Radio-omroeper borg geweier

Donald Sebolai tydens sy vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/SAPA

Donald Sebolai tydens sy vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die radio-omroeper wat daarvan beskuldig word dat hy sy vriendin vermoor het, is Woensdag in die Protea-landdroshof borg geweier.

Landdros Herman Badenhorst sê die feit dat Donald Sebolai vir nege dae op die vlug was, wys dat hy moontlik kan dros indien hy op borg vrygelaat word. Sebolai (37) word aangekla van die moord op sy vriendin Rachel Dolly Tshabalala.

Tshabalala is op 29 Junie in Soweto vermoor. Sebolai, ‘n radio-omroeper by Jozi FM, is op 8 Julie in hegtenis geneem. Die polisie het kort na die moord na Sebolai begin soek.

Konst. Oupa Khubeka, die ondersoekbeampte, het aan die hof gesê die wonde wat Tshabalala opgedoen het, was “afskuwelik”.

“Sy is in haar private dele met ‘n mes gesteek. Die steekwonde was van haar private dele tot by haar regterbobeen. Dit was diep wonde en wys die hoeveelheid geweld wat plaasgevind het.”

Khubeka sê Tshabalala is in ‘n plas bloed aangetref in ‘n bed. Hy sê die bloed is van die vloere af opgevee.

Sebolai het vroeër ontken dat hy Tshabalala met die mes gesteek het. Hy sê hulle was in ‘n argument betrokke.

“Sy het die mes gegryp en my probeer steek. Ek het dit probeer blok…ons was in ‘n staande posisie. Sy is met die mes gesteek terwyl ons daaroor gestry het.”

Die saak is tot 13 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.