Radio-omroeper sê jammer ná omstrede rubriek

Sherlin Barends (Foto: Facebook)

Die KFM radio-omroeper Sherlin Barends het op sosiale media om verskoning gevra vir ʼn rubriek waarin sy gesê het sy is bly dat die Olimpiese atleet Wayde van Niekerk met ʼn bruin vrou getrou het en nié met ʼn wit vrou soos die krieketspeler JP Duminy, die Springbok Siya Kolisi en die sanger en televisiepersoonlikheid Emo Adams nie.

Barends se rubriek is verlede week in die Weekend Argus gepubliseer. Sy het in dié rubriek gesê dit is “merkwaardig” dat Van Niekerk met ʼn bruin vrou getrou het aangesien daar nie genoeg voorbeelde van dié huwelike en verhoudings is om “na op te sien” nie.

Sy het gesê in dié gemeenskap is afwesige pa’s en gevegte om onderhoud vir kinders algemeen, en dit is daarom verfrissend wanneer daar ʼn bruin paartjie is wat ʼn voorbeeld stel.

“Dit is belangrik vir jong bruin seuns en meisies om groot te word met voorbeelde van hoe liefde tussen twee bruin persone lyk – in hul huise, gemeenskappe en in die openbaar,” het sy geskryf.

Sy het vinger gewys na onder meer Duminy, Kolisi en Adams. “Wat het [dié bekendes] gemeen? Buiten die feit dat hulle talentvol is in hulle beroepe, is hulle of was hulle almal getroud met wit vroue. In Suid-Afrika is daar baie voorbeelde hiervan,” het sy geskryf. “Om duidelik te wees: ek praat nie van veelrassige verhoudings nie, maar spesifiek van bruin of swart openbare figure (mans en vroue) wat met wit persone in ʼn verhouding is.”

JP en Sue Duminy en hul dogtertjie (Foto: Instagram)

Die aanvanklike titel vir haar rubriek het gelui: “Dankie tog Wayde van Niekerk het besluit om nie ‘op’ te trou nie”. Dié titel is intussen verander na: “Wayde en Chesney ʼn skitterende voorbeeld van positiewe bruin verhouding”.

Duminy se vrou, Sue, het in reaksie op dié rubriek op ʼn amptelike verskoning aangedring. Sy het gesê die rubriek is “aanstootlik” en dat sy en haar man ʼn “maklike teiken” is. “Suid-Afrika is ʼn diverse land en ons het baie verskillende kulture, gelowe en tradisies. Die kanse vir jou om iemand te ontmoet wie se vel ligter of donkerder is as joune, is groot. Net ʼn voorstel: Dalk moet jy introspeksie doen en begin om jou mede-Suid-Afrikaners te respekteer en lief te hê. Alles wat ek elke dag doen fokus daarop om vroue te leer om vredeliewend en barmhartig te wees en om met respek teenoor ander vroue op te tree,” het Sue in ʼn verklaring op Facebook gesê.

“Het jy geweet dat ek twee keer soveel as JP verdien het toe ek met hom getrou het? Het jy geweet dat ek JP ontmoet het voordat hy sy debuut vir die Proteas gemaak het in 2008? Wat ek [en dié vroue] gemeen het, is dat ons almal vroue is wat ʼn onderrig het, dat ons ons mans deur dik en dun bygestaan het en dat ons dogters en susters en vriende is. Ons is waardig en ons sal nie kuberboeliery aanvaar nie. ʼn Verskoning aan ons sal baie waardeer word.”

Gildenhuys het in ʼn ope-brief op sosiale media gesê sy wil háár stem gebruik om ʼn “positiewe boodskap” te versprei. “My seuns: daar is ʼn verskil tussen ons. ʼn Verskil wat mamma en pappa nie sien nie, maar een wat die wêreld ongelukkig sien. Die kleur van ons velle verskil en ons bid op verskillende dae. In dié stadium het julle nog nie die verskil agtergekom nie omdat julle ons net sien as julle ma, pa en boeties. Dit is hoe ek dit wil hou. Ek beoog om julle te leer dat daar nie ʼn verskil is nie. Ek wil ook hê julle moet weet daar is niks fout met julle nie. Julle mag ouers hê wat verskillende velkleure het en julle mag ouers hê wat op verskillende dae bid,” het sy geskryf.

Michelle en Emo (Foto: Instagram)

“Dit maak jou nie minder belangrik vir die wêreld nie. Om die waarheid te sê, dit gee julle mag om eendag julle stemme te gebruik om ʼn positiewe verskil te maak in ʼn land wat dit baie nodig het. Julle gaan by ʼn punt in julle lewe kom waar julle moet kies om die gaping te oorbrug of die skeiding te vergroot. Deur die gaping oor te steek sal julle ware liefde, ware aanvaarding en ware respek beleef. Ek is lief vir julle.”

Barends het in reaksie op dié verklarings gesê sy het die stuk in haar “hoedanigheid as ʼn sosiale kommentator” geskryf. Sy het gesê die doel van die rubriek was ʼn “genuanseerde stuk oor verhoudings, rolmodelle en die behoefte aan meer positiewe bruin paartjies”.

Sy het ook gesê die titel van die rubriek, waaroor Duminy veral ontsteld was, is nié deur haar geskryf nie maar liewer deur ʼn koerantredakteur wat intussen “om verskoning gevra het vir die problematiese [titel]”.

Sy het in haar jongste rubriek in die Weekend Argus amptelik om verskoning gevra. “Eerstens – ek wil graag om verskoning vra aan Siya en Rachel Kolisi, JP en Sue Duminy en Emo en Michelle Adams omdat ek hulle in my rubriek genoem het terwyl ek eerder die aandag wou vestig op ʼn internasionale gier,” het sy geskryf.

“Hierdie verhoudings is ook belangrike uitbeeldings van liefde en hoe ons stereotipes kan verbreek. So laat ek weer probeer, dié keer met ʼn nuwe resep: Dit is belangrik dat daar verskillende voorbeelde is van hoe liefde lyk. En meer as dit, daar is ʼn groot behoefte aan meer positiewe, bruin paartjies. Pasgetroudes Wayde en Chesney bied dit vir ons – boonop in die openbare sfeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Bruno Stef ·

My oorlede Ma was n kind wat net na die Anglo/boereoorlog gebore was en wat in die proses tweesusters in die kamp verloor het plus haar ouma en oupa.Sy het nooit in haar lewe Engels gepraat nie en my ernstig vermaan toe my dogters met n Australiese man en die ander een met n Tjeggiese man getroud is Dit is n aanpassing en my kleinkinders het nou al heeltemal in Ausies verander en dit is ook die enigste persone met wie ek Engels gesels die skoonseun en my dogter spreek my in Afrikaans aan.My skoonseuns moes maar eenvoudig net Afrikaans bemeester het so hulle moes by ons aanpas

Angel ·

Ek so moeg en skaam vir my mede Suid-Afrikaners oor hierdie rassistiese bog! Waar is die liefde? Daar is geen egte ras nie, so hou net op en konsentreer op dinge wat n verskil kan maak tot die beste in ons samelewing. Hou op om haat te versprei! Sies SA!!!

Feite ·

Eerstens wil ek noem dat huwelike/verhoudings oor die kleur grens nie as sulks ‘n probleem is nie. Wat wel vir my ‘n probleem is, is dat daar kinders sonder ‘n identiteit uit so ‘n huwelik gebore word. Die persone wat in so ‘n verhouding het, dink nie aan die moontlike kinders nie. Op daardie oomblik is hulle eie verhouding die belangrikste. Te hel met die res.

Boeremeisie ·

Ek dink baie vd manne wat so hier uitvaar oor trou oor die sg “kleurlyn” voel eintlik maar net bietjie bedreig. Nou steek hulle daardie bedreiging weg agter nonsens soos dis “sonde”. Die sonde is die feit dat jy neerkyk op ander

Regtig?? ·

Kinders sonder identiteit gebore oor hulle ouers “oor die kleurgrens trou”??????????????????
Is jy as ouer dan nie veronderstel om jou kind ‘n identiteit te gee nie????????? Maak nie saak watter kleur jy is nie??????? Kinders sien nie kleur raak nie, maar ouers wat hulle onvoorwaardelik lief het en ten alle tye beskerm….watter identiteit gee veel rassige ouers dan aan hulle kinders???????Want sover ek weet of jy nou pienk, pers, swart, wit, blou, geel met groen kolle is, bly jy ‘n mens wat eendag ‘n ouer/ouers gaan word en jou kinders gaan leer van reg en verkeerd…..

Feite ·

Regtig?? Wat se identiteit moet die ouers aan die kind gee? Wit, swart, pienk, rooi of bruin? Jy staar ongelukkig die “feit” in die gesig. Dit is nie hoe die ouers hulle kinders liefhe en grootmaak nie. Daarmee het ek simpatie, maar hoe sien die samelewing die kinders? Dit is ongelukkig die realiteit van die situasie.

Frans ·

Wie moet gelukkig wees, die ouers of die samelewing?? Ek kry jou jammer as jy leef om die samelewing gelukkig te hou. Die realiteit is, ons leef in ‘n nuwe era, en ons moet dit net eenvoudig aanvaar.

Andile ·

Trou en leef soos jy wil maar respekteer my as ek kies om nie te doen wat jy doen nie of selfs kies om nie met jou te assossieer nie, maar eerder kies om my eie te behou en vir my en eendersdenkendes n lewe uitkerf waar ons as gemeenskap ons eenderse denke ten volle kan uitleef. Die artikel skryfster het dit verstaan maar almal val alweer agteroor van hulle stoele af om polities korrek te wees of wat se ek angel?

Andreas Meyer ·

“Daar is geen egte ras nie”, en tog is ras so ‘n gelaaide onderwerp in Suid-Afrika. Die feit bly staan dat genetika ‘n belangrike rol speel. En besluite met wie om te trou en kinders te he, het ernstige gevolge. Dit maak dus juis ‘n verskil. Antieke en moderne denkers het hierdie goed geweet, maar desdae word dit somer net geignoreer.

G ·

Ek neem aan sy gaan haar werk behou, want dit is vryheid van spraak?

Boetawill ·

Die dag waneer ek wil trou sal ek trou vir liefde, ongeag kleur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.