Radebe: ‘Geen geheime’ oor Suid-Soedan-olieonderhandelings

Jeff Radebe, minister van energie, tydens die mediakonferensie. (Foto: Twitter via @Energy_ZA)

Jeff Radebe, minister van energie, het Donderdag gesê daar is geen geheimhouding oor onderhandelings tussen Suid-Afrika en Suid-Soedan rakende die aankoop van olie nie.

Radebe het na die Sunday Times gekap en gesê feitlik alles wat die koerant oor die onderhandelings met Suid-Soedan berig het, is foutief. Maroela Media het vroeër berig Radebe het vandag ʼn mediakonferensie in Pretoria gehou om die bewerings in die Sunday Times se beriggewing te weerlê.

Die Sunday Times het Sondag op sy voorblad berig dat Radebe betrokke is by geheime onderhandelings met Suid-Soedan vir Suid-Afrika om olie van daar af in te voer, dat alles nie pluis is met die projek nie, dat regulasies nie gevolg is nie, dat dit Radebe in die pekel kan laat beland, dat R20 miljoen reeds op die projek uitgegee is en dat die uiteindelike koste vir Suid-Afrika R1 miljard kan beloop.

Radebe het gesê die beriggewing is onwaar. Hy het aangevoer Suid-Afrika is deurentyd op soek na nuwe en finansieel voordeliger ooreenkomste om olie in te voer, aangesien die land van invoer afhanklik is vir olie.

Hy het uitgewys dat daar geen geheimhouding in dié verband is nie. Hy het trouens in September in die parlement aangekondig dat Suid-Afrika met onderhandelings begin het met spesifiek Suid-Soedan, Ekwatoriaal-Guinee, Angola en Nigerië om goedkoper olie te probeer kry sodat die plaaslike petrolprys kan daal.

Jeff Radebe, minister van energie, en die res van die paneel tydens die mediakonferensie. (Foto: Twitter via @Energy_ZA)

Die doelwit uit ʼn Suid-Afrikaanse perspektief is voorts om ʼn langtermynprys met Suid-Soedan te probeer onderhandel sodat die Suid-Afrikaanse petrolprys meer stabiel en voorspelbaar kan wees.

Radebe het voorts uitgewys dat sulke onderhandelings baie gekompliseerd, gespesialiseerd en streng gereguleerd is – spesifiek om duur foute te vermy.

Onder meer vereis die regulasies dat die departement van energie te alle tye die presidensie, die nasionale tesourie, die departement van internasionale samewerking en die Sentrale Energiefonds op die hoogte hou van vordering, hulle raadpleeg en in konsensus met hulle optree.

Radebe sê dit is nog deurgaans presies volgens die regulasies gedoen – alles te alle tye formeel en skriftelik. Hoe daar iets nie pluis kan wees nie, en waar die bewyse van beweerde geheimhouding is, is dus vir hom duister.

Suid-Afrika het trouens in die openbaar ʼn formele ministeriële ooreenkoms oor die kwessie met Suid-Soedan onderteken. Dit sou onmoontlik kon gebeur sonder die inset, kennis en onderskrywing van die presidensie en die departement van internasionale betrekkinge.

Volgens Radebe is een van die maniere waarop Suid-Afrika ʼn goedkoper olieprys met Suid-Soedan wil onderhandel, dat Suid-Afrika kan aanbied om ʼn bykomende oliepypleiding vir Suid-Soedan te help bou. Tans moet Suid-Soedan, wat nie ʼn kuslyn het nie, al sy olie uitvoer deur ʼn enkele pypleiding wat loop deur die land se buurstaat, Soedan, met wie Suid-Soedan ʼn plofbare verhouding het.

Volgens Radebe is die enigste manier waarop R1 miljard ter sprake kan kom miskien as so ʼn projek se koste ingevoeg word, maar om dit te opper is tans uiters misleidend, want daar is geen aanduiding van wie almal by die finansiering betrokke kan raak nie. As voorbeeld is drie van Suid-Afrika se hegste internasionale politieke bondgenote, te wete Indië, Rusland en China, reeds betrokke by hulp en advies aan Suid-Soedan betreffende die meer doeltreffende bestuur van die land se oliebedryf.

Jeff Radebe, minister van energie, en die res van die paneel tydens die mediakonferensie. (Foto: Twitter via @Energy_ZA)

Radebe het uitgewys dat Suid-Afrika ʼn baie goeie kans het om wel ʼn voordelige ooreenkoms vir goedkoper olie met Suid-Soedan te sluit danksy Suid-Afrika se spesiale en spesifiek hegte verhouding met die olieryke Suid-Soedan.

Suid-Soedan het naamlik eers in 2011 ʼn eie staat geword, onafhanklik van Soedan. Suid-Afrika het ʼn groot rol gespeel om Suid-Soedan se topleiers in die staatsdiens op te lei, om die land se televisie- en radiodiens te vestig en algemene raad aan die land te gee, met oudpres. Thabo Mbeki wat jare lank ná sy uittrede semi-permanent daar gevestig was. Toe pres. Cyril Ramaphosa nog adjunkpresident was, het hy die rol oorgeneem en tans is adj.pres. David Mabuza spesifiek daarmee belas.

Radebe het ook uitgewys dat alle koste in verband met die projek presies volgens regulasie en met die spesifieke instemming van die nasionale tesourie aangegaan word. Die algehele koste, waaronder die betaling van ses deskundiges, reis en verblyf in Suid-Soedan, ander personeelkoste van die projek en alle ander bedrae wat uitgegee is, beloop volgens Radebe tans altesaam sowat R2,2 miljoen – nie R20 miljoen soos die Sunday Times berig het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan ·

Ek wonder of die “verkenningstog” se koste wel nét R2, 2 miljoen was. Sommige amptenare het nog altyd gesukkel met berekening….

Neels ·

Ne uitgevang nou moet julle planne maak om julle self te verontskuldig . Puik werk deur die media. As daar nie daar oor berig was nie sou julle in die geheim voort gegaan het met hulle konkel werk op die bekasting betaler s koste en vir julle eie sakke. Bly daar is media wat nie n blinde oog draai nie

Gert van Wierdapark ·

Stem saam – die rokie sal fyn dopgehou moet word want waar groot geld betrokke is/gemaak kan word, is enigeiets moontlik. Wonder nogal of hy ook ‘n seun het wat in besigheid is soos CR en JZ s’ ? Wie het nou weer ons brandstofreserwes so goedkoop verkwansel en SA gesaboteur – ongeag dit, loop sy nog vry rond!?

Gert Marais ·

Dankie Jan-Jan, ek kon hierdie al verskeie kere onderaan jou artikels geplaas het, ek dink ek het een keer. Ek lees jou van Rapport se dae af, ken ‘n mens in jou vriendekring, van daai tyd af, maar dat jy hier waar jy nou is baie na die tafel toe bring is gewis so. Ek het idee Rapport/Beeld en jou vorige werk by die engelse koerant mis jou kundigheid/vaardigheid en deursettingsvermoë.

Freud ·

Wat is jou cut uit die deal Jeff?
Self’s na 2.2miljoen kan jy steeds niks wys nie. Dit is al weer die bedrag van n hele klompie ekonomiese huise vir die armes van die land. Dog maar net ek sê jou.

Jerry ·

Die geheim is uit en daarom is daar nou geen geheimhouding meer daaroor nie. Radebe moes voordat die koerant dit uitgevind het hierdie mediakonferensie gehou het. Om nou na die koerantberig die beans te spil en af te maak asof dit nooit n geheim was nie is tipies die ANC wanneer hulle uitgevang word. Die enigste hoogtepunt vir die ANC is dat wantroue teenoor die ANC op n ongekende hoogtepunt is. Geen, maar geen kader is te vertrou deur teenrevolusionere Suid Afrikaners.

Stripes ·

Verbeel ek my of was daar nie iets soortgelyk met Nigerië “onderhandel” so ‘n paar jaar terug nie?

Jerry ·

Wat joernaliste bevestig moet kry om te bewys dat dit wel in geheimhouding plaasgevind het, is wat die sekerheidsklassifikasie van die projek was voordat dit uitgelek het. Sou dit as “Top Secret of Secret” geklassifiseer wees, dan bewys dit dat Radebe weereens deur sy tande lieg! Alle staatsprojekte wat in geheimhouding plaasvind word as “Top Secret of Secret” geklassifiseer en wat hierdie projek n uitsondering op die reel maak as nie n geheim nie is omrede dit uitgelek het en beteken dat daar wel weer ongeruimdhede by betrokke gaan wees soos bv. “kickbacks” vir verdere ANC elite verryking! Wat mense moet begin besef is dat wanbestuur en selfverryking volgens ANC ideologie gesien word as revolusionere oorwinnings omrede dit die ideologiese strategie is om alle koloniale strukture te vernietig en te vervang met revolusionere strukture! Die dade van die ANC/EFF wat ons as misdadig beskou word deur die ANC/EFF as revolusionere oorwinnings beskou, selfs al lei dit tot suksesvolle vervolging! Ek weet dat dit vir gewone mense nie sin maak dat wat volgens ons denke reg is, die ANC presies die teenoorgestelde daarvan in die geheim implementeer. Dit is ongelukkig hoe dit is ten einde ons manier van denke te omseil en uiteindelik te vernietig. Indien ons leiers van die opposisiepartye hierdie konsep verstaan het, dan sou die ANC hulle nooit om die bos kon lei nie. Soos Steve altyd se, dis hoe dit is! Soos ek altyd se, dit is nooit te laat om wakker te skrik nie!

Martin ·

Nog n “weet nie wat” wat sy President override met ander bevele net omdat hy nie saam stem nie. Dog die dinge word onder mekaar bespreek. Lyk nie so nie, elkeen glo soos hy wil, doen soos hy wil. Geen wonder die parlement kan nie funksoneer nie.

Joshua ·

Met wie se geld, Radebe- Staats pensioene waarvan al miljarde verloor is?

Attie. ·

Ek is een van dié wat 25 jaar terug gese het SA is soos ‘n skip wat volstoom seil met ‘n gebreekte roer. Een of ander tyd gaan die skip op die rotse loop. Die Here is egter in beheer en nou na 25 jaar is ek steeds effe oorgewig en voorspel ons weereens dat binne 5 jaar die skip op die rotse gaan loop. Kom ons dank God dat Hy in beheer is en niks sal gebeur waarvan Hy nie weet nie. Dankie Here Jesus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.