Radio-en-TV-aanbieder, AfriForum stig nuwe Kaapse burgerlike organisasie

Heindrich Wyngaard (Foto: Facebook)

Die prominente Afrikaanse joernalis en meningsvormer Heindrich Wyngaard en die burgerregte-organisasie AfriForum het aangekondig dat hulle saam met ander rolspelers ’n nuwe Kaapse burgerlike organisasie genaamd die Kaapse Forum gestig het.

Wyngaard sal van 4 April voltyds die pos as uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum beklee.

Die Kaapse Forum sal onder meer daarop fokus om gemeenskapselfstandigheid in Kaapse gemeenskappe te bevorder en groeiende federalisme in die Wes-Kaap en Kaapse gemeenskappe te help vestig.

“Daar is internasionaal voorbeelde van lande waar jy federale stelsels het en waar provinsies of gemeenskappe ʼn hele klomp van daardie funksies reeds onder hulle eie beheer het. So ʼn mens kyk daarna en hoe dit binne die Suid-Afrikaanse konteks moontlik gemaak kan word,” sê Wyngaard.

Die Kaapse Forum wil met die vestiging van sterk selfstandige gemeenskappe fokus op ’n selfhelp-ingesteldheid om onder meer armoede te help bekamp, gemeenskapsekonomieë uit te bou, veiligheid te verseker en goed funksionerende gemeenskappe daar te stel. Selfstandige gemeenskappe is volgens die Kaapse Forum die boustene om ’n gesonde demokratiese federale bestel van grondvlak af op te bou. Dié selfhelp-ingesteldheid word weerspieël in die Kaapse Forum se slagspreuk, “Plaas die Kaap se toekoms in Kaapse hande”.

“Jy kyk na die soort goed wat AfriForum reeds regkry in sekere gebiede en vra jouself hoe kan jy dit in een bepaalde provinsie meer gefokus begin toepas.

“As joernalis en meningsvormer skryf en praat ek oor spesifieke uitdagings soos ekonomiese en politieke kwessies in die Kaapse of bruin gemeenskappe en dit plaas my dan in ʼn unieke posisie – aangesien ek in voeling is met die behoeftes van daardie gemeenskappe.”

Volgens Wyngaard is die Kaapse Forum nie uitsluitlik ʼn bruin organisasie nie. “Ons is daar vir al die gemeenskappe van die Wes-Kaap met ʼn positiewe vooroordeel na die meerderheidsgemeenskap.

“Ek kom uit daardie gemeenskap en as joernalis en meningsvormer is ek bemoei met die lot, uitdagings en realiteit van daardie gemeenskappe, goed soos armoede en bendeprobleme, en sien ek die algemene moedeloosheid of hulpeloosheid. Daar moet iets gebeur – ʼn tipe regruk-revolusie en dit is wat die Kaapse Forum hoop om te doen.”

Met die bevordering van groeiende federalisme wil die Kaapse Forum toesien dat besluitnemingsmagte oor onder meer polisiëring, openbare vervoer, elektrisiteitsvoorsiening, water, visserye en die strafregstelsel van die nasionale regering afgewentel word na die Wes-Kaapse provinsie, munisipaliteite en plaaslike gemeenskappe. Belastingfederalisme, waar belastingbetalers se geld grootliks plaaslik aangewend word, sal ’n kerndeel van die Kaapse Forum se plan van aksie vorm.

“Die Kaapse Forum sal argumentshalwe ʼn fokusarea soos visserye hê aangesien dit spesifiek in die Wes-Kaap ʼn baie belangrike sektor is en ons gedurig sien dat bestaansvissers voel dat hulle nie regverdig behandel word met byvoorbeeld die toekenning van nuwer lisensies en kwotas nie,” sê Wyngaard.

Hy sien uit na sy rol om ’n positiewe verskil in gemeenskappe in die Wes-Kaap te help maak. “Om die Kaapse Forum te vestig as ’n organisasie met massa steun in die Wes-Kaapse gemeenskappe, sal die Kaapse Forum ruimte laat vir verskille deur respek en verdraagsaamheid te bevorder, maar gemeenskappe help om saam te werk deur te fokus op die gedeelde belange om self verantwoordelikheid te neem om hulle gemeenskappe en provinsie te versterk,” sê hy.

Kallie Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: Rozier van Tonder/OkayDeer.)

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê sy organisasie se betrokkenheid by die Kaapse Forum vloei voort uit AfriForum se uitgesproke doelwit om gesonde vennootskappe op ’n basis van wedersydse erkenning en respek tussen Afrikaners en die talle ander kultuurgemeenskappe in die land te help vestig.

“AfriForum het reeds vennootskappe met onder meer Zoeloe-, Barolong-, die AmaBhele en ander kultuurgemeenskappe gevestig. Die Kaapse Forum bied nou ook aan AfriForum die geleentheid om ’n hand van vriendskap na die bruin en ander Kaapse gemeenskappe uit te reik in ’n poging om daartoe by te dra dat die onderskeie gemeenskappe op ’n gelyke basis en met respek vir mekaar se menswaardigheid kan saamwerk om ’n beter hede en toekoms vir almal te help skep,” sê Kriel.

Die Kaapse Forum vervang volgens Kriel nie AfriForum in die Wes-Kaap nie, maar dié twee organisasies wat elk ʼn eie fokusterrein het, se aktiwiteite sal komplementerend wees tot mekaar. “Die Wes-Kaap is naas Gauteng die provinsie waar AfriForum die meeste aktiewe lede het.” AfriForum se strukture in die Wes-Kaap, asook AfriForum se nasionale takkongres, het die stigting van die Kaapse Forum eenparig ondersteun.

Die Kaapse Forum sal as onafhanklike maatskappy sonder winsoogmerk buite die partypolitiek funksioneer. Die name van die Kaapse Forum se direksielede en adviseurs, wat verskeie prominente persone insluit, asook die Kaapse Forum se eerste groot veldtogte sal binnekort aangekondig word.

Wyngaard, as uitvoerende voorsitter, sal saam met sy direksie die Kaapse Forum se strategiese rigting bepaal, terwyl AfriForum se administratiewe, bestuurs- en kommunikasiestelsels, asook AfriForum se regspan ingespan sal word om die Kaapse Forum te rugsteun totdat dié nuwe organisasie op sy eie bene kan staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christine ·

Wonderlik, dit is wat ons land gaan red, wanneer gemeenskappe na hulself begin omsien. Die regering kan en wil dit nie doen nie. Doen so voort, Afriforum.

Robert ·

Baie goeie inisiatief!!! Ek wens julle alle voorspoed toe!!

André ·

1 April by KKNK was toe wrintiewaar nie naastenby ‘n Aprilgrap nie en my facebookplasing ‘n onbedoelde voorloper van voorblaaie en hoofnuus op TV en radio. Op vanoggend se bespreking op Die Groot Ontbyt het daar ‘n effense sleptisisme oor onder andere “styl” deurgeskemer. Op die oog af opwindend en ek kan die projek net voorspoed toewens. Sal ook wag en sien. Wil net graag nou sê dat Solidariteit se onderwyskommentaar aangepas moet word om nie net ‘n paar skole “eksklusief” uit te lig nie, maar ook sogenaamde Bruingemeenskappe se kinders in te sluit.

Manie ·

Hou op om vir ander te wag om die voorbeeld te stel, doen self vir julself, dis al manier wat werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.