Ramaphosa besoek Winnie se familie

Winnie Madikizela-Mandela. Foto: Dumisani Sibeko/ANA

Pres. Cyril Ramaphosa sal Maandagaand Winnie Madikizela-Mandela se familie by hul huis besoek ná die struggle-veteraan se afsterwe vroeër vandag.

Maroela Media het vroeër berig Madikizela-Mandela (81) het Maandag in die vroeë ure van die middag in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg gesterf.

Die ANC het Madikizela-Mandela in reaksie op haar dood as ʼn “kolos” van die Suid-Afrikaanse politieke landskap beskryf. Min. Jeff Radebe het ʼn verklaring van Madikizela-Mandela se familie voorgelees waarin haar toewyding aan die ANC en die vryheidsbeweging uiteengesit is.

“Mama Madikizela-Mandela was deur die massas van ons mense as Moeder van die Nasie bestempel. Dit was in erkenning van die vreeslose en onwrikbare standpunt wat sy ingeneem het teen die apartheid-regime,” het Radebe by die mediakonferensie by Netcare Milpark-hospitaal gesê.

“As ANC salueer ons hierdie groot ikoon van ons vryheidstryd.”

Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, het gedurende die mediakonferensie hulde aan Madikizela-Mandela gebring en gesê die organisasie en sy leiers sal haar openhartigheid mis. “Winnie, een van die min veterane van ons vryheidstryd wat nog oor is, was een van hulle wat enige tyd vir ons presies sou sê wat reg of verkeerd is,” het Mantashe gesê.

Hy het bevestig Ramaphosa sal vanaand Madikizela-Mandela se familie besoek. “Die president sal vanaand die familie se huis besoek en ek glo hy sal daar kommentaar lewer,” het Mantashe gesê.

Besonderhede van Madikizela-Mandela se gedenkdiens en begrafnis sal deur die ANC, die regering en haar familie bekendgemaak word sodra dit gefinaliseer is.

Adv. Dali Mpofu arriveer Maandagmiddag by Madikizela-Mandela se familie se huis. Video: ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.