Raaisel oor sportminister se Las Vegas-reis verdiep

Fikile Mbalula en Floyd "Money" Mayweather Foto: Fikile Mbalula, Twitter

Fikile Mbalula en Floyd “Money” Mayweather Foto: Fikile Mbalula, Twitter

Fikile Mbalula, minister van sport, is glo in ʼn leuen betrap oor sy terugkeerdatum van Las Vegas waar hy die bokswedstryd tussen Floyd “Money Mayweather en Manny “Pacman” Pacquaio bygewoon het, het Netwerk24 Saterdag berig.

Volgens ʼn ondersoek deur Beeld-koerant het die minister op die sosialemedia-webwerf Twitter oor sy terugkeerdatum gejok. Volgens die departement van binnelandse sake se ingangsbeheer was Mbalula op 6 Mei om 07:12 weer terug op Suid-Afrikaanse bodem en nie op 4 Mei, soos hy op Twitter aangevoer het nie.

Mbalula se uitlatings het gekom ná verslaggewers gevra het wie vir sy reis betaal het.

Hy het Saterdagaand, 2 Mei, die boksgeveg in Las Vegas, Amerika bygewoon.

Esethu Hasane, Mbalula se woordvoerder, het die volgende dag aan Beeld gesê dit was nie ʼn amptelike besoek nie. Hy het bygevoeg dit is nie nodig dat Mbalula vir verlof aansoek doen nie, omdat hy die Vrydag, op ʼn openbare vakansiedag, vertrek het en vroeg Maandagoggend teruggekeer het.

Mbalula het op 4 Mei op Twitter geskryf: “Sommige media vra wanneer land ek van Vegas. Ek is reeds hier. @eNCAnewsam ek is nie julle bokskrytverslaggewer van #FloydVSPacquiao nie.”

Maar Beeld het glo deur twee onafhanklike, betroubare bronne verneem dat Mbalula op 30 April vertrek en eers op Woensdag, 6 Mei, teruggekeer het. Hy het met Emirates Airlines via Dubai gevlieg. Indien die tydsverskil in berekening gebring word, sou hy in die vroeë oggendure van 5 Mei kon getwiet het.

Hasane wou nie kommentaar lewer oor die vermeende teenstrydigheid nie.

Dit is nog nie bekend of lyfwagte of ander persone Mbalula vergesel het en wie vir hulle betaal het nie. Buiten sy besoek aan Las Vegas, het Mbalula vanjaar reeds vier keer oorsee gereis. Dit sluit ʼn amptelike besoek aan Zürich in Switserland en ʼn besoek aan New York op versoek van NBA Africa in. Dit is nie duidelik of die ander twee besoeke amptelik of privaat was nie en Hasane wou ook nie hierop vrae beantwoord nie. Hy het gesê die laaste keer wat hy vrae van Media24 beantwoord het, is sy kommentaar verdraai. Hy het gesê hy verkies om nie op vrae te reageer nie.

Mbalua het verlede week gesê in ʼn antwoord op ʼn parlementêre vraag van die Vryheidsfront Plus het hy bevestig geen staatsgeld is vir sy reis gebruik nie. Hy het egter steeds versuim om te sê of ʼn borg daarvoor betaal het.

Beeld het vroeër berig die wapenhandelaar Ivor Ichikowitz het in 2014 vir ʼn gedeelte van Mayweather se reis na Suid-Afrika betaal, op versoek van Mbalula.

Mbalula se oorsese reise vanjaar:
21 tot 31 Januarie: Parys, Frankryk. Rede vir die besoek onbekend.
13 tot 18 Februarie: New York, op uitnodiging van NBA Africa om die jaarlikse NBA All-Star-naweek by te woon. Volgens sy kantoor is geen staatsgeld vir dié besoek aangewend nie. Mbalula het saam met die kletsrymer P Diddy, Mayweather en Metro FM-omroeper Tbo Touch gekuier.
28 Februarie tot 3 Maart: Londen, Engeland. Rede vir besoek onbekend.
8 – 10 April: ʼn Amptelike besoek om met die sokkerliggaam Fifa te vergader oor ʼn ondersoek oor Bafana Bafana se beweerde betrokkenheid by wedstrydknoeiery.

Bron: Leanne George, Erika Gibson, Netwerk24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gielie - Namibië ·

Where there’s smoke there’s fire. No doubt in my mind Mr Mbalula you used tax payers’ money. Corruption, lies and cheating are the ANC’s fame to claim.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.