Radio hou baie jonges in SA ‘geselskap’

Talle jongmense luister steeds graag radio – veral in ‘n tyd van afsondering en inperking. (Foto: Unsplash)

Hulle voorgeslagte het dalk geen ander keuse gehad as om langs die draadloos te sit om op hoogte van gebeure te bly nie, maar Suid-Afrikaanse jong mense kies vandag steeds om radio te luister – al is dit dan ook deesdae op hul selfone.

Die Nasionale Vereniging van Uitsaaiers (NAB) sê volgens ʼn ondersoek van die uitsaainavorsingsraad van Suid-Afrika luister soveel as 95% jong mense tussen 15 en 24 wat aan ʼn meningspeiling daaroor deelgeneem het radio.

Altesaam 92% van hulle luister elke week radio en meer as 70% luister daagliks radio.

Bo-aan die lys van inhoud wat hulle verkies is nuus, gevolg deur debatte en besprekings. Redes waarom hulle radio luister sluit in omdat dit hulle op die hoogte van nuusgebeure hou en omdat hulle geselsprogramme geniet.

Die NAB sê die bevindings benadruk die voortgesette aantrekkingskrag van radio vir dié belangrike marksegment, ten spyte van mededinging van sosiale media.

Die vereniging sê dit is ook ʼn aanduiding van die belangrike rol wat uitsendings speel om jong mense te bemagtig deur die deel van inligting en opvoedkundige programme.

“Met Suid-Afrika wat sy derde Covid-19-vlaag ondervind was die krag van radio om in ʼn krisis tyd te onderrig en in te lig – asook in alledaagse lewe – nog nooit meer belangrik nie,” sê die NAB.

Dit is ʼn waardevolle bron van inligting vir jong mense wat beperkte of geen toegang tot aanlynonderrig het nie en onderwysers en leerders gebruik radio-uitsendings as belangrike hulpbronne om onderrig mee voort te sit.

Die drukgroep Section27 het vroeër gesê meer as tien kommersiële radiostasies het opvoedkundige materiaal deur die SABC uitgesaai, terwyl gemeenskapsradiostasies dieselfde doen. In die Oos-Kaap het meer as 20 gemeenskapsradiostasies self ook lesse vir leerders uitgesaai.

Behalwe dat dit ʼn alternatief vir kontakklasse is, of in die afwesigheid van toegang tot aanlyn onderrig gebruik word, bied radio jong luisteraars ʼn gevoel van betrokkenheid, veral in ʼn tyd wanneer sosiale afstand gehandhaaf word en inperkingsregulasies geld, sê die vereniging.

“Dit hou my geselskap,” was die grootste rede waarom jong luisteraars radio luister.

Hulle is volgens die opname 32% meer geneig om na die radio op hul selfone te luister, wat beteken hulle kan boonop enige tyd en enige plek inskakel.

“Die Covid-19-pandemie is een van die grootste ontwrigtings wat ons ooit sal ondervind,” sê Nadia Bulbulia, uitvoerende direkteur van die NAB.

“Terwyl Suid-Afrika hom tot aanlyn onderrig gewend het om voortgesette onderrig te verseker, is die harde werklikheid dat ʼn beduidende aantal leerders, veral in afgeleë gebiede, geen toegang tot ʼn tuisrekenaar of die internet het nie.

“Radio het gehelp om die digitale kloof in onderrig te oorbrug, veral vir die mees gemarginaliseerde leerders,” sê Bulbulia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

“Suid-Afrikaanse jong mense kies vandag steeds om radio te luister – al is dit dan ook deesdae op hul selfone.” Ja dit is so tot uiterste furstrasie van ander, want die oorfoon is in die oor en die “jeug” hoor en sien niks nie. Hul reageer nie as daar met hul gepraat word nie, en hul aandag is nie gevestig nie. Onskuldige mense boet vir hul wangedrag as gevolg van “Radio luister”.

Belinda ·

Wel die radio stasies het baie beter geword. Dis asof die omroepers nie meer so styf is nie. Is altyd lekker om in verkeer te sit en na lekker musiek, geselskap en kommentaar van ander luisteraars the hoor. Ek geniet natuurlik as hul “prank calls”maak… beur sommer mens se dag op!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.