Radiostasie vra gemeenskap se hulp ná inbraak

Die gemeenskapsradiostasie Lichvaal Stereo in Lichtenburg in Noordwes het die afgelope naweek die teiken van inbrekers geword toe dié stasie Saterdagnag rot en kaal besteel is.

George Visser, stasiebestuurder van Lichvaal Stereo, het aan Maroela Media gesê boewe het vermoedelik tussen 23:00 Saterdagaand en 05:00 Sondagoggend by die radiostasie se ateljee ingebreek nadat die laaste omroeper vir die aand huiswaarts gekeer het.

Die boewe het deur middel van die ateljee toegang tot die res van die gebou verkry waarna dié kantore in die gebou geplunder is. “Hulle het alles omgekeer. Dit was chaos,” verduidelik hy.

“Hulle het liasseerkabinette uitgegooi, die kluis oopgebreek en kontant gesteel. Hier was niks gewees toe ons Sondagoggend hier aankom nie. Hulle het net die matte en meubels gelos.”

Hoewel groot skade aan die gebou aangerig is, is die grootste kopseer die ateljee se toerusting wat weggedra is. Dié toerusting sluit in vyf rekenaars, twee mengbanke, verskeie selfone asook klanktoerusting wat gedurende uitsendings gebruik word.

Vensters en diefwering wat beskadig is, is reeds herstel en die radiostasie spook nou om met een geleende mengbank, ʼn ou skootrekenaar en personeel se persoonlike selfone uit te saai. “Die toerusting is nou ons onmiddellike behoefte,” sê Visser.

Hy verduidelik die radiostasie se toerusting was nié verseker nie, omdat die stasie ’n paar jaar gelede verskeie kere in ’n kort tydperk by die versekering moes eis weens weerligskade en hul versekering gevolglik gekanselleer is.

Visser het namens die radiostasie ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om hulle by te staan met skenkings om die gesteelde toerusting te vervang sodat die stasie op die lug kan bly. “Ons is 100% afhanklik van die gemeenskap en ʼn gemeenskapsradiostasie is weer op sy beurt ʼn onmisbare bate vir enige gemeenskap,” sê Visser wat reeds 22 jaar lank by Lichvaal Stereo betrokke is.

Dit is die eerste inbraak by die radiostasie gedurende dié tyd.

Kontak Visser by 018 632 1713 of [email protected] om Lichvaal Stereo by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Muffin ·

Niks en niemand is meer veilig in SA nie.
Hoop en glo hulle sal iemand aankeer.

Moeg ·

Ek gaan nou maar ook my medies en versekering kanselleer, almal doen dit en as iets gebeur sal die gemeenskap mos maar inspring en skenkings maak.
Ek kan nie dink dat versekering sal kanselleer vir weerlig skade nie, ons het al by ons kantore 3 keer in 1 seisoen geëis oor weerligskade en hulle kanselleer nie ons versekerning nie… sê maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.