Radikale ekonomiese transformasie: Zuma probeer verduidelik; kenners reageer

Pres. Jacob Zuma tydens Donderdag se Vryheidsdagvieringe. Foto: Kopano Tlape/GCIS

As ʼn mens regtig wil verstaan wat radikale ekonomiese transformasie (RET) behels, sal jy jou Westerse ideologiese denkwyse van die ekonomie opsy moet skuif. Dit sal jou help om te verstaan dat die regerende party maklik teen die beste belange van die ekonomie én Suid-Afrikaners kan optree omdat dit deel is van ʼn diep vasgelegde ideologie binne die ANC.

Só meen dr. Frans Cronje, scenario-beplanner en hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings. “Moet asseblief nie geflous word deur die gedagte dat hierdie term nou eers die laaste paar maande ontstaan het nie. Enige iemand wat vertroud is met die ANC se 1960-model vir die Nasionale Demokratiese Revolusie, sal beslis nie verras wees oor wat RET behels nie. Dit is die kern van die ideologiese beleid wat die ANC dryf.”

Cronje het gesê hierdie ideologie is sosialisties en kommunisties van aard, wat beteken alle mag moet na die staat gesentraliseer word. Dit behels ook dat die staat beheer van die kapitalistiese ekonomie moet neem – en dit hoef nie noodwendig binne ʼn dag of twee gedoen te word nie. Hy meen ook die radikale populistiese uitsprake rondom RET kan die lede in die ANC wat tans in leierskapstryd gewikkel is, op takvlak binne die ANC bevorder.

President Jacob Zuma het Donderdag tydens ’n Vryheidsdagvieringgeleentheid in KwaZulu-Natal gepoog om te verduidelik wat presies RET behels nadat verskeie vrae oor die term ontstaan het.

In sy toespraak het hy gesê hoewel politieke vryheid al behaal is, ekonomiese vryheid nog talle Suid-Afrikaners ontwyk. “Laat ek herhaal: RET behels die fundamentele verandering in die struktuur, stelsels, instellings en patrone van die eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie ten gunste van alle Suid-Afrikaners, veral die armes, waarvan die meeste swart en vroulik is.”

Zuma het verwys na die hoë vlakke van ongelykheid wat steeds in die samelewing heers deur te sê wit huishoudings verdien steeds vyf keer meer as swart huishoudings. Hy het ook gesê regstellendeaksiebeleide en die Wet op Gelyke Indiensneming laat transformasie in die werksplek steeds te stadig plaasvind.

Verder het hy beloof die ANC sal alle instrumente tot die regerende party se beskikking gebruik om die kwessies rondom grondbesit en grondhervorming aan te spreek. Zuma het gesê grondonteiening sonder vergoeding is hoog op die party se agenda.

Ekonomiese en politieke ontleders meen hierdie uitsprake van Zuma het eintlik niks nuuts oor RET gesê nie.

Dr. Eugene Brink, politieke ontleder van Solidariteit, en Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het albei gesê dit is maklik om saam te stem met dit wat Zuma gesê het oor die verandering wat benodig word rondom armoede en werkloosheid. “Werkloses moet bemagtig word, maar dit is die einde van sy uitsprake oor RET wat my diep bekommerd maak en wat dan boonop ʼn rassekleur bykry,” het Roodt gesê.

“ʼn Mens kan met die doelwitte saamstem, maar die middele wat die ANC wil gebruik om armoede aan te spreek, die ekonomie te laat groei en werkloosheid te verminder is net nie haalbaar nie. Hulle gaan dit ongelukkig nie met groter sosialisme regkry nie en ek glo dít is wat RET kortliks behels,” het Brink gesê.

Roodt meen ʼn mens kan maar net kyk na wat met die land onder Zuma se administrasie gebeur het om af te lei wat RET sou beteken. “Mag is meer en meer gesentraliseer en sekere individue is geweldig verryk. Staatinstellings soos Eskom, SAL, Prasa en die Valke is onder Zuma heeltemal vernietig. Ek verwag dat ons meer van dieselfde kan verwag wat net nog meer ondergrawing en ondermyning sal beteken.

“RET klink vir my na groter sosialistiese kommunistiese beleidsrigtings. Dit is die herverdeling van bates en ja, vir ʼn paar maande of jare gaan dit dalk goed met dié wat dit ontvang het, maar daarna sit jy met dieselfde of groter probleme.

“Zuma kan maar net na Venezuela en Zimbabwe gaan kyk om te sien hoe goed hierdie soort beleidsrigting vir die ekonomie werk. Venezuela se winkelrakke is leeg en Zimbabwe se werkloosheidsyfer is bykans 90%,” het Adam Jacobs, ʼn onafhanklike ekonoom, gesê.

“Om die ekonomie weer aan die groei te kry gaan ons ʼn vryer ekonomie, vry markte en investering nodig hê. Ongelukkig gaan niemand in jou land wil investeer as jy hulle nooi om te belê, maar aan die anderkant dood belas en hulle eiendomsreg wil wegneem nie. Ook nie as die kans bestaan dat hulle maatskappy genasionaliseer gaan word of hulle sommer net in die algemeen sleggesê word in die media nie,” het Brink bygevoeg.

Cronje meen ʼn mens kan ook maar net na lande soos Zimbabwe en Venezuela gaan kyk om te sien hoe ʼn regering teen sy ekonomie optree. “Die ANC se grootste probleme en teenstand kom uit die nuwe jong swart middelklas – hulle lei die protesbewegings, is aktiviste en die opposisie. Daar is ʼn groot aanduiding dat jou vlak van onderwys en toegang tot werksgeleenthede bepaal of jy vir die ANC sal stem of nie.

“Dus kan dit polities ten gunste van die ANC wees om ʼn ekonomiese agterstand te bewerkstelling. Kyk maar na pres. Robert Mugabe – hy het gebaat uit sy land se agteruitgang.”

Hy meen die land sal nie iets soos die swak ekonomiese groei gebruik om ʼn nuwe vyand te skep waarteen die regerende party mense wat arm is kan “beskerm” nie. “Hulle sal aanvoer dat die armes hulle net meer mag moet gee om hulle finaal te bevry van die vyande soos ‘witmonopoliekapitaal’ en dan sal dit weer beter gaan.

“RET kom al verskeie dekades en ons weet wat dit behels: Die staat sal al meer inmeng met individue en ondernemings se ekonomiese besluite. Die enigste vraagstuk is hoe vinnig die ANC dit kan laat gebeur en waar hulle die klem sal laat lê, maar daar behoort geen twyfel te wees oor waarheen hulle met RET wil beweeg nie.”

Jacobs het gesê Suid-Afrikaners moet onthou dat ʼn individue of onderneming gelikwideer kan word, maar ʼn land kan nie bankrot speel nie. “Mense vra altyd wat sal gebeur as die Suid-Afrika net aanhou om swak ekonomiese en politiek beleide te volg? Wel, landsburgers sal net verder verarm onder die swak beleid en die werkloosheidsyfer sal beslis nie daal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Ekke ·

Aai aai!!! En die graad 3 leerling gaan jou waarlik probeer om dit deurtevoer!!! Wanneer gaan sy ogies oopgaan? Of is die Engelse spreekwoord dalk nie so ver verkeerd nie : there is non so blind as those who cant see!

Johann ·

En die bokwagter moet iets sinvol en logies kan verduidelik? Whahhahahh….net iammer dis ALS behalwe snaaks. Zuma en Zumaikies se dom astrante mags beheptheid en eie gewin ekonomiese vergrype is AL wat Radikaal is! Hoe meer hoe vinniger hulle kan stroot hoe betwr vir hulle.

AL ·

1960 se RET is uitgedien. Die Regering behoort te weet dat ander lande wie op kommunistiese en sosiale vlak getransformeer was, die lande op hul knieë gedwing het. Grace Mugabe wat nou onlangs 100 swart mense van hul plaas afgesit het omdat dit prima grond was wat sy wou byvoeg by haar wildsplaas.
Daar is soveel biljoene rande wat gesteel word by staatsinstellings in SA dat dit weereens bewys is dit is gevaarlik om nasionalisering en sentralisering in die hande vd regering te hou.

Justice ·

Dankie Este – jou berig behoort in Zulu vertaal te word en aan Zuma voorgelees word totdat elke tor in sy kop dit verstaan.

Cobus ·

Transformasie = vernietig
Dis eintlik wat bedoel word daarmee.

Andres ·

Ek merk op dat die liberalis Frans Cronje se oortuigings die afgelope paar maande radikaal verander het … het sy oë nou na al hierdie tyd oopgegaan?

John ·

Hierdie konsep is ongelukkig nie ‘n onskuldige Afrikakind se mooi droom vir die vooruitgang van sy arm bloedfamilie nie. Alle grootmense kan onderskei tussen reg en verkeerd. Om jouself te oortuig dat jy steel om vir ander wat minder het uit te deel is erg genoeg, maar om die storie te gebruik om jou eie sakke te vul is gruwelik verby en dan nog sulke armes aan te moedig om meer kinders te he met behulp van slinkse insentiewe is siek. Stories, bygelowe en magspeletjies skep ‘n groot arm bevolking en dan wil sosialisme en kommunisme kamma die antwoord bied op sulke dwaashede… wie flous die ANC? Ellende wag op SA.

Professor Erdvark ·

Suid-Afrika tans = South Africa Animal Farm Post 1994;
Skape = Massas arm, ongeskoolde werkloses wat die ANC met hul slagspreuke lojaal en blindelings volg en stemvee is;
Varke = Klein elite wat ANC en massas gebruik om South African Animal Farm Post 1994 te stroop;
Gemeenskaplike vyand of sondebok om aandag weg van selfverryking te lei = Wit Monopolistiese Kapitaal;
Varkelite se doelwitte = selfverryking van elite;
Metodologie = Slagspreuk en banier “Radikale Ekonomiese Transformasie”;
Rolmodelle = Kommunistiese lande;
Gevolge = Skape se toenemende werkloosheid en armoede. Sosiale onrus. Wiel draai.
Volgende sepie-episode = South Africa Animal Farm Post 2019.
Wat is nuut onder die son?

Oupa ·

Zuma probeer kommunisme verduidelik sonder om dit op die naam te noem.

Veritas ·

Al hierdie drome en leë beloftes is slegs ‘n poging om stemme te werf. Die ANC en veral die president besef dat die tyd aangebreek het om verlore skape terug te kry in die kraal en dit wat ons nou hoor is die laaste stuiptrekkings van ‘n vrekkende hond. Nie Jacob Zuma of die ANC wat hom so graag beskerm, gee ‘n flenter om vir die land en sy mense nie. Dit gaan oor selfverryking en enige middel heilig die doel. Hoe gouer ons van die ANC – bende ontslae kan raak hoe beter vir die land en al sy inwoners. Ongelukkig is dit nie so’n maklike taak nie.

Johannes Meintjes ·

Die probleem, na mening, was nog nooit die korrupsie van ander nie, maar die gebrek aan beter bedelings deur die wie van beter weet. Groepe in SA wie na selfbestuur en selfbeskikking kyk moet die prosesse, ook tot alternatiewe ekonomiese modelle en alliansies, bespoedig.

Corina ·

So is ons oppad om net nog vinniger soos Zimbabwe te word. Een vd dae kan hulle die grenspos en landsgrense verwyder dan is daar een groot kreperende land, Zimafrika

Johannes van Staden ·

Blabla bla bla …hoe deel jy uit as daar niks oor is en jy die ene is wat alles gesteel het …dis wat ek wil weet ? Kan nie meer na die sotlikheid luister nie !

Alida ·

Bokwagter verstaan self nie wat dit beteken nie en sal nooit besef dat hy besig is om sy eie mense te vernietig nie. Daar moet elke week optogte wees soos op 7 Apr tot die klei in sy ore uitval en hy kan hoor wat die volk vir hom se.VAT JOU GOED EN GAAN .

Vryheid ·

Die anc sal nie stop tot als soos in Zimbabwe tot n val gekom het nie. Hulle dink om almal te verarm bring dit n soort gelykheid aan almal. Die werklike vraag is gaan ons toelaat dat dit gebeur of gaan ons opstaan en dit stop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.