Rage-organiseerder spoeg vuur oor aflas van feeste

(Argieffoto: Ballito Rage/Facebook)

Een van die organiseerders en aandeelhouers van Ballito en Plett Rage het woedend gereageer oor wat hy bestempel as enorme druk op politici en ouers om die byeenkomste te kanselleer.

Greg Walsh sê in ʼn video op sosiale media hy is jammer vir diegene wat die matriekpartytjies sou bywoon, vir die organiseerders, hul verskaffers, die meer as ʼn duisend mense wie se werksgeleenthede verlore gegaan het en vir diegene wat verblyfkansellasies ondervind het.

Walsh het uitgevaar teen mediaberigte wat volgens hom die skuld vir die verspreiding van Covid-19 op byeenkomste soos dié probeer pak. “Media, julle moet ophou om die skuld vir Covid-19 op organisasies te pak. Ek en jy, as ons Covid opdoen, moet ophou sê ek wonder waar ek dit gekry het, ek wonder wie het dit vir my gegee? Niemand gaan uit om iemand Covid te gee nie.

“Ons moet goed vir mekaar wees,” sê Walsh in die video.

Die twee feeste is vroeër gekanselleer weens kommer oor die verspreiding van Covid-19, veral in die lig van die nuwe Omikron-variant wat verlede maand geïdentifiseer is.

Uiters streng Covid-19-maatreëls sou by die funksies geld. Bepalings het ingesluit ʼn bewys van inenting, asook ʼn negatiewe Covid-19-toets wat reeds voor die tyd gedoen moes word. Verdere toetse sou op die eerste en vierde dag van die feeste gehou word, maar daar is later besluit om elke dag vir die koronavirus te toets. Omvattende mediese fasiliteite is opgerig en die vinnige antigeentoetse sou daagliks daar op alle gaste en werkers gedoen word.

“Ons kon die beste openbare gesondheidsdiens gewees het in die dorpe waar ons sake doen. Matrieks gaan nie nié partytjie hou net omdat niemand vir hulle ʼn partytjie gee nie.”

Walsh sê nietemin het druk opgebou om die feeste af te stel.

“Dit was ongelooflik om te luister hoe die media lieg en lieg en paniek versprei en histerie veroorsaak en ʼn beroep op politici doen vir ons om te kanselleer, en ʼn beroep op ouers doen vir ons om te kanselleer en net aan te hou om goed te sê wat nie waar is nie.”

Hy het die media ook daarvan beskuldig dat hulle verslag doen sodat meer mense op stories kliek, dit deel en daarop kommentaar lewer en nie om die waarheid bekend te maak nie. “Die gebeure van die afgelope week het my regtig ontstel. Dit het groot kommer en verwoesting vir ons organisasies en spanne veroorsaak. Dit kan nie so aangaan nie. Dit is nonsens,” sê Walsh in die video.

In die geval van Ballito Rage het 19 gaste uit 1 400 voor die tyd aangedui dat hulle positief vir Covid-19 getoets het en nog twee het laat weet dat hulle in kontak was met iemand wat positief getoets het.

Op 29 November is 122 werkers getoets en alle uitslae was negatief. ʼn Dag later is nog 63 werkers getoets en vier se uitslae was positief. Uit die 777 gaste wat teen daardie tyd reeds opgedaag het, het 32 positief getoets. Walsh sê dit is ʼn positiwiteitskoers van minder as 4%, terwyl die landwye koers op dieselfde dag op 16,5% gestaan het. ʼn Dag later was die landwye positiwiteitskoers meer as 20%.

“Jy kan nie vir my sê Ballito en Plett Rage het nie gewerk nie. Dit was ʼn diens aan openbare gesondheid en deur te kanselleer was ons aandadig om die situasie te vererger, maar ons het geen ander keuse gehad nie.”

Walsh sê hulle is gevra om die feeste te kanselleer, wel wetende dat die jong mense steeds in die dorpe gaan aanbly en verder partytjie hou. “Ons as organiseerders kry die skuld vir die verspreiding van Covid-19 terwyl dit inderwaarheid niks met ons te doen het nie.”

Hy sê gaste het positief getoets voor hulle by die Rage-fees aangekom het en dat hulle die virus nie daar opgedoen het nie. Walsh sê ook “histerie werk vir die media” en dat dié situasie verander moet word.

Volgens hom is ʼn byeenkoms soos Rage nie minder veilig as enige ander byeenkoms, of selfs net ʼn familiebyeenkoms, nie. “Maak die bedryf weer oop. Ons is die beste. Ons is ʼn bedryf vir georganiseerde byeenkomste. Ons organiseer dit. Laat ons toe om te doen waarmee ons goed is en hou op om die skuld vir nonsens op ons te pak.”

Walsh sê ook dié bedryf word elke keer eerste toegemaak en dat die huidige stand van sake nie langer kan voortduur nie. “Ek hoop en ek bid dat verandering binnekort plaasvind.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Tanniepetoors ·

Mnr Walsh, ek is ook jammer dat soveel ander mense en ondernemings geraak word deur die kansellasie van die “Rage”. Feit is, julle moes nooit eers oorweeg het om dit te laat plaasvind het nie. Met jou verklaring bevestig jy weereens dat jou en ander se oorweging net geldelike gewin is en dat julle bitter min omgee dat die geleentheid massa-verspreiding van die virus kan veroorsaak.

bobmartin ·

Mnr Walsh het net n verkeerde besigeheid besluit gemaak. Hy moes besef dat daar n ander manier moet wees om die sogenaamde “RAGE” te hou sonder om die inperking reels te oortree. Idees en kreatief wees om te probeer geld maak. Hy is immers n besigheids man.

richard ·

Geen inperking reels sou Verbeek nie.
as ek reg onthou kan daar tot 2000 mense byeenkomste buite huis bywoon

VaalDonkie ·

Tannie, weet jy waar Plett se geld vandaan kom? Daai dorpie is die hele jaar doodstil en daar gaan niks aan nie. Daar is ook nie werk daar nie. Totdat die vakansietyd kom en die hele land daar toesak. Daar is besighede wat 11 maande van die jaar nie eens oop is nie, en in Desember al hul geld maak. Daai mense en die tydelike werkers wat hulle in diens neem gaan hierdie jaar ‘n baie rowwe krismis ervaar. Maar ja, praat maar jou praatjies met ‘n mond vol krismiskoek.

bobmartin ·

Ek stem saam. Dit is slegte nuus. Mnr Walsh moet ten minste probeer om n ander kreatiewe manier probeer uit dink hoe hy die sogenaamde “RAGE” kan maak werk sonder om die reels te verontagsaam. Hy kan nie net opgee. Die Plett se mense het ook geld en gesondheid nodig. Dus is baie mense afhanklik van Mnr Walsh se poging om probeer plan te maak om dit te maak werk.

Celeste ·

Presies. Dit Gaan oor geld ni oor die feesgangers se welstand nie. Ons het drie seuns Al na die rage in plettenbergbaai gestuur. Dis n gemors

richard ·

indien hulle nie die selfde ouderdom is moet u die vraag vir U self vra hoekom het U die ander seuns ook gestuur as dit n gemors is.
Vra maar net.

Herman L ·

As ek dit reg verstaan is massabyeenkomste juis die grootste verspreiders van die virus.

krodedil ·

Om die Rage te kan bywoon moes die kinders bewyse lewer dat hulle ingeent is. Lyk my die Politici glo nie aan hulle entmiddels wat hulle in almal se kele wil afdruk nie. Daagliks is daar massabyeenkomste onder jou neus sonder dat mense galbraak. Kyk na die naaste Malls, Checkers, Hypermarkets, Kuierplekke. Ek dan die grootste een –Werksplekke. Die woord “massabyeenkomste” word net gebruik waar dit die skrywer of politici pas.

Jakkie ·

Dit lyk nie of die virus massabyeenkomste soos die saamdrom by optogte, die rally’s voor die verkiesing, die plundery in Kwazulu Natal en so kan mens aangaan, beinvloed nie. Daar skrik die virus so groot hy bly eerder weg. Maar sien daai virus ‘n vakansieganger, dan is dit “all systems go” en attack!!! Nogals vrek slim die virus.

Misky ·

Sommige shebeens en shishanyamas het honderde kuier mense oor naweke. Geen maskers, sanitizers of sosiale afstand nie. Inteendeel, dit gaan rof daar. Hoekom is dit nie lankal gestop nie?

Miskruier ·

Presies, ons weet almal van sulke gebeure. Tot ou Boris van Brittanje het n jaar terug fees gevier terwyl die gewone Brit nie eens sy familie op kersfees kon besoek nie.

Zack ·

Stem saam met die Rage organiseerder. Ek het verstaan dat al die kinders ingeent moet wees voordat hulle ‘n rage mag bywoon. Ek dog die enting werk wat duidelik nie die geval is nie. Hopelik word rugby en krieket byeenkomste ook afgelas.

MakersMark ·

Covid of nie dis goed die “feeste” is afgestel. Net ‘n broeiplek vir ander probleme wat jong mense nie nodig het nie.

Celeste ·

Ek Wie betaal Vir die toetse wat ons kinders Elke dag Moet kry, ja die ouers. Die rage is so vrek duur Dan Nog blyplek, Kos en Dan Nog toetse. Dis n broeines Vir moeilikheid

richard ·

ouers wat hulle kinders soontoe stuur moet pa staan vir alle kostes want dit is hulle keuse om die kind telaat gaan

Samuel ·

Mnr Walsh ek kan nie met alles saamstem nie, maar een ding staan vas: die media gedy op sensasie, histerie en paniek saai.

Indien alle byeenkomste gevaarlik is, moet winkels (PnP, Checkers, Superspar ens) hier in my omgewing in die Wes-Kaap, onmiddellik toemaak. Daar is geld die ding wat praat. Geen sosiale distansieëring of maskers dra nie. Winkelbestuurders is kwaad wanneer jy hulle daarop wys. Geriefshalwe word dit misgekyk.

krodedil ·

jy het dit mooi saamgevat. Wat goed is vir die een moet goed weer vir die ander. Duidelik is daar twee stelle reels.

richard ·

mense beweer dat massa byeenkomste super verspreiders is.
Die stelling is moeilik om teverstaan want Kwa Zulu Natal en Vrystaat wat gereeld massa byeenkomste soos by hof sake het se syfers dui nie aan dat dit so is nie.

Lubbe ·

Mens kan net lag vir sommige sienings oor die virus. As jy sulke groot publieke partytjies in vandag se tyd hou moet jy darm ook gereed wees vir as die popo die fan strike. Dit is die risiko wat met dit saam gaan. Die media is bietjie rof ek stem mar die regering sou dit in elk geval gestop het. Verkeerde tyd, verkeerde plek.

richard ·

Enige plek waar skool verlaters byeenkom kan probleme voorkom of hulle 30/40 of 900 is.
Opvoeding het ook baie daarmee tedoen hoe die kind gaan optree.
Dit is gevolglik nie die “rage” wat die probleem is nie maar die bywoners.
Vir n hele paar haar was daar nie eintlik probleme met die fees nie tot laas jaar maar toe was die reels soos Covid toetsing nie die selfde soos hierdie jaar nie

JohanR ·

Weet nie hoekom jy moet gaan “Rage” nie? Ek het my matric of nou O vlak klaar geskryf einde November, saam met die ouers op hulle jaarlike December vankansie gegaan, toe terug gevlieg Salisbury(Harare) toe vanaf Joburg, en vroeg Januarie begin werk nadat ek October gegaan het vir ‘n onderhoud. Tien maande gewerk en toe mag toe vir 18 maande wat toe eindelik 20 maande geword het. Ek moes gou uitspring en gaan werk, want my ouers wou my uit die huis he sodat hulle salarisse soe bietjie verder kon rek.

Martie ·

Dit is in elke geval net waar moeilikheid uitbroei, noem my maar outyds maar ek sal nie my kinders na die tipe van ding toe stuur nie.

Chris ·

Ek verstaan nie die bohaai oor die anti – ragers nie. Waaroor al die lawaai. Is julle kwaad oor die afstel of die gebeure self. Gun die mense, amper mense, hul plesiertjies in die lewe. As jy wil gaan drink en rook en wat ook al wil doen, dit is jou saak. Jy moet egter besef elke besluit wat jy maak het verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan. Ek is egter “jammer” vir die organiseerders. Lekker geleentheid om geld te maak. As jy as ‘n besigheid nie op wins ingestel is nie, maak jou deure toe. Jy verskaf mense pret en plesier vir ‘n paar dae. Probeer volgende jaar weer.

Johann ·

Omdat Matrieks nie nie partytjie gaan hou omdat die feeste afgelas is beteken NIE dat dit reg is dat JULLE voortgaan met die feeste nie! In huidige omstandighede is feeste verskriklik gevaarlik en is ‘n gejaag na winste nie genoeg rede om enige fees te hou nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.