Raaisel opgelos oor ‘treinspoor’ op Vishoek-strand

‘n Stuk geskiedenis lê ontbloot op Vishoek-strand (Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

Die raaisel is opgelos oor oorblyfsels op Vishoek-strand wat aanvanklik soos ʼn tydelike spoorlyn gelyk het wat in 1929 gebou is.

Stad Kaapstad sê dit is inderwaarheid die eerste strand-steunmuur wat in 1930 in Vishoek gebou is en vandeesweek vlugtig op die strand ontbloot is. Die lae strandvlakke het dié stuk geskiedenis, wat al meer as 90 jaar onder die sand begrawe lê, ontbloot.

Stad Kaapstad se kusbestuurspan het Maandagoggend gespook om die lyn oop te krap en te bepaal wat dit kan wees.

“Ons probeer nog die feite kry, want ons het aanvanklik vermoed dit is deel van ʼn tydelike spoorlyn wat in 1929 op die strand gebou is, toe die destydse regering besluit het om alle duine van dié deel van Vishoek-strand te verwyder,” sê Eddie Andrews, burgemeesterskomiteelid oor ruimtelike beplanning en omgewingsake.

Oorblyfsels van wat oorspronklik as ʼn treinspoor uit 1929 beskou is (Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

“Sedertdien het ons egter bepaal dat dit waarskynlik ʼn stuk oorblyfsel is van die eerste strand-steunmuur wat in 1930 op Vishoek-strand opgerig is. Die steunmuur is met dwarslêers van die spoorweglyn gebou en is met spoorlynkomponente aanmekaar gesit – daarom die verwarring dat dit moontlik ʼn spoorlyn kon wees.”

Die oorblyfsel is al langer as 90 jaar versteek onder die sand, maar is Maandag vlugtig ontbloot.

In hierdie stadium is Stad Kaapstad nie van plan om dit te verwyder nie. “Die lae strandvlakke het die steunmuur ontbloot. Ons glo dit is ʼn tydelike situasie totdat die kusprosesse dit mettertyd weer sal bedek. Ons hoef nie enige stappe te doen nie. Die natuurlike proses sal self ontvou.”

Indien dit ontbloot bly sal Stad Kaapstad wel oorweeg om dit te verwyder, maar na verwagting sal die strandvlakke herstel en die steunmuur weer begrawe.

Die oorspronklike verwarring met die spoorlyn spruit uit die boek, A History of Fish Hoek, 1818 to 1968, geskryf deur Eric Rosenthal en in 1968 gepubliseer deur die Vishoek-handelskamer. Rosenthal verwys na pogings in 1929 deur die destydse departement van spoorweë om die duine by Vishoek te verwyder en die sand by Kaapstad-hawe af te laai.

Stad Kaapstad het bepaal dit is waarskynlik eerder ʼn steunmuur wat in 1930 gebou is (te sien in die foto) (Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

Daar is dus aanvanklik gedink dat die lyn moontlik verbind kan word met die regering se besluit om die sandduine by Vishoek te beheer. Rosenthal verduidelik in besonderede hoe die besluit tot ʼn dispuut onder inwoners gelei het en selfs ʼn plaaslike referendum is gehou oor die sandduine. Sommige het aangevoer dit is onooglik en versper die uitsig oor die see. Ander was besorg oor die impak wat die verwydering van die duine op die kusdorp sou wees.

Die dorpsraad het in 1930 die departement van spoorweë versoek om die duine te verwyder in ruil vir honderde pond.

Diegene wat ten gunste daarvan was dat die duine verwyder moet word, het die steunmuur opgerig en voorgestel dat bome en blomme aangeplant moet word. Teenstanders het dit as “vandalisme” beskryf en voorspel daar sal nooit ʼn tuin by die see aangelê kan word nie.

ʼn Referendum is in April 1930 gehou en die meerderheid het gestem dat die duine moet bly. Die owerhede is egter nie hierdeur afgeskrik nie en die spoorwegdepartement het teen Desember 1931 die laaste sandduine verwyder.

Die departement was ten gunste van die verwydering van die duine, omdat hulle aangevoer het hulle spandeer reeds meer as ʼn duisend pond per jaar om die treinspoor oop te grawe ná die suidooster sand op die spoor gewaai het.

“Ek dink wat ons ook kan leer uit dié vlugtige blik in die geskiedenis is dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Dis byna 100 jaar later, en sand op die treinspoor en paaie is nog steeds ʼn probleem, net soos teenstrydige menings oor hoe om in harmonie met die natuur saam te leef,” voeg Andrews by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jaco ·

Ja, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde, soos regstellende aksie en BEE wat eintlik maar net rassisme en apartheid is.

Mariana ·

Regerings wil soms baie swak deurdenkte besluite neem. Hoe sou Vishoek wees sonder sy natuurlike strand? Natuur sorg vir homself en die mens se hand bring gewoonlik meer skade as iets anders.

thejudge ·

Natuurlike strand? Die sandduine is tog mos uiteindelik verwyder.

Casper ·

“Die natuurlike proses sal self ontvou” hoekom word hierdie beleid nie gevolg t o v die St.Luciameer nie.Miljarde rand is al spandeer aan baggerbote om die sand uit die mond te verwyder net vir die natuur om dit weer toe te waai.Ek verstaan die rivier vloei nou van Mapelane se kant in die meer in en dit blyk dat die mond nog oop is.Dit is hoe die sisteem daar baie jare terug gewerk het tot die mens by die natuur ingemeng het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.