Radebe gooi wal oor SA betrokkenheid by Suid-Soedannese raffinadery

Jeff Radebe. Foto: GCIS

Minister van energie Jeff Radebe sê sy planne vir moontlike Suid-Afrikaanse betrokkenheid by ʼn olieonderneming in Suid-Soedan is eerlik en gemik daarop om toegang tot goedkoper ruolie te verseker en die plaaslike brandstofprys te beteuel.

Radebe het die media vanoggend tydens ʼn konferensie in Pretoria toegespreek.

“As regering wil ons op ʼn punt uitkom waar ons prys van brandstof gunstig vergelyk met dié van olieproduserende lande,” het die minister gesê, vier dae ná die Sunday Times beweer het hy is besig met ongemagtigde besteding in sy najaging van ʼn twyfelagtige olie-ooreenkoms met die oorloggeplunderde Suid-Soedan.

Radebe het gesê dié oogmerk het ook gelei tot gesprekke met die ministers van energie van Nigerië, Ekwatoriaal-Guinee en Botswana.

“Suid-Soedan is ʼn noemenswaardige olieprodusent met geraamde reserwes van 3,5 miljard vaatjies ruolie. Dit het ook drie biljoen (“trillion”) kubieke voet natuurlike gas in sy geraamde reserwes. Die land se reserwes is die derde grootste op die Afrika-vasteland, naas Nigerië en Angola,” het Radebe gesê.

Suid-Soedan word deur ander lande omring en maak staat op ʼn pypleiding deur Soedan om sy olie na die mark te neem. Die gesamentlike beleggingsprojek tussen Suid-Afrika en Suid-Soedan soek dus na ʼn ekstra uitvoerroete wat olievoorraad na markte, ook Suid-Afrika, kan neem.

Die projek is verlede jaar van stapel gestuur ná ʼn uitnodiging van Suid-Soedan om deel te neem aan sy olie- en gasbedryf en Radebe is gemagtig om ʼn memorandum van verstandhouding namens die regering te onderteken.

Radebe het gesê die gesamentlike projek maak voorsiening vir ʼn ontginningsblok, gevolg deur ʼn pypleiding, nuwe raffinadery en uiteindelik ʼn nuwe olieterminaal.

“Dit sal Suid-Soedan se reserwes ontsluit en hom toelaat om selfonderhoudend te wees. Dit sal ook streeksmarkte bedien en waarde – finansieel en strategies – vir Suid-Soedan en Suid-Afrika toevoeg,” het Radebe gesê.

“Hierdie projek is nie net vir Suid-Soedan nie, maar vir die Oos-Afrika-streek wat insluit Ethiopië, Tanzanië, Uganda en Kenia, terwyl Soedan ʼn lewendige mark skep wat handel- en ander beleggingsmoontlikhede fasiliteer.”

Radebe het gesê die bewering in die Sunday Times dat twee ander lande wat ook na die lewensvatbaarheid van die projek in Suid-Soedan gekyk en besluit het dit is nie die moeite werd nie, weerlê word deur die vlak van belangstelling van ander lande.

“Uit vyf Brics-lande is drie groot rolspelers in die petroleumbedryf (Rusland, China en Indië) reeds in Suid-Soedan,” het hy gesê.

Die Sunday Times het berig Radebe het glo al meer as R20 miljoen aan die beoogde ooreenkoms bestee, onder meer vir die huur van ʼn privaat straler. Die koste van die projek word geraam op US$1 miljard (sowat R14,6 miljard).

Die minister het in reaksie gesê daar is nog nie meer as R2,2 miljoen aan die projek bestee nie en dit sluit reis- en personeelkoste in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

B ·

Maklik – skaf al die belastings en heffings af wat die prys so opjaag!

Vryheid ·

Stem saam met B. Die groot probleem is heffings, belasting en swak Rand.

Frans ·

R2.2 miljoen gespandeer NET op reis en verblyfkostes? Gevlieg met privaat straler! Het julle in die beste hotelle gebly en 6 gang maaltye geniet? Lekker vakansie van R2.2 m, terwyl feitlike en getekende onderhandelinge nog nie op skrif is nie. Moet seker weer en weer gaan todat iets geteken kan word, al is dit ook net ‘n dankie sê kaartjie vir al die besoeke en belangstelling. Wens ek kon met my karige belastinggeld ook sulke vakansies beleef, maar julle gebruik ons belastinggeld vir ultra-luuks reise en verblyf. Dit is SA se metode van uitgerekte onderhandelinge todat geld weer aangevra moet word om onderhandelinge te “bespoedig”.

Sirkus ·

Dit is seker waar Eskom se olie/diesel van 10 dae terug af gekom het, en wie gaan vir dit betaal? Krisis bestuur !!

marous ·

Waar is sasol se steenkool heen ,wat die hele blapfrika van brandstof sou voorsien ou grote ? Na jul sjinese vriendjies …

Jerry ·

Alle ANC kaders moet mbt n vergelyking met Zuma, met agterdog bejeen word. Hulle oggend en aand praatjies stem nooit ooreen nie en alles wat hulle doen en se is slegs tot finansiele voordeel van die elite en revolusionere strukture. Die res van SA word doodeenvoudig doelbewus mislei en uitgesluit.

Johan ·

Wat het geword van ons groot oliefonds wat onlangs aangekondig is? Dit sal mos ‘n beter belegging wees?

Antjie ·

Gmf! Asof hulle ons ru-olie in die Noordsee aangekoop het! Waar is al die geld heen wat voorheen by Iran, Angola en Nigerië gespaar is? G’n wonder daar is geld vir sulke beleggings nie! Nóg ʼn plek waar Jan Publiek gemelk gaan word en daaroor mislei word…

Neels ·

Wil in Suid Soedan se olie en gas bele. Hoe groot gaan sy en ander kaders se kick back wees, net om te help vir n pyp lyn en terminaal wat in elkgeval deur hulle oosterse vriende besig is om gebou te word . Hier gaan geld soos SA se reserwes verdwyn het en kaders in luukshede leef. Hoekom geheim hou en vir vier dae onteykend weed asdaar niks weggedteek word nie

ne ·

Dankie aan joernaliste wat wakker is. Hoop anc word ook wakker.

wraggies ·

Minister en “eerlik” hoort nie in dieselfde sin as dit by die korrupte ANC regering kom nie.

George in Bloem ·

“Plaaslike brandstofprys beteuel?”Hahahaha ou grapgat. Dis seker hoekom die pryse reeds more opgaan.Hierdie narre dink almal is so dom soos hulle. Patetiese spul.

Stripes ·

Hulle het laas dieselfde verskoning gehad om by Egipte in die see te boor en toe is al vier gate droog. Nou wil hulle pyplyn lê en terminaal bou sodat Somalië maar net die skepe kan kaap en lospryse ys, dis nou as die pyplyn nie opgeblaas word of vol onwettige gate geboor is om so bietjie te tap nie. Geldmors storie die as jy my vra. Honderde miljoene gaan weer gerieflik in iemand se sak beland. Dit is nou behalwe die bribes wat Soedan gaan betaal om die pyplyn en terminaal te kry.

Stripes ·

Nou weet ek nie. As ek kyk na al die lande wat genoem is in die skrywe wil dit voorkom asof ‘n pyplyn van oos-afrika na wes-afrika gebou gaan word en wat dan gaan afkom na Botswana en daarvandaan seker na Petrosa toe. Blikskottel, as dit die geval is, het die anc baie meer geld in reserwe as wat SA werd is. Aan wie het hulle SA verkoop?

Gert van Wierdapark ·

Die olie in die nuwe “Pipe Dream” is ‘n illusie wat nie werklikheidsgebonde is nie! Kul jul hier en kul jul daar, en siedaar, word nog ‘n haas uit houdini se hoed getrek! Maar…. Hoe meer haas, hoe minder spoed. He-he-he!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.