Ramaphosa aan weermag: ‘Gaan red lewens’

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand tydens die uitstuur van troepe van die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) in die stryd teen die Covid-19-pandemie aan soldate gesê: “Gaan uit en red die lewens van Suid-Afrikaners.”

Ramaphosa het in weermaguniform, as opperbevelvoerder van die SANW, soldate by die Doornkop-weermagbasis in Soweto toegespreek en uitgestuur op die vooraand van die staat van afsondering.

Hy het aan die soldate benadruk dat hulle ʼn eed afgelê het om die mense van Suid-Afrika te verdedig.

Ramaphosa het ʼn beroep op die weermag gedoen om die publiek te respekteer en te ondersteun. Hy het gesê dit is normaal dat die publiek vrees sal hê wanneer hulle soldate met gewere gaan sien rondloop.

“Dit is nie die tyd vir skop en donn*r nie. Dit is nie die tyd vir skiet en donn*r nie, maar die tyd om ons mense te ondersteun.”

Foto: Kopano Tlape/GCIS

Soldate is versoek om hul taak na die beste van hul vermoë te gaan verrig en om dit op só ʼn manier te doen dat dit nie die regte van mense skend nie.

Hy het aan soldate gesê dat mense in dié tyd na hulle en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gaan opkyk, en hy het ʼn beroep op alle wetstoepassingsbeamptes gedoen om hul taak met groot respek en nederigheid uit te voer. Ramaphosa het soldate aangemoedig om ondersteunend te wees en vertroue te herstel.

Die president het gesê hy is vol vertroue dat die land se inwoners gaan hou by die beperkings van die 21 dae van afsondering wat die regering ingestel het. “Ons het die beperkings op hul lewens gestel ten einde hul lewens te red.”

Foto: Kopano Tlape/GCIS

Ramaphosa het soldate die versekering gegee dat hulle nie in ʼn vyandige grondgebied ontplooi word nie.

“Maak seker dat ons lewens red. Maak seker dat die mense van Suid-Afrika veilig is. Maak seker dat die land ná 21 dae kan terugkeer en dat mense hul lewe kan terugkry en dat die ekonomie weer op dreef kan kom,” het Ramaphosa afgesluit.

Die president het ook vroeër die dag die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Pretoria toegespreek.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

As mens hom gaan Google, kry mens 13,6 miljoen resultate, ek dink ons kort blaaskans hierdie 21 dae.

De Villiers

Wat is dit met die uniform?

Johan Venter

En Jesus het 2000 jaar gelede vir sy dissipels gesê: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.

SomeOne

die pak klere pas en lyk beter as sy gewone “suits”

Michael 1

Een van die beste indien nie die beste weermagte in die wêreld nie en hoe gelukkig is ons nie dat hulle na ons gaan omsien nie onder die bevel van hulle comander en chief natuurlik.