Raaiselbeeld van skrootwerf gered

Die beeld is van ’n skrootwerf in die weste van Pretoria gered, maar waar dit vandaan kom, bly ’n raaisel. Foto: Facebook

Die beeld van ʼn Afrikanervrou wat verlede week op ʼn skrootwerf in Pretoria-Wes opgeduik het, word veilig agter slot en grendel by die Erfenisstigting bewaar totdat vasgestel kan word waar die beeld vandaan kom en of haar eienaar haar terug wil hê.

“Ons het Vrydag navraag per e-pos ontvang van iemand wat die beeld op die skrootwerf sien staan het en wou weet of ons daarin sou belangstel,” vertel Johan Nel, senior bestuurder van erfenishulpbronbestuur by die Erfenisstigting, waarvan die kantoor op die terrein van die Voortrekkermonument geleë is.

“Ek het na die skrootwerf in die weste van Pretoria gery om te gaan kyk. Ek het met die ouens gepraat en gevra dat hulle dit opsy hou en dit toe vanoggend gaan haal,” het hy Maandagmiddag aan Maroela Media gesê.

Die Erfenisstigting het wye reaksie op sy Facebook-inskrywing oor die sowat 1,7 m hoë beeld gekry van mense wat gedink het hulle onthou die beeld van sowat 30 tot 40 jaar gelede en van ander wat aangebied het om dit te gaan haal sodat dit behoue kan bly.

Johan Nel (regs) sê die beeld word by die Erfenisstigting op die terrein van die Voortrekkermonument bewaar tot hulle vasgestel het waar dit vandaan kom. Foto: Facebook

Nel sê hulle het geen benul waar die beeld vandaan kom of hoe dit op ʼn skrootwerf beland het nie. “Dit was deel van ʼn massa-aflewering en is dalk êrens langs die pad opgetel; daarom weet die mense by die skrootwerf niks meer van die beeld nie. Ons kan nie sê dis gesteel nie, want ons is nog besig met ons ondersoek.”

Sy is veilig toegesluit in die museumpakkamer.

Die Erfenisstigting probeer ook vasstel wat die doel daarvan was en of daar iewers in die land soortgelyke beelde is. Nel meen dit kon dalk ʼn proefstuk van ʼn amateurkunstenaar gewees het.

“Dit is van plaatmetaal gemaak wat geroes is, maar dit sê nie veel nie,” meen hy. “Dalk is dit doelbewus so gemaak en ʼn roesvoorkoms gegee of dalk het dit ʼn klompie jare lank êrens buite gestaan.”

Nel sê die Erfenisstigting wil eers sy ondersoek afhandel voor hy besluit wat om met dié seldsame vonds te maak. “Sy is veilig toegesluit in die museumpakkamer. As ons kan vasstel waar sy vandaan kom, sal ons kontak maak met haar eienaar en hoor of hulle haar terug wil hê as hulle nie vrywillig van haar afstand gedoen het nie.”

Wat hulle wel tot dusver met die hulp van dr. Jackie Grobler, afgetrede kultuurhistorikus van die Universiteit van Pretoria kon vasstel, is dat die kleredrag van die beeld tipies is van die laat 19de eeu en die vrou dus moontlik ’n figuur uit die Tweede Vryheidsoorlog voorstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nel ·

‘n Bedekte boodskap? Dalk is dit wat van ons erfenis/geskiedenis gedink word.

Johannes ·

Ek voel nogal soos hierdie beeld van die ‘n arme Boere vrou… alleen, verwaarloos, LEIERLOOS, rigtingloos, moedeloos, op ‘n ashoop, vervreemd van my eie land waarvoor my voorvaders met bloed en sweet betaal het, hierdie land wat my voorvaders op ‘n opregte, wettige manier bekom en opgebou het, uitverkoop en verraai deur linkse liberales wat met terroriste en kommuniste onderhandel het…

…waar gaan ons Boerevolk eindig? Gebeentes op ‘n ashoop? Vergete?

Of sal opstaan en terugveg soos net ons Boere kan?

Tienie ·

Johannes. Baie mooi gesê.

Jare gelede het ek op n brons borsbeeld afgekom in n skroot werf. Toe ek met die eienaar oor die beeld wou onderhandel het hy heel agresief geraak. Toe los ek dit maar.

Ek hoop dat hierdie Dame n veilige ek sal kry….

sus ·

Ek stem Johannes, dalk sal ‘n eenvoudige beeld van ‘n boerevrou, ons volk wakker maak

Arthur ·

Die skrootwerf moet voldoen aan wetgewing o.a Die Wet op Tweedehandse goedere wat vereis dat die besonderhede van die verkoper in hul voorgeskrewe register aangeteken moet word.
Spoor dus die verkoper op wat dan kan verduidelik waar hy/sy die beeld gekry het

Amelia ·

Begin soek by konsentrasiekampe. Soos bv die een by die Pond. (Norvalspond) Ek glo by konsentrasiekampe en begrafplase sal jul dalk haar plekkie kry.

Pieter ·

Hierdie beeld en ander beelde het lank op Unisa se hoofkampus agter die RR Maluleke-gebou gestaan. Ek het ook daaroor gewonder. Ek is toe ingelig dat dit deel van een of ander erfenisuitstalling by Fonteine (Groenkloof) was.

Pieter ·

Hierdie beeld en ander beelde het vroeer agter die RR Maluleke gebou op Unisa se hoofkampus gestaan. Ek het toe ook daar gewonder. Volgens ‘n kollega was die beelde toe deel van ‘n erfenisuitstalling by Fonteine (Groenkloof).

Anoniem ·

Toe ek ‘n geruime tyd terug by UNISA was, het ek baie van die soort beelde agter een van die geboue sien lê. Dalk kom dit van daar af?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.