Ramaphosa aan Zondo: ‘Ek sal nie weghardloop van my besluite’

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

“As persoon wat ʼn gesagsposisie tydens staatskaping beklee het, aanvaar ek volle verantwoordelikheid vir my keuses en optrede.”

Só het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag gesê tydens die afsluiting van sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

“In my verklarings aan die kommissie en my getuienis het ek probeer om my persoonlike kennis van die gebeure wat ondersoek word, die besluite wat ek geneem het, en die oorwegings wat die besluite bepaal het, aan te dui.

“Ek sal nie van daardie besluite weghardloop nie. Ek het ook probeer om ʼn uiteensetting te gee van sommige stappe wat hierdie administrasie gedoen het om staatskaping te beëindig en regstellende maatreëls in te stel.”

Ramaphosa, die laaste getuie voor die kommissie, moes dié week vrae beantwoord oor staatskaping terwyl hy adjunkpresident van die land was. Hy is daarna ook ondervra in sy hoedanigheid as huidige president. Dit was Ramaphosa se tweede verskyning voor die kommissie nadat hy einde April in sy hoedanigheid as president van die ANC voor die kommissie verskyn het.

Ramaphosa het Donderdag die hoop uitgespreek dat die “vordering” wat oor die afgelope twee en ʼn half jaar gemaak is, ʼn bewys is van sy eie toewyding en die toewyding van sy administrasie om korrupsie en staatskaping beslissend te hanteer.

Die ware omvang van staatskaping sal volgens Ramaphosa moontlik nooit bekend wees nie. Hy het gesê daar kan moontlik vasgestel word hoeveel openbare fondse geplunder is en hoeveel dit gekos het om sake in dié verband te ondersoek en mense te laat vervolg. Dit is dalk ook moontlik om die infrastruktuur en dienste wat gelewer kon word, te kwantifiseer met die geld wat weens staatskaping gesteel en vermors is.

“Wat egter moeiliker is om te meet, is die groter koste vir ons ekonomie en ons samelewing. Dit is moeilik om die uitwerking van staatskaping op sake- en verbruikersvertroue en op die verlies aan belegging te meet.

“Ons kan ook nie die uitwerking van staatskaping op ons internasionale beeld kwantifiseer nie.

(Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

“Deur ons veiligheidsmagte en wetstoepassingsagentskappe te verswak, het die optrede rakende staatskaping die veiligheid en integriteit van ons land in gevaar gestel.

“Die mees vernietigende en duurste koste van staatskaping en korrupsie is egter die uitwerking daarvan op Suid-Afrikaners se vertroue in die leiers en amptenare in wie hulle groot vertroue gestel en as verantwoordelik beskou het.”

Ramaphosa het gesê staatskaping het skade berokken aan mense se vertroue in die oppergesag van die reg, openbare instellings, wetstoepassingsagentskappe en selfs tot ʼn mate in die demokratiese proses.

“Hoewel daar beslis sistemiese mislukkings, regeringsverval en foute was, is die fundamentele werklikheid dat staatskaping plaasgevind het omdat sekere mense elkeen doelbewus besluit het om korrupsie en misdadigheid te beoefen.

“Dit is reg en noodsaaklik dat hulle die gevolge van hul dade die hoof moet bied. Nadat ons self die misdade van staatskaping gesien het, is die ergste wat ons kan doen om dit ooit weer te laat gebeur.

“Ons het ʼn gedeelde verantwoordelikheid om die era van staatskaping stewig agter ons te laat, en om saam op te tree om korrupsie in al sy vorme te voorkom.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blue Butterfly

Die mooiste woordjies met die vroomste gesiggie, ag siestog. Botter kan nie in sy mondjie smelt nie. En so praat hy homself en die ANC uit die gemors. Genoeg om van SIEK te word.

Frank John

Wonder of ons ooit sal terug kry wat verloor is.
In God sal ons vertrou. Op Sy woord sal ons staan.
In die toekoms lyk ons baie beter as wat ons nou lyk want ons God werk en wie kan Hom keer. Hy sal herstel bring. Sy wil sal geskied, die werk wat Hy begin het sal Hy ook klaar maak.

Werner

Wel dan moet hy maar ook die verantwoordelikheid dra en saam met Zumpie sy oranje pakkie aantrek

marius

Die ergste van die ergste . Ooit .

Hennie J

Dis die houding van iemand wie se kiesers nie n flenter omgee nie. T – hemde, kospakkies en oorverdowende musiek of beloftes van vinnig geldmaak is wat hulle beindruk en die lee blikke in hul gemeensakap is outomaties die leiers! Wanneer gaan iemand indringend navors oor waar sy asemrowende rykdom binne so n kort tyd vandaan kom?