Radiografis vas oor kaalfoto’s van seun

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Radiografis van Johannesburg wat glo kaalfoto’s van homself aan ʼn negejarige seun oor WhatsApp en BBM gestuur het, het Donderdag in die stad se landdroshof verskyn op aanklag van kinderpornografie.

Netwerk24 het Vrydag berig die 41-jarige man, die direkteur van ’n maatskappy wat radiografiedienste aan ’n hospitaal in Sandton verskaf, is vroeg Donderdagoggend in hegtenis geneem.

Hy het later in die Randburg-landdroshof verskyn en is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Die landdros het opdrag gegee dat die man nie direkte of indirekte kontak met die seun of sy ouers mag maak nie.

Hy moes ook sy paspoort inhandig en moet hom elke Sondag by die Sandton-polisiestasie aanmeld.

Netwerk24 het vertroulik verneem dat die seun, nou 11, toe hy nege was glo ʼn algemene versoek aan die beskuldigde gestuur het om ʼn BBM (Blackberry Messenger)-kontak te word. Dit was glo deel van ʼn speletjie tussen maats om te sien wie die meeste BBM-kontakpersone kon hê.

Die radiografis het hom glo as ʼn 20-jarige dokter voorgedoen en die twee het tussen 2013 en 2014 op BBM en WhatsApp gekommunikeer. Die beskuldigde het in dié tydperk glo die seun sover gekry om kaalfoto’s van homself na die man te stuur. Die beskuldigde het na bewering ook eksplisiete foto’s van homself aan die kind gestuur.

Die man is in hegtenis geneem nadat die seun glo eendag sy foon by die huis vergeet het. Sy stiefma het glo op die foto’s afgekom en die polisie in kennis gestel.

Sy naam en adres is deur sy selfoonnommer opgespoor.

Die man en die seun het mekaar glo nooit persoonlik ontmoet nie.

Die saak is tot 24 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.

Netwerk24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

pop ·

Daai seuntjie is nie so onskuldig soos wat hy nou wil voorgee nie. Dalk het hy vir die man gese hy is veel ouer. As sy ma nie die selfoon gehighjack het nie het geen haan daarna gekraai nie. Kinders van vandag is baie wys, ver bo hulle jare.

Berhalet Beukes ·

Weereens laat dit my met die vraag, monitor ouers nie hulle kinders se fone nie? Dis eintlik dood eenvoudig as jy aandag gee en op hoogte bly van tegnologie. Die man se gedrag is walglik, maar hoe weet ‘n kind nie jy stuur nie naakfotos van jouself vir enige een nie? Net soos ‘n mens nie met vreemde mense praat of in hulle motors klim nie, stuur jy nie fotos van jouself vir hulle nie!

Gideon ·

Albei het verkeerd opgetree- ek dink die seuntjie is te groot vir sy skoene! Daar moet ‘n wet wees dat kinders eers op 16 selfone mag besit, en dan net die soort wat kan bel, nie eens sms’e nie!

Jo ·

Dis erg! Maar ek wonder hoe kon die man dink dat hy homself as dokter kan voordoen en se hy is 20jr oud. Dit neem 7jr om as dr te kwalifiseer. Dus moes hy 13 gewees het toe hy begin studeer het. Ai tog…

mae ·

Ag nee! ‘n Selfoon op 11? My oudste is nou 5. Of ek is old school of nie ingelig nie maar as my dogtertjie vra vir ‘n foon beter sy darem al kan bestuur! Of sy nou cool wil wees of nie! Ek hoop ek maak haar reg groot!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.