Pres. Cyril Ramaphosa is Woensdagaand gedurende die land se eerste virtuele presidensiële Imbizo spesifiek oor Covid-19 met vrae gepeper. Dié vrae van landsburgers was egter nie beperk tot die nuwe koronavirus nie en die president moes in ʼn bestek van een uur vrae oor die rookverbod en selfs die doodstraf beantwoord.
Maroela Media het vroeër berig die presidensiële Imbizo het ten doel om ’n platform te skep vir openbare deelname waar gemeenskappe direk met die regering kan kommunikeer oor uitdagings waarmee hulle worstel.
Verbod op tabakprodukte
Die president moes met die intrapslag van die virtuele gesprek verduidelik wanneer die verbod op tabakprodukte opgehef sal word. Ramaphosa se reaksie was egter waarskynlik nie wat menige rokers wou hoor nie.
“Ons sal nie vir ewig in afsondering leef nie en die verbod sal wel mettertyd opgehef word,” het hy geantwoord. Volgens Ramaphosa sal Suid-Afrikaners egter die verbod tot dán moet aanvaar.
Verbod op alkohol
Ramaphosa is ook gedurende die presidensiële Imbizo uitgevra oor die regering se besluit om die verbod op alkohol op te hef. Die president het verduidelik dat die nasionale bevelraad vir die hantering van kwessies rakende die koronavirus baie gepraat het oor die verbod op alkohol.
Die president het verduidelik dat ekonomiese aktiwiteite in ’n stadium moes terugkeer en dat die regering daarom besluit het om die verbod gedurende vlak 3 van die afsondering op te hef.
“Ons het egter die lelike kant van ons maatskaplike lewe gesien toe die verbod opgehef is. Alkoholmisbruik het gelei tot geslagsgebaseerde geweld, motorongelukke, mes- en skietvoorvalle,” het Ramaphosa verduidelik.
Die president het sy kommer rakende alkoholmisbruik uitgespreek.
Doodstraf
Ramaphosa is selfs gevra waarom die doodstraf nie weer in Suid-Afrika ingestel word te midde van die hoë misdaadsyfer nie. Die president het daarop gewys dat die Grondwet bepaal dat Suid-Afrikaners die basiese reg op lewe het.
As demokratiese land kan dié reg nie geskend word nie, het Ramaphosa verduidelik. “Ons is gebind deur die Grondwet.”
Ramaphosa het verduidelik dat daar ander maniere is om misdadigers te straf, soos lewenslange tronkstraf.
Waarom kan leerders terugkeer skool toe?
’n Lid van die publiek het Ramaphosa gepols oor die regering se besluit om leerders terug te laat keer skool toe te midde van die Covid-19-pandemie indien Suid-Afrikaners dan die reg op lewe het.
Die president het verduidelik hoewel die reg op lewe uiters belangrik is, moet die lewensonderhoud van Suid-Afrikaners ook beskerm word.
“Dit is ’n berekende risiko om kinders skool toe te stuur sodat ons nie die akademiese jaar verloor nie, veral vir graad 7 en 12 omdat dit baie belangrike jare is. [Covid-19] is ’n virus waarmee ons sal moet leer om saam te leef,” het Ramaphosa geantwoord.
Ramaphosa het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hul optrede te midde van die Covid-19-pandemie te verander. “Ons moet na onsself en ons geliefdes omsien.”
Die president het weereens benadruk dat Suid-Afrikaners hul hande gereeld moet was, gesigmaskers moet dra en sosiale afstand moet handhaaf.
“Kan ons die pandemie oorkom? Ja, ons kan. Hoe kan ons dit doen? Deur ons optrede te verander,” het hy afgesluit.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
31 Kommentare
Al wat hy praat is n klomp nonsens.
n Graad 7 leerder sou beter gevaar het met antwoorde. Red nou n Nasie!
So gedink, hy en Fikile ( Taxi verteenwoordiger) is van dieselfde formaat, hy kon maar net sowel by huis gesit het, praat in sirkels….
Dis hoekom EK nie geluister het nie – blalabllalalblalaalblalalal – praat baie maar se eintlik niks. Dan noem HY homself SA se “president” WHAT A SHAME
We squint because the sun is bright.
We do the same when people are not.