Ramaphosa aanvaar omstrede NVG-hoë se bedanking

Adv. Moipone Noko. (Skermgreep: eNCA)

Pres. Cyril Ramaphosa het die omstrede hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, adv. Moipone Noko, se bedanking met onmiddellike inwerkingtreding aanvaar.

Die presidensie sê in ʼn verklaring adv. Shamila Batohi, hoof van die NVG, het Ramaphosa in November verlede jaar met die steun van die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, gevra om ʼn ondersoek na Noko se geskiktheid vir die pos van stapel te stuur en Noko intussen te skors.

Ramaphosa het goedkeuring vir ʼn ondersoek gegee en op 9 Februarie vanjaar het Ramaphosa, deur die minister, vir Noko gevra om geskrewe redes te verskaf oor waarom sy nie hangende die ondersoek geskors moet word nie.

Die NVG, as Noko se werkgewer, het haar hoflikheidshalwe op 11 Februarie ingelig dat sy dié brief van die president kan verwag.

Drie dae later het Noko gevra om haar kantoor te ontruim.

Die nasionale direkteur vir openbare vervolgings het haar versoek om te bedank weereens deur die minister aan Ramaphosa te kenne gegee. Lamola het ook aanbeveel dat sy toegelaat word om te bedank.

Die NVG se versoek aan Ramaphosa om goedkeuring vir die ondersoek te gee, spruit uit die bekendmaking van ʼn dokument wat as die De Kock-verslag bekend staan. Die verslag is saamgestel deur ʼn paneel kundiges binne die konteks van die nasionale departement van openbare vervolging se hersiening van ʼn besluit om genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal – asook ander polisiebeamptes – op aanklagte van rampokkery te laat vervolg.

Die besluit het groot kommer oor die gedrag van sekere betrokke NVG-amptenare – Noko ingesluit – laat ontstaan.

Die direkteur van openbare vervolgings het die bevindings in die De Kock-verslag, asook sekere hooggeregshofdokumente in verband hiermee, oorweeg. ʼn Regsmening wat ingewin is, het daarna ook aanbeveel dat die saak na Ramaphosa verwys word om ʼn ondersoek na Noko te laat doen. Die aansoek is toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Swart bevoorregtes pffft cover natuurlik weer vir mekaar. Ja Cyril jy’t nie ruggraat nie en cover vir jou eie mense tsssk

Casper ·

Hoekom hardloop sy nou weg vir die ondersoek teen haar.Gen.Booysen het nie weggehardloop nie en sy onskuld bewys.Die ondersoek teen haar moet voortgaan en indien nodig strafregtelike vervolging.Hou haar pension terug tot na da die afhandeling van die ondersoek.

JohanR ·

‘n Kader is nooit sonder ‘n jobbie nie. Volg die een nou en sien waar sy op eindig?

Persheks Adri ·

Stem saam met jou! Hou net in gedagte dat ou Cyril seker vir haar ook gaan “cover” nes Ace, Zuma, Mal-emma, kopdoek en die res jy weet mos hoe werk hulle Kokerboom eish

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.