Raaiselagtige verdwyning van atletiekman

Allen Barnes (Foto: Facebook)

Daar is steeds geen teken van Allen Barnes, ʼn direksielid van die Westelike Provinsie-atletiekvereniging, wat sedert Saterdag vermis word nie.

Barnes het sy huis in Edgemead omstreeks 03:30 verlaat om ʼn byeenkoms, wat hy gereël het, by die Strandfontein Pavilion te gaan bywoon. Hy het egter nooit daar opgedaag nie.

Elton Davids, verbonde aan die Kaapstadse Sportraad, het Maandag bevestig dat daar nog geen tyding – goed of sleg – oor Barnes was nie.

Volgens hom was daar sedert Barnes se verdwyning geen aktiwiteit op sy selfoonrekords of bankrekening nie en volgens beskikbare inligting is hy ook nie in ʼn hospitaal opgeneem nie.

“Alles is stil, baie vreemd,” het Davids vroeër in ʼn inskrywing op Facebook gesê.

Een van die boodskappe wat na Barnes se verdwyning op sosiale media gedeel is. (Skermgreep: Twitter)

Davids het gesê Barnes se vrou, Gail, word deur familie ondersteun en werk nou saam met die polisie om haar man te probeer opspoor.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê die Bothasig-polisie ondersoek Barnes se verdwyning. Daar was teen vanmiddag egter nog geen spoor van hom nie.

Barnes het ten tyde van sy verdwyning in ’n silwer Toyota Corolla met registrasienommer CA 453326 gery. Enigeen met inligting oor waar Barnes hom moontlik bevind kan die polisie se Stop Misdaad-nommer bel by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.