Radio-omroeper geskors oor twiets

JJ Tabane (Foto: JJ Tabane, Twitter)

Die radiostasie Power FM het Woensdag bevestig een van sy gewilde omroepers, Onkgopotse JJ Tabane, is geskors oor plasings wat hy op Twitter gemaak het.

Tabane is geskors en na bewering reeds verlede week Donderdag van die lug verwyder oor sy plasings oor verdoemende getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping deur waarnemende staatswoordvoerder Phumla Williams teen voormalige minister Faith Muthambi.

Tabane het op Twitter op Williams se getuienis reageer oor Muthambi se “skrikbewind” en “marteling” by die departement van regeringskommunikasie en inligtingstelsels (GCIS). Hy het geskryf: “Faith Muthambi … dit is ʼn rillerverhaal.” Veteraan-beeldpoetser vir verskeie van die ANC se mediaveldtogte, Chris Vick, het hierop reageer en gesê Tabane het op sy louere gerus tydens Muthambi se beweerde roekeloosheid.

Vick het verlede week, tydens ʼn radio-onderhoud, die omroeper daarvan beskuldig dat hy niks gedoen het terwyl bestuurders, soos Williams, onderwerp is aan die voormalige minister se “skrikbewind by GCIS” nie.

Tabane se maatskappy is deur Muthambi aangestel om ʼn verbeterde kommunikasiestrategie vir die regering op te stel. Vick het gesê hy was deel van die span en het bedank, omdat hy gesukkel het om onder Muthambi te werk.

Tabane het sy werk verdedig en aan Vick gesê hy het net gedoen wat hy gehuur was om te doen en was trots op die strategie waarmee hy vorendag gekom het, en dat hy nie bewus was van Muthambi se “marteling” van GCIS-personeellede nie.

Tabane, ook ʼn omroeper op SABC, het die dag, voor hy van die lug verwyder is, op Twitter geskryf: “Jammer aan Phumla Williams dat ek aandadig was in jou verdrukking deur Faith Muthambi. Ek is jammer oor enige rol wat ek gespeel het. Ek is gereed om voor [staatskapingkommissie-voorsitter Raymond] Zondo te verskyn om te getuig.”

Hy het ook sy verskoning aan Williams op sy radioprogram herhaal.

Power FM het gesê Tabane se skorsing is tydelik en hy het ʼn geleentheid gehad om die gerugte te verduidelik wat hom verbind met “beweerde onbehoorlike gedrag wat spruit uit sy verbintenis met voormalige minister Faith Muthambi”.

“Mnr. JJ Tabane het die stasiebestuurder verseker dat hy alle feite, wat met die saak verband hou, openbaar gemaak het. Op Woensdag 5 September, sonder enige waarskuwing of goedkeuring van die stasiebestuurder, programbestuurder en uitvoerende regisseur, het mnr. JJ Tabane egter van die programformaat afgewyk en die inleiding tot sy program gebruik vir persoonlike sake, met ʼn verskoning aan me Phumla Williams vir sy eie gedrag, wat hy toegeskryf het aan sy ambisie en belange en dié van minister Faith Muthambi,” het die stasie Woensdag in ʼn verklaring gesê.

“Power 98.7 beskou mnr. JJ Tabane se versuim om die bekentenisse te maak en die gebruik van die program vir persoonlike doeleindes, in ʼn ernstige lig. In die lig van dié gebeure het Power 98.7 dit goedgedink om mnr. JJ Tabane te skors terwyl die impak van sy gedrag oorweeg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Whatever ·

Die omroepers dink hulle kan se wat hulle wil, net hulle het vryheid van spraak, so quite frankly my dear, I don’t give a damn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.