hul prooi onkant te betrap.

Die Stad Kaapstad is tans besig om dié dooie visse van die strand te verwyder en het reeds sowat 120 blaasoppies aan die departement van bosbou en vissery oorhandig om agter die kap van die byl te probeer kom.

Meer as 300 blaasoppies het die afgelope twee dae op Long Beach in Simonstad in die Wes-Kaap uitgespoel. (Foto: Gregg Oelofste / Stad Kaapstad)

Gregg Oelofse, bestuurder by die stad se krisisbestuursentrum, sê dis egter uiters moeilik om te bepaal wat die oorsaak van dié ongewone verskynsel kan wees.

“Volgens die departement kan dit moontlik ʼn parasiet of ʼn virus wees, óf die vissies kon dalk weens hoë deinings uitgespoel het. Dis egter net bespiegelings.

“Wat wel interessant is, is dat daar sowat ʼn jaar gelede ongeveer 1 000 blaasoppies van presies dieselfde spesie in dié omgewing uitgespoel het.”

Besoekers aan die strand word gemaan om nie aan die visse te vat nie en veral hul troeteldiere van die blaasoppies weg te hou.

“Hierdie blaasoppies se vleis is hoogs giftig. Mense moet dit ten alle tye vermy om die blaasoppies sonder veiligheidshandskoene te hanteer. Inname kan siekte by mense veroorsaak en dodelik wees vir troeteldiere,” het Alison Kock, ʼn marinebioloog van Kaapstad, gesê.

Die stad sal strande van Vishoek tot Simonstad oor die volgende paar dae dophou en visse verwyder indien nog daarvan op strande sou uitspoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.