Ramaphosa antwoord op OB se verslag

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag sy voorlegging by die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, ingedien in reaksie op haar verslag wat die president betrek by beweerde wandade in haar ondersoek na die betaling van R500 000 wat Gavin Watson, uitvoerende hoof van die destydse Bosasa, aan sy presidensiële veldtog gemaak het.

Luidens ʼn verklaring deur die presidensie uitgereik, bevat dié voorlegging verskeie bevestigende beëdigde verklarings en ondersteunende dokumente wat na die president se mening die saak so spoedig moontlik sal afhandel.

“Die president het sy respek vir die Openbare Beskermer beklemtoon en verbind hom daartoe om sy volle samewerking te bied,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig Ramaphosa se kantoor het vroeër vandeesmaand bevestig hy het ʼn kennisgewing van die Openbare Beskermer ontvang waarin hy ingelig word dat hy betrek word by haar ondersoek.

Volgens die kennisgewing wat uitgereik is in ooreenstemming met artikel 7 (9) van die Wet op die Openbare Beskermer, het Ramaphosa tien dae kans gehad om op Mkhwebane se verslag te reageer.

Die president is twee keer uitstel toegestaan om sy verslag in te dien.

Mkhwebane se ondersoek na Ramaphosa het gevolg nadat die DA en die EFF in November verlede jaar klagte by haar kantoor ingedien het. Ramaphosa het destyds aan die parlement gesê die R500 000 wat deur Bosasa betaal is, is vir konsultasiewerk wat Ramaphosa se seun, Andile, vir Bosasa gedoen het.

Tien dae later het Ramaphosa egter in ʼn brief aan die speaker ʼn ommeswaai gemaak en gesê dit het onder sy aandag gekom dat hy “onopsetlik” verkeerde inligting aan die parlement gegee het. Hy het in die brief erken dat die betaling nie verband hou met Andile se kontrak met Bosasa nie, maar deur Watson betaal is om gebruik te word vir Ramaphosa se veldtog om ANC-president te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Interessant dat hy nog steeds res-pek vir haar het, ondanks haar aanjaag! “In your dreams”

ne ·

Snaaks hoe hulle mekaar beskerm. As ek R500,000 in my bankrekening ontvang sal ek mos darem navraag doen. Gebruik pappa en boetie dieselfde bankrekening? Glo wat jy wil, maar ek reken die liegstorie sal uitkom.

Johan ·

Ramaphosa is ‘n skatryk man. R500 000 minder of meer op sy boeke, sal hy nie eers agterkom nie!

wyn ·

Wat is die waarde van n beëdigte verklaring as dit afgelê word deur iemand wat geen gewete het nie?

Landie ·

Hoe respekteer mens ‘n President wat in die Parlement vd hele land lieg oor R500 000.00 wat ontvang is ter ondersteuning van sy presidentsveldtog? Dit is net afdraand van hieraf vorentoe Ramaposa. Lyk my jy is niks beter as die man wat jy vervang het nie.

marous ·

Kan iemand asseblief ‘n toestel ontwerp wat soos ‘n alarm afgaan waneer politikuste lieg . Nee wat , gaan nie werk nie , want dan is die hele land binne ‘n dag doof .

lewies ·

Hoop net hierdie saak word in die guns van die president besleg. Dit sal aan hom die nodige stukrag gee om met sy eie skoonmaak proses te begin. Daar is baie vuil wasgoed in die wasmantjie wat lankal gewas moes gewees het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.