Radiostemme vereer met gesogte pryse

Die span van Groot FM by die Telkom-radiotoekennings. (Foto: Verskaf)

Groot FM, ʼn gemeenskapsradiostasie van Pretoria, het met ʼn handvol pryse weggestap tydens die Telkom-radiotoekennings, wat Saterdagaand in Johannesburg uitgedeel is.

Die toekennings vereer die room van die Suid-Afrikaanse radiobedryf, met ʼn hele rits kategorieë vir gemeenskaps-, kampus-, openbare en kommersiële radiostasies.

Die toekennings gee ook erkenning aan die naamlose mense wat agter die skerms sorg dat radio-uitsendings glad verloop.

Charonike Nel, wat saam met Ruben Delmage die ontbytprogram op Groot FM aanbied, het die prys vir beste oggendprogramaanbieder vir ʼn gemeenskapsradiostasie gewen.

Nel het ook die prys vir beste naweek-middagprogram-aanbieder vir ʼn gemeenskapsradiostasie vir Saterdagmiddag met Charonike gewen.

Groot FM het ook die toekenning vir stasie van die jaar gewen, asook die prys vir die gemeenskapsradiostasie met die lojaalste luisteraars. Zander van der Westhuizen is met die prys vir beste aandprogram vereer vir sy gospelprogram, Sondae-aande Gospel.

“Ons kan nooit ons waarde meet aan toekennings nie, want elke oggend wanneer daai mikrofoon aangaan, is die luisteraar jou beste vriend,” sê Nel oor die prys.

Groot FM spog met vyf Telkom-radiotoekennings. (Foto: Verskaf)

Dit is die sesde en sewende toekennings wat Nel by haar versameling van vorige radiotoekennings voeg.

“Dit is wel ʼn ontsaglike voorreg om deur die bedryf erken te word vir iets wat nie vir my ʼn werk is nie, maar ʼn seëning en genade. Die feit dat ek dit saam met die beste groep mense op die planeet kan doen, is ʼn bonus.”

Esté Gross van die Pretoria FM-gemeenskapsradiostasie is aangewys as beste middagprogram-aanbieder vir die daaglikse weeksmiddagprogram, Klankkoerant-Laatmiddag.

Altesaam 68 wenners uit 29 verskillende kategorieë is tydens die galageleentheid by die Sandton-konferensiesentrum aangewys.

Dit is die 13de jaar wat die toekennings uitgedeel word, maar dit is die eerste keer dat Telkom se handelsmerk aan die naam van dié pryse gekoppel word.

Stasie van die jaar in die kategorie vir kommersiële stasies is aan 94.7 toegeken, terwyl Ukhozi FM (openbare uitsaaier) en Tuks FM (kampusradiostasie) as stasie van die jaar in hulle onderskeie kategorieë aangewys is.

Alvin Pillay, Andrew Pike, Kenny Maistry, Nic de Jager, Nomthunzi Vuza en Ray White is tydens die geleentheid in die heldesaal vir radio ingehuldig.

Chris Chuene, Kgomotso Monyai, Neliswa Cele en Nick Archibald is as sogenaamde Bright Stars benoem, wat opkomende talent in radiowese erken.

“Die krag wat radio het om elke uithoek van Suid-Afrika te bereik, is ongeëwenaar, en om die medium van radio lewendig te hou, is noodsaaklik,” sê Taryn Westoby, algemene bestuurder van Arena Holdings, eienaars van die radiotoekennings.

“Die toekennings dra by tot die groei van die bedryf en plaas die invloed van radio in die vorming van ons kulturele landskap in die kollig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KB ·

Waar, o waar is PretoriaFM?
Slegs Esté Gross (wat ʼn nuwe aanstelling is, gedêps by RSG!) het iets gekry! Dit wys rooi ligte vir PretoriaFM. Dis tyd dat daar ʼn oplewing kom…die stasie stel werklik teleur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.