Raamwerk van staatskaping-ondersoek bekend gemaak

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Die langverwagte raamwerk van die geregtelike kommissie van ondersoek oor bewerings van staatskaping is Donderdag bekend gemaak.

Dit sluit ʼn ondersoek oor die Guptas en hul beweerde onbehoorlike invloed op pres. Jacob Zuma en sommige kabinetministers in.

Die ondersoek, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, sal ook bewerings van korrupsie ondersoek.

Volgens die opdrag wat Donderdag in die Staatskoerant gepubliseer is, moet die kommissie ondersoek instel na, bevindings maak, verslag doen oor en aanbevelings maak, met inagneming van die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor staatskaping, die Grondwet, toepaslike wetgewing, beleid en riglyne.

Die kommissie moet ondersoek instel:

– oor die mate waartoe en deur wie, pogings aangewend is deur enige vorm van aansporing of vir enige voordeel van watter aard ook al, om lede van die nasionale uitvoerende gesag (met inbegrip van adjunkministers) of enige ampsdraers van enige staatsentiteit of direkteure van die rade van staatsbeheerde ondernemings, te beïnvloed. Die kommissie moet in besonder die geloofwaardigheid van bewerings ondersoek dat voormalige adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, en Vytjie Mentor kabinetsposisies deur die Gupta-familie aangebied is;

– of die president enige rol gespeel het in die beweerde aanbod van kabinetsposisies aan Jonas en Mentor deur die Gupta-familie, soos beweer;

– of die aanstelling van enige lid van die nasionale uitvoerende gesag en/of ampsdraer aan die Gupta-familie of aan enige ander ongemagtigde persoon geopenbaar is voordat sodanige aanstellings formeel gemaak of bekendgemaak is, en indien wel,
of die president of enige ander lid van die nasionale uitvoerende gesag vir sodanige gedrag verantwoordelik is;

– of die president of enige lid van die huidige of voormalige lede van sy nasionale uitvoerende gesag (met inbegrip van adjunkministers) of enige openbare beampte of werknemer van enige staatsbeheerde ondernemings die Grondwet of enige toepaslike gedragskode of wetgewing oortree of geskend het deur die onwettige toekenning van tenders deur staatsbeheerde ondernemings of enige staatsorgaan te fasiliteer, tot voordeel van die Gupta-familie of enige ander familie, individu of korporatiewe entiteit wat besigheid met die regering of enige staatsorgaan doen;

– die aard en omvang van korrupsie, indien enige, in die toekenning van kontrakte, en tenders aan maatskappye, besigheidsentiteite of organisasies deur openbare entiteite wat kragtens Bylae 2 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999), soos gewysig, gelys is;

– of daar enige onreëlmatighede, onbehoorlike verryking, korrupsie of onbehoorlike beïnvloeding was by die toekenning van kontrakte, mynlisensies, regeringsadvertering in die New Age-koerant en enige ander regeringsdienste in die besigheidshandelinge van die Gupta-famille met staatsdepartemente en staatsbeheerde ondernemings;

– of enige lid van die nasionale uitvoerende gesag, met inbegrip van adjunkministers, onwettiglik of op ‘n korrupte of onbehoorlike wyse in die sluiting van die bankgeriewe vir Gupta-maatskappye, ingegryp het;

– of enige adviseurs in die ministerie van finansies sonder die nakoming van behoorlike prosedures aangestel is, en in besonder of, en soos beweer in die klagte aan die openbare beskermer, twee senior adviseurs wat deur minister Des van Rooyen by die nasionale tesourie aangestel is, aldus sonder die nakoming van behoorlike prosedures aangestel is;

– die aard en omvang van korrupsie, indien enige, by die toekenning van kontrakte en tenders aan maatskappye, besigheidsentiteite of organisasies deur staatsdepartemente, agentskappe en entiteite, en in besonder of enige lid van die nasionale uitvoerende gesag (met inbegrip van die president), openbare beampte, funksionaris of enige staatsorgaan die toekenning van tenders beïnvloed het ten einde hulself, hul families of entiteite waarby hulle ‘n persoonlike belang gehad het, te bevoordeel.

Die opdrag van die kommissie van ondersoek kan “van tyd tot tyd, aangevul, verander of gewysig word” en daar is ook opdrag gegee dat alle staatsorgane ten volle met die kommissie moet saamwerk.

Die kommissie moet sy verslag en aanbevelings binne 180 dae vanaf die aanvang die kommissie aan die president voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

zoom zoom ·

Die ondersoek gaan stil stil sterf soos die wapen ondersoek.

JV ·

Die verslag moet binne 180 aan die president voorgele word. Hoe dan as Zuma nog president is, hy word dan impliseer in die korrupte sake ? Dan gaan dan niks van dit kom nie.

Ja-nee ·

Ondersoek op ondersoek maar geen skuldiges nie… geen hoop vir Afrika nie sal altyd maar derdewereld bly

Basjan ·

Ek stem saam met bogemelde aanmerkings. Let wel: Die woord “opmerkings” word gebruik as jy iets positives our ‘n aangeleentheid te sê het. Die woord “aanmerkings” word gebruik as jy iets negatiefs te sê het.

Die hele oefening gaan egter vrugteloos wees as daar nie strafregtelike vervolgings uit dit gaan voortspruit nie.

Hennie ·

Hoekom word die onbehoorlike gebruik van staatsgeld nie ook ondersoek nie? En die onbehoorlike gebruik van staatspensioene? Wat van Zuma se agterstalling belasting? Wat van ander agterstallinge belastings soos die Zuma kaders wat beskerm was oor ‘n lang tyd?

Jacques Venter ·

Hopelik sal Zuma by die bekendmaking nie meer president van die land wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.