Ramaphosa belowe om grondwetlik op te tree oor grondkwessie

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa het vanmiddag in die parlement die versekering gegee dat grondhervorming ordelik en grondwetlik sal verloop en die eiendomsreg van alle Suid-Afrikaners sal verseker.

Die grondkwessie het sy vraetyd vanmiddag in die Nasionale Raad van Provinsies heeltemal oorheers, terwyl Ramaphosa ook sy minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, teen aanvalle van die EFF moes verdedig.

Volgens Ramaphosa is daar groeiende konsensus onder al meer plaaslike en internasionale rolspelers dat grondhervorming versnel moet word. Hy meen daar is groeiende steun vir die regering se posisie, gerig deur die Grondwet en die oppergesag van die reg, dat sulke grondhervorming binne die bepalings van die Grondwet en met die uitbou van alle Suid-Afrikaners se eiendomsreg moet plaasvind.

Ramaphosa het gesê dis die ANC se standpunt dat die ekonomie, die landbou en voedselsekerheid nie deur grondhervorming ondermyn moet word nie. Hy het ook gesê die regering het met ander lande se regerings in gesprek getree en het geen rede om sanksies teen Suid-Afrika te verwag nie. So het hy die kwessie met die Britse premier, Theresa May, bespreek en sy het die wyse waarop dit hanteer word verwelkom, veral solank dit wettig en deursigtig gebeur.

Volgens Ramaphosa vind die regering dat daar groter begrip vir die regering se standpunt is sodra buitelanders hoor dat net 13% van grond histories vir die gebruik van die swart meerderheid in Suid-Afrika opsy gesit is.

Wat die Amerikaanse regering betref het Ramaphosa gesê die VSA en die Suid-Afrikaanse presidensie het nie oor die kwessie kontak gehad nie maar die Suid-Afrikaanse ministerie van buitelandse sake het wel met ‘n verteenwoordiger van die Amerikaanse ambassade in Pretoria vergader om die Suid-Afrikaanse regering se kommer oor te dra dat daar nie genoegsame besef is dat alle Suid-Afrikaners saamwerk om ‘n oplossing vir die grondkwessie te kry nie. Dieselfde boodskap is ook aan die Belgiese minister van buitelandse sake oorgedra.

Die EFF-LP Tebogo Mokwele het vervolgens in ‘n opvolgvraag die burgerregtegroep Afriforum aangeval. Sy het Afriforum beskuldig van arrogansie en die verspreiding van propaganda dat wit boere vermoor word met gevolglike slegte invloed op die ekonomie. Sy het Ramaphosa gevra hoe “sulke leuens” teengewerk kan word.

Ramaphosa het as antwoord nie na Afriforum of enige ander organisasie verwys nie. Hy het gesê Suid-Afrikaners moet kollektief op dieselfde pad bly deur die strukture wat die situasie tans hanteer, veral die parlement, kans te gee om hul werk te doen.

Volgens Ramaphosa sal alle “onwaarhede, vals verhale en fopnuus” wat oor Suid-Afrika versprei word, deur Suid-Afrikaners se optrede as onwaar uitgewys word namate diegene wat sulke dinge versprei, deur die waarheid gediskrediteer word.

“Diegene wat wêreldwyd leuens versprei, sal deur die waarheid verkeerd bewys word. Ons sal stabiliteit behou. Tydens die grondwetlike onderhandelinge tot en met 1996 was daar ook diegene wat wêreldwyd gaan kla het, maar hulle het niks reggekry nie. Ons sal saam ‘n oplossing vind,” het Ramaphosa gesê.

Die DA-LP Beyers Smit het gevra hoe die ongeveer R41 miljard wat die Landbank kan verloor as onteiening sonder vergoeding ingestel word, deur die regering verhaal sal word.

Ramaphosa het geantwoord dat die regering baie insette oor die grondkwessie kry, insluitend van banke, dat alles in ag geneem word en dat geen chaos of onstabiliteit geduld sal word nie. Verskeie opsies word tans deur die regering oorweeg.

Ramaphosa het benadruk dat die oppergesag van die wet gerespekteer sal word en dat grondbesettings dus nie geduld sal word nie. Hy sê Suid-Afrikaners raak algaande meer teen grondbesettings gekant, want Suid-Afrikaners is vredeliewend en ten gunste van wet en orde.

Op ‘n vraag van die EFF oor persepsies dat swart mense nie kan boer nie het Ramaphosa mense verwys na die geskiedenis van suksesvolle swart deelsaaiers, wat ten beste ten boek gestel is in Charles van Onselen se boek The Seed is Mine.

Ramaphosa het ook die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, verdedig teen bewerings van die EFF dat hy staatsbeheerde instellings se rade en personeel terroriseer. Ramaphosa het sy volle vertroue in Gordhan uitgespreek en gesê die minister moet moeilike besluite neem en oordra.

Hy het Gordhan as ‘n baie gefokuste persoon bestempel wie se ondankbare taak dalk sommiges kan pla wat daardeur geraak word. Hy het bygevoeg hy ondersteun al die stappe wat Gordhan tot dusver betreffende staatsbeheerde instellings geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Snotklap ·

Natuurlik sal hy grondwetlik optree. Hy sal net die grondwet verander sodat dit hom toelaat om te doen wat hy wil.
Dis soos om te se hy sal net moord pleeg wanneer die wet verander word om moord toe te laat.

Mrs H ·

Hoe tree jy kastig grondwetlik op met ongrondwetlikke en ondemokratiese aksies en besluite?! Om dit grondwetlik te forseer volgens jou kommunistiese sosialistiese onkunde?! In die naam van julle rasistiese volk en gebaseer op blatante leuens om jul diefstal gedrag te probeer verregverdig?

Johnny ·

Wat gaan hy doen? Hoekom kom hy nie na vore met die plan nie? Sy stilte verooraak net onmin en onsekerheid. Wat is sy agenda?

vissie ·

Mmmmm …..los net die grond wet soos hy nou daar uit sien.

willie ·

Ek vertrou hom absoluut niks nie! Die een dag sis en die ander dag so! Weerstand wat hy nie verwag het nie het so bietjie die hout wat die padda moet kook nat gemaak!

Stella Berning ·

En wat laat sy edele nou dink ons glo die stelling. Die ANC en al die partye wat die volk nou so wil ophef en gawes voor gee , moet luister na die derduisendes wat honger sonder werk is. Hul blaf nou al om die grond gat. Hierdie land word deur boere gevoed.

Pieter h ·

Hy is 100 persent geloofwaardig in wat hy verkondig. Eers die grondwet wysig dan die sg. grond hervorming als mooi in lyn met die ANC se NDR.

Jaco ·

Die Engelese regering sal aanhou om die ANC te ondersteun. Hulle steun hulle al vir jare en die ANC het te veel inligting om te openbaar dink ek .

James ·

My huis se mark prys het so geval. Ek kan slegs R100k meer kry as wat ek in 2005 betaal het. Dan kan mens nie eers die rente ingedagte hou nie. Julle sal antwoord in die lewe hierna!!!!!!!!!

Estelle ·

Dink jy ons is so dom? Natuurlik sal dit Grondwetlik geskied. Julle verander die Grondwet en dan is als wat julle doen mos Grondwetlik? En tanmie May wat dit ondersteun solank dit wettig is… verander wette, dan kan dit mos wettiglik gebeur. Tik tok tik tok…

Katerina ·

So die grondwet word verander om blatante diefstal grondwetlik te maak. Dit beteken nie dis Reg nie. Die grondwet word verander om kriminele gedrag wettig te maak.

Gerhard ·

M.a.w. die ANC gaan grond wettig onteien sonder vergoeding of teen ‘n minimale bedrag. Hoe is dit anders as dit wat ons reeds weet?

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek sien op ander webblaaie dat CR van mening is dat indien SA NIE grondhervorming omhels nie, dan omhels ons “onstabiliteit”? Hoeveel meer onstabiliteit kan daar wees na sy oorspronklike aankondiging in hierdie verband? In die ou Suid Afrika kon ek nie na alle wêreldlande reis nie, oor sanksies. Nou is SA se ekonomie so opgemors dat ek nêrens in die wêreld meer kan reis nie……………nie oor sanksies nie, maar omdat ‘n R1 ongeveer 4 pennies werd is?

Potlood ·

Die eerste sind verduidelik vir my presies hoeveel ek die man se “mompel” vertrou. Die woorde ORDELIK en GRONDWETLIK…
Nie eers ‘n Jakkels is so agterbaks nie…!!!!!
Hy reken mos hy sal ons kook soos paddas… Min weet hy dat hy die padda is….!!

Geweeg en te lig bevind ·

Jy vergeet 2 dinge mnr. President, in 1996 was daar nie sosiale media nie en in 1996 het ons die ANC vertrou, nou weet ons wie en wat julle is, selfs die Afrikaner Bond weet nou en jou dubbelsinnige woordspeling werk nie meer nie.

Jacov ·

Ons gaan nie hulp van die regering ,Engelse of Belgie of enige ander land kry nie. Ons sal vir ons self moet sorg hier aan die suidpunt. Snaaks hoe die Europese lande almal nou geld skenk en beleggings maak vir die regering. Na al die besoeke deur afgevaardigdes en groepe om te vertel wat hier aangaan ondersteun lyk my al die Europese regerings die onteieningsproses…

marous ·

Vredeliewende mense ? Geen gevolge ? Wat se twak raak die man kwyt ? Ek is seker hy glo homself !

Jerry ·

Daar is niemand so doof soos die wat nie wil hoor nie. Dit is die buitelandse beleggers soos Theresa May wat vir, nie net hulle eie belange nie, maar ook vir ons onthalwe CR kom besoek het en waarborge gekry het vir hulle voorwaardes en wat ons eiendomsreg insluit! Dit is erg kinderagtig om julself doof te hou vir die feite wat vir hulself spreek en die ou paddatjies in die pan storie raak ook nou al afgesaag. CR het dit kwytgeraak toe hy nog nie geweet het wie hy eintlik is nie. Nou weet hy wie hy is, die president wat mandela se “legacy” moet laat herleef vir alle Suid Afrikaners wie graag plesierig wil wees! Dit sluit eiendomsreg in vir alle Suid Afrikaners, wit en swart! Wat die res van die sake aanbetref soos NDR programme vir transformasie, regstellende aksie en onteiening teen verminderde vergoeding, dit is ongelukkig ook n feit en dus kan julle eerder daarop fokus! Daar bestaan nog nie duidellikheid oor die verandering van die grondwet nie, so julle kan maar daaroor ook bespiegel! Alhoewel en gegewe die groter prentjie, is ek van mening dat verandering aan die grondwet nie meer op die ANC tafel le nie! Afri-Forum sal dus tereg as leunnaars en doemprofete uitgekryt kan word as grondhervorming en alles wat ter sprake is volgens die buitelandse beleggingsvoorwaardes en binnelandse ooreenkomste gaan geskied, want julle hou mos vir julself doof!

Piet ·

Ja ou Jerry, dis waar wat jy se van dowes wat nie wil hoor nie. Gewoonlik praat hulle baie maar wil nie hoor nie, ne?

Flippie ·

Dit gaan my verstand te bowe dat niemand, maar niemand al ‘n vraag
of opinie oor die lot van die grondeienaars geopper het nie. So asof hulle nie bestaan nie, so asof hulle onder die hak van restitusie vergruis mag word.

Die vraag oor die wettigheid van OSV gaan afhang van die nuwe Grondwet. Die nuwe Grondwet kan “staatsdiefstal” wettig.

Judge Dredd ·

Maklik om te se jy sal die grondwet nakom as jou bedoeling is om die grondwet te verander, sodoende kan jy jou beoogde stelery wettig.

Die ANC hou demokrasie voor om hulle bose aksies te wettig – pasop dat julle nie ‘n les in vryheid vanaf die burgers ontvang nie.

Anoniem ·

Jammer mnr Ramaphosa maar ek vertrou jou nie want jy praat uit twee monde.

Jerry de Ru ·

Cyril dink hy het met kinders te doen maar ek dink die tandemuis skuld my ook nog geld nou dat ek daaraan dink………….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.