Raaisel oor olifantsterftes: SA kenners deel van navorsingspan

‘n Dooie olifant in die Okavango-delta. (Photo via AP)

Wetenskaplikes van Suid-Afrika en Pakistan het koppe bymekaargesit in ʼn poging om duidelikheid te probeer kry oor die raaiselagtige dood van meer as 350 olifante in Botswana binne ʼn tydperk van twee maande.

Die olifantkarkasse is in die Okavango-delta in Botswana gevind. Volgens die jongste inligting van Botswana se departement van omgewingsake, natuurbewaring en toerisme is plaagdoder uitgeskakel as ʼn moontlike oorsaak.

“Die uitslae wat sover ontvang is, het nog nie vergiftiging uitgeskakel nie. Omgewingsfaktore, insluitend gifstowwe wat natuurlik voorkom, word steeds ondersoek.”

Die span wetenskaplikes se artikel, “Mass die-off of African elephants in Botswana: pathogen, poison or a perfect storm?”, is die week in die African Journal of Wildlife Research gepubliseer.

(Foto: Prof. Rudi van Aarde)

Prof. Armanda Bastos, hoof van die departement dierkunde en entomologie aan die Universiteit van Pretoria, sê die artikel poog om moontlike oorsake van die sterftes te identifiseer.

Volgens Bastos is daar nou berigte dat die sterftes aan gifstowwe wat natuurlik voorkom, toegeskryf kan word, maar is daar nog geen definitiewe antwoorde nie.

“Die sterftes in Botswana het groter gevolge omdat olifantbevolkings heterogeen is; sommige lande het baie, terwyl ander baie min het,” verduidelik dr. Shahan Azeem van die Universiteit van Veeartseny- en Dierkunde in Lahore, Pakistan.

Alhoewel die verlies van soveel olifante gering is in vergelyking met die totale aantal olifante in Botswana, wat na raming ongeveer 130 000 is, waarsku prof. Rudi van Aarde dat indien sterftes op die skaal elders voorkom dit ʼn olifantbevolking kan uitwis.

(Foto: Prof. Rudi van Aarde)

“Dit is omdat die getal olifante wesenlik verskil per streek, land en selfs in ’n land. Meer as 50% van Afrika-olifante kom in die Suider-Afrika-streek voor.” Van Aarde is ʼn emeritusprofessor en voorsitter van bewaringsekologie aan die departement dierkunde en entomologie aan die Universiteit van Pretoria.

Bastos verduidelik dat die olifantbevolking in die Krugerwildtuin ongeveer 20 000 is, terwyl daar ongeveer 600 olifante in die Addo Olifant Nasionale Park in die Oos-Kaap is. “’Sterftes op ʼn soortgelyke skaal sal in die [Kruger-] wildtuin ‘geabsorbeer’ kan word, maar sal verwoestende gevolge hê in Addo. Dit is daarom noodsaaklike dat die oorsaak van die huidige sterftes dringend geïdentifiseer word sodat bewaarders beter voorbereid is, aangesien dit die enigste manier is om soortgelyke verliese van vatbare olifante elders te voorkom. ”

In die artikel wys die span kenners daarop dat die olifante se ouderdom en geslag blykbaar geen invloed gehad het nie en dat van die olifante baie skielik dood is aangesien hulle vorentoe met hul tande in die grond geval het eerder as op hul sye.

(Foto: Prof. Rudi van Aarde)

Wat hierdie sterftes van vorige sterftes onderskei, is dat dit voorgekom het in ’n gebied wat deur olifante, mense en vee bewoon word, eerder as in ’n beskermde gebied, wat gelei het tot die aanvanklike bespiegeling dat direkte menslike optrede die oorsaak was. Karkasse van olifante is egter ongeskonde gevind, terwyl geen ander spesies geraak is nie, wat kwaadwillige vergiftiging en stropery onwaarskynlik maak.

Dit het gelei tot bespiegeling dat siekte, biovergiftiging van die omgewing of hongersnood dalk die rede was. Volgens die kenner is hongersnood ’n onwaarskynlike oorsaak, aangesien die noorde van Botswana laat in die seisoen swaar reën gekry het.

“Slegs nadat bydraende faktore tot die oorsaak van die massasterfte van olifante vasgestel is, sal dit duidelik word of dit ’n selfbeperkende, nie-besmette/besmette middel of ’n epidemie is,” het hulle gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Gifpyle?

Olifante kan afgemaai word agv kompetisie met veeboere. Gaan nie oor ivoor, maar water en voer.

Remlut ·

Is dit van die owerhede wat dalk nou wettige ivoor bekom om te verkoop ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.