Raaiseldood by kleuterskool: ‘Nou kan ons berusting kry’

Gert Fourie jr. Foto: Facebook

Gert Fourie jr. Foto: Facebook

Gert Fourie, die drie maande oue babaseuntjie wat by ʼn kleuterskool in Springs dood is, se ouers het Donderdag gesê hulle kan nou berusting vind nadat hulle uitgevind het waaraan hul kind dood is.

Die patologieverslag van ʼn onafhanklike nadoodse ondersoek wat die ouers, Gert (20) en Monique (21) Fourie, na hul kind se dood laat doen het, toon aan dat hy ʼn wiegiedood gesterf het.

“Ons is nou rustiger, want ons weet dit was niemand se skuld dat hy dood is nie,” het Gert Donderdag aan Maroela Media gesê. “Soos ek verstaan is wiegiedood onkeerbaar en dit is onmiddellik. Gert het dus nie gely voor hy dood is nie. As hy verstik het, sou dit beteken het hy moes ʼn paar minute daar gelê het sonder suurstof, maar dit is nie wat gebeur het nie. So dit is maar hoe ons onsself probeer troos.”

Dit was verlede Maandag klein Gert se eerste dag by die kleuterskool en ook die eerste dag terug by die werk vir Monique ná haar kraamverlof. Monique gee by dieselfde kleuterskool klas. ʼn Onderwyser het Monique kom roep en gesê daar loop bloed by Gert se ore uit. Monique het gepoog om hom by te bring voordat sy hom na hul huisdokter se spreekkamer gehaas het. Hy was egter met hul aankoms reeds dood.

Volgens Gert het die staat ʼn nadoodse ondersoek gedoen, wat aangedui het dat die oorsaak van dood “onbepaald en onnatuurlik” is. Hierdie verslag het ook getoon dat daar melk in die baba se longe was.

“Daar was geen melk of kos in Gert se longe of lugpype soos deur die staat se patologie- dienste aangevoer is nie,” het hy gesê. “Dus het die kind nie versmoor nie. Hoewel ons as ouers dit as ‘n moontlikheid vermoed het, aangesien die kind reeds koud by Monique aangekom het by haar klas, met melk wat by sy neus en mond uitgekom het en later die bloed ook, weet ons nou dit is weens die kunsmatige asemhaling wat hulle op hom toegepas het. Wanneer jy doodgaan ontspan die kleppies wat mens het om jou kos af te hou en dus kon die kos deurkom. Die bloed is moontlik deur die kunsmatige asemhaling veroorsaak deur aartjies wat in die neus ensovoorts gebars het.”

Volgens Gert is hulle ongelukkig omdat die staat se verslag valse inligting gegee het. “Ons sou jare moes wag vir ʼn antwoord en dalk nooit weer daarvan hoor nie. Wat van ouers wat nie ʼn tweede opinie kan bekostig nie? Moet hulle maar net met wat ook al hulle gehoor het saamleef?” het hy gevra.

“Ons het sy dood aanvaar, met spyt en baie hartseer. Niemand sou iets vir hom kon doen nie. Maar ons weet hy is nou veilig en ons is baie bly dat ons op die ou einde antwoorde kon kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eliza-beth ·

Voel so jammer vir die mense. Moet baie erg wees maar nou weet hulle minstens niemand was nalatig of die kindjie aangerand of iets leliks nie. Ek dink egter steeds daar MOET oral kameras wees by al sulke instansies en dit moet gereeld nagegaan word en ouers moet vrye toegang tot beeldmateriaal hê – net as voorsorg. Dalk moet hulle kyk ook na ‘n tipe alarmstelsel wat mens kry wat by ‘n baba se wiegie geplaas word en dit dan afgaan as die baba ophou asemhaal – ek weet mens kry so-iets juis agv wiegiedood. In so geval kan hulp gou verleen word. Ek hoop hulle kry vrede en aanvaarding. Sterkte aan die ouers en ander familie.

Yolanda Maritz ·

Ek is baie jammer om van babatjie te hoor. Dis baie hartseer. Ek bid vir jul. Baie sterkte!

antoinette ·

Ek stem saam met Elizabeth..kleuterskole moet verplig word om die stelsels te installeer om te kan funksioneer..veral die baba stelsel wat wiegie sterftes moontlik mag elimineer. Geslotebaan televisie van kardinale belang..fondse kan in gevorder word om dit te installeer wat gemoedsrus vir ouers en skool bied te alle tye!!!
Orals moet en word veiligheids prosedures in plek gestel en of verander…hierdie is myns insiens jou kosbaarste besitting….alles moontlik moet gedoen word om voorvalle te voorkom.

Beverley ·

Ek stel voor “sound and movement” monitors in sulke klein babas se bedtjies. Die monitor sal dadelik dit optel as die baba nie meer asem haal.

Wes ·

Eliza-beth. Daar is reeds vir etlike jare so ‘n produk op die mark. My seun in nou al amper 11 jaar oud. Met sy geboorte het ons die toestel vir hom gekry. Nie omdat hy direk in gevaar was van die tipe dood nie. Maar omdat ons dit oorweeg het en sekerheid wou he. Die toestel is ‘n vierkantige plastiek bord, seker so 15 cm by 15 cm. Die ding word dan onder die babetjie se matras geplaas en in die muur ingeprop. Die toestel dien as ‘n monitor ook, met ‘n draadlose onvanger waar jy in die huis is. As die kind vir ‘n bepaalde tyd nie asem haal nie. Dan gaan daar ‘n alarm af wat jou dan genoeg tyd gee om by die kind uit te kom en te probeer help. Die toestel is wel duur. Ek dink ons het daardie tyd +-R800 vir die ding betaal. Maar mens kan mos nie geld aan jou kind se lewe koppel nie. Miskien iets wat iemand aan die wetgewer kan voorle om moontlik wet te maak by die kleuterskole. As dit my kind is, sou ek self aanbied om die ding myself te koop.

Patricia Kriel ·

Ek is so dankbaar dat hierdie jong ouers uitgevind het waaraan hulle baba seuntjie dood is. My hart is saam met julle seer. Baie sterkte vir julle twee en ook vir die mamma wat reeds soveel dinge in haar kort lewe moes deurgaan.

Gerda J ·

So hartseer vir die ouers en familie van babatjie. Hoop mense het darm aan die kleuterskool en arme baba juffrou gedink ook. Hulle moes almal in n toestand gewees het. Dit was hul kollega se babatjie. Sterkte aan almal betrokke.

Annemarie Strydom ·

Ek dink elke ouer moet so n monitor saamstuur veral vir die eerste 3 maande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.