Radebe gedagvaar om in gelykheidshof te verskyn oor rasbesluit

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit het Jeff Radebe, voormalige minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, gedagvaar om in die gelykheidshof in Pretoria te verskyn nadat hy glo geweier het om ʼn lid van die vakbond aan te stel op grond van sy ras.

Solidariteit het gesê hy sal sy lid, landdros Martin Kroukamp, in die gelykheidshof verteenwoordig en aanvoer dat minister Radebe onbillik op grond van sy ras teen hom gediskrimineer het.

Volgens Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, volg die hofsaak nadat Radebe die aanbeveling van die Landdrostekommissie om Kroukamp aan te stel, geïgnoreer het op grond van Kroukamp se ras.

“Vir Solidariteit is die hart van die saak nie net die reg van landdros Kroukamp nie, maar die reg van Suid-Afrikaners op ʼn effektiewe regstelsel. Die kernpilaar van die Suid-Afrikaanse demokrasie is die regstaat en ons moet dit beskerm,” het Kruger gesê.

Kroukamp het hierna ʼn aansoek, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, gebring om vas te stel hoekom hy nie aangestel is nie. Volgens die inligting wat Solidariteit ontvang het, sê die Landdrostekommissie dat, in ag genome die prestasie van die onderhoudkandidate, die vereistes ten opsigte van geslag en ras vervat in artikel 174(2) van die Grondwet, die behoeftes van die kantoor en die behoeftes van die gemeenskap wat bedien word, Kroukamp as die enigste geskikte kandidaat aanbeveel word.

Volgens Kruger het minister Radebe die kommissie se aanbevelings geïgnoreer ten spyte daarvan dat Kroukamp deur die Landdrostekommissie as die beste en enigste kandidaat vir die pos van landdros in die Alberton-landdroshof aangewys is, en gesê dit sou nie transformasie bevorder nie. Hy het verder aangedui dat die vakante poste weer geadverteer moes word.

“Dit is die eerste keer dat Solidariteit ʼn minister dagvaar om sy besluit in die hof te verduidelik. In ons dagvaarding aan die minister versoek ons dat hy bewyse moet lewer om sy besluit ten opsigte van die nie-bevordering van landdros Kroukamp te staaf,” het Kruger gesê.

“Senior landdroste speel ’n belangrike rol in die funksionering van die laer howe en moet onder andere landdroste bystaan. Dit is dus noodsaaklik dat die posisies gevul word ten einde te verseker dat landdroshowe die nodige dienste aan die publiek kan lewer,” het Kruger gesê.

Die saak sal op 25 en 26 September aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

alet ·

Hy het nie tyd vir blanke mense nie dis waarom hy ook doen wat hy wil.Daar gaan n tyd kom wanneer hulle gaan besef hulle maak foute dan kan dit miskien te laat wees .Klae hom aan vir regte en mense skending n mens se naam is beter as sy on opgevoede op merkings.

Marco Pretorius ·

Groot onreg wat die blankes in die gesig staar. Ek hoop hier gaan streng opgetree word, alhoewel, as mens ook na Renate se sake kyk en hoe dit gesloer het, wonder ek darem of hier iets van gaan kom.

Maroela, ek dink nie dit is dagvaardiging nie, maar slegs dagvaarding.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.