Die verkoolde liggaam van ʼn man wat Vrydag in ʼn uitgebrande motor in Roodepoort gevind is, is glo dié van die besturende direkteur van ʼn internasionale maatskappy.
Kapt. Walter Spencer, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn man se liggaam in ʼn uitgebrande motor gevind is, maar het gesê die identiteit van die man moet nog deur middel van DNS-toetse bevestig word.
Maroela Media weerhou die naam van die oorledene totdat sy identiteit bevestig is.
Volgens ʼn vriend van die familie, wat versoek het om anoniem te bly, is die motor twee blokke van die oorledene se huis gevind. Die vriend het gesê die oorledene is die dag omstreeks 08:15 by sy kantoor weg en het na Helderkruin gery. Sy voertuig het hierna in ʼn cul de sac tot stilstand gekom.
“ʼn Man van ʼn private woning in die cul de sac het gesien die motor het bietjie oor die randsteen gestaan maar nie onraad vermoed nie. Hy is toe in sy huis in. Sowat 15 minute later het hy ʼn harde geluid gehoor, maar was skrikkerig om by die voordeur uit te gaan om te gaan kyk wat aangaan. Dit is toe dat hy gesien het die motor is aan die brand”.
Die man het die brandweer en polisie ontbied.
Volgens die vriend was die oorledene se selfoon en skootrekenaar nog in die motor. “Sy horlosie wat meer as R100 000 werd is, was ook nog daar. Ons vermoed vuilspel.”
Spencer het Dinsdag gesê die forensiese dienste is steeds besig met hulle ondersoek. “Die liggaam is onherkenbaar verkool,” het hy gesê. Volgens Spencer word ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen.
Die oorledene laat sy vrou en drie kinders agter.
Genadige Vader. Wat nog. Dis asof die mafia is SA losgelaat is.
Die is baie verdagte omstandighede.
‘n Kar slaan nie self aan die brand nie.
Die ooggetuie behoort te kan getuig of daar meer as een persoon in die voertuig was.
Baie snaakse storie hierdie – hy het onherkenbaar verbrand, hulle weerhou sy naam tot identiteit bevestig is maar hy laat sy vrou en 3 kinders agter, Sterkte aan die familie.
Afstand beheerde plofstel.