Ramaphosa betreur geweld tydens afsondering

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidensie/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag, in die derde week van die Covid-19-afsondering, ʼn toename in die geweld teen vroue en vandalisme van staatseiendom betreur.

“Dit is kommerwekkend dat vroue en kinders, in ʼn baie moeilike tydperk vir ons land, in hul eie huise geterroriseer word en hulle dwing om desperaat om hulp te soek,” het die president in sy weeklikse nuusbrief gesê.

Hy het gesê die getal oproepe aan die nasionale beheersentrum het toegeneem sedert die afsonderingsperiode op 27 Maart begin het. Altesaam 148 persone is reeds in hegtenis geneem vir geslagsgebaseerde geweld.

“Ons is bewus daarvan dat die beperkings wat op mense se bewegings geplaas is en opsluiting in hul huise ʼn groot frustrasie is vir talle. Daar is egter nie enige verskoning vir geweld nie – nie teen vroue, kinders, bejaardes, lede van die LGBTQI+-gemeenskap, uitlanders of enigiemand anders nie.”

Ramaphosa het gesê die meerderheid Suid-Afrikaners respekteer die reëls van die afsondering en die regte van ander, maar “sommige wil die krisis vir hul eie boosaardige doelwitte uitbuit”.

“Ons innige meegevoel met die familie van Mama Ngenzeni Zuma wat verlede maand in KwaZulu-Natal verkrag en vermoor is deur mans wat hulself glo as soldate voorgehou het om toegang tot haar huis te bekom. Ons dink aan die familie van die 14-jarige Simphiwe Sibeko wat uit haar huis in Soweto verdwyn het en wie se liggaam verlede week in bosse gevind is.”

Hy het gesê dit is ʼn beskuldiging teen die Suid-Afrikaanse samelewing dat skole tydens die afsonderingsperiode aan die brand gesteek word en dat Eskom ʼn toename in vandalisme van sy infrastruktuur en ʼn toename in kabeldiefstal beleef.

“Wanneer die afsonderingsperiode opgehef word en skole weer oopmaak, sal duisende kinders nie ʼn skool hê om na terug te keer nie en hulle word ontneem van die reg op onderwys,” het hy gesê.

Die skade aan Eskom se eiendom het kragonderbrekings veroorsaak en sal ʼn beduidende bedrag vereis om te herstel.

“Dit is afstootlik dat kriminele hierdie afsonderingsperiode gebruik as ʼn dekmantel om die wet te breek in ʼn tyd wanneer ons wetstoepassers die nasionale poging ondersteun om die pandemie te beheer.”

Ramaphosa maan gemeenskappe om vandalisme aan te meld en gesê as hulle versuim om dit te doen, is hulle “stille vennote tot sabotasie”. “Dit is selde dat niemand sien wat gebeur nie. As gemeenskappe net passiewe omstanders is wanneer hulle misdaad opmerk, is hulle ook deel van die sabotasie wat uiteindelik nadelig is vir onsself, ons kinders en ons gemeenskappe.

“Ek het ʼn boodskap vir die gewetenlose misdadigers wat dink hulle kan misbruik maak van die geleentheid. Die strafregstelsel is nie met vakansie nie,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Burgermeester ·

Die lippe beweeg, maar die daad word nie by die woord gevoeg nie. As die President se oggend en aand praatjies ooreen gestem het, sou ons ‘n ander Kommunikasie Ministers gehad het. Die wet geld vir almal.

Oujongvrou ·

Talk is baie cheap vir talle van mense wat net kritiek kan gee oor elke liewe ding. Maak nie saak wat Mnr Ramaphosa se of doen nie. Hy probeer almal gelukkig hou. Dis n helse taak

BoerSonderRoer ·

Ons almal weet “All animals are equal, but some animals are more equal than others.”

Drico ·

Laat ons dan toe om as CPF en plaaspatrolleerders ons bydra te lewer en sodoende die SAPD en SANW behulpsaam te wees. Laat ons toe om ons deel ook by te dra in n poging om inbrake en vandalisme in ons gemeenskappe en by ons skole hok te slaan!!

Rodger17 ·

Polisie wil nie hê ander moet bydrae lewer nie,hulle en weermag wil die hero’s wees

Boortor ·

Wat op aarde het jy gedink gaan gebeur meneer president? Dat almal soos soet kindertjies by hulle huise gaan bly? Word wakker man! Hulle skrik nie vir cele se gekwetter nie. Baaaaie mense het julle gewaarsku dat dit gaan gebeur so moenie nou kerm nie.

Hekwag ·

Ek HOOP van harte dat die oortreders selfs na die inperking vervolg sal word. Hou boek van al die klagtes gedurende die afsonderings tydperk en daag hulle daarna voor die hof. Té veel geweldenaars dink hulle kan wegkom met hulle dade.

SomeOne ·

@kabel diefstal,
gaan alle, en ek se ALLE, skroot werwe na vir kabels wat daar verkwansel word

Anel ·

Hy moet ons nie laat lag nie. Die strafregstelsel is al hoe lank op vakansie.

Fedup ·

Om iets te betreur, los nie ń geweldige GROOT probleem in die land op nie. Vat your people vas en kry klaar. Jy babbel en blah blah net oor goed. Praat los nie probleme op nie. Dade dien.

Stefan ·

Hoe kan dit wees dat kabel diefstal toeneem, die skrapyster plekke wat die kabels by hulle koop is mos ook toe, of is dit ook ‘noodsaaklike besighede’?

Drico ·

Stefan dis nou presies waar die ding in kom. Deur die dag is sekere plekke toe en word die wet gehandhaaf en vanaand wanneer gehoorsame burgers lekker lê en droom, begin die bedrywighede met die verskoning dat daar nie besigheid gedoen word nie, dis net velangrike werk wat gou ingehaal word. Intussen word daar onwettig gekoop en verkoop.

Marieta ·

Sal al baie help as die CPF en ander dergelike patroleringsdienste toegelaat word om voort te gaan met hul dienste. Dit kan die druk op reeds oorlaaide polisie aansienlik verminder. En ek staan ook vas daarby dat dit beduidend baie sal help as die verbod op sigarette afgeskaf word. Genadiglik rook nie ek of enige iemand in my huis nie, maar ek was ook al baie blootgestel aan mense wat rook en ek weet hoe erg humeurig en omgeellie iemand kan raak as daar om een of ander nie sigarette beskikbaar is nie. Ja, ja ek weet… Rook lei tot respiratoriese siektes ens.
Maar daardie roker se longe is waarskynlik al klaar beskadig en redeneer nie so nie. En die onskuldige kind of ouer persoon of gade wat dan onder daardie aggressiewe gedrag moet ly, redeneer beslis ook nie so nie. Vir hom en vir haar is die vrees van geweld en aanranding n baie groter en dreigender euwel.

koos10 ·

En hoeveel daarvan is deur drank en sigarette gebruik, veroorsaak, soos jou minister van polisie ons wil wysmaak?

Jacobus ·

Met alle respek Cyril. Dit is die vroeë opbrengs van 24 jaar se blinde geploeter. Ja, daar het ‘n swart middelklas gegroei, baie van hulle mijoeners. Die ellende is aangevuur deur lekkende grense. Mense van die noorde is met ope arms verwelkom. Ons strukture is oorweldig en vernietig – teĕspraak is afgemaak as rasisme. Die nuwe bergers is honger – baie afkomstig van sosialistiese noorder bure.
Ckickens are coming home to roost.

Snowball ·

Wat ‘n skande nè? Vandale, brandstigters, dranksugtiges, vroueslaners en doodgewoon siele sonder selfbeheersing – êrens sit ons die pot mis in SA as dit kom opvoeding, respek vir gesag en respek vir ander.
Party ministers kan hulle nie eers verbind tot die nakom van die reëls van grendelstatus nie.

Michelle ·

Die mense daar buite het betaal geen respek nie, die Polisie en Weermag moet net ingaan en die wat op straat is wys wie regtig in beheer is. Die kriminele is nie nou in beheer nie. Die land probeer almal saam staan teen die epidemie en oorlewing en het nie nou tyd vir kriminele wat nie hul hande kan tuishou en verwoesting wil saai nie. Daar is plekke waar hul hoort die tronk. Sluit hul op. Hier is nou net te veel wat net wil doen wat hulle wil selfsugtig.

BoerSonderRoer ·

Nee Mr Die President, hulle waarsku jou al lank daaroor. Maar jy het gedoen wat jy altyd doen, niks, of nee kom ek wees positief, baie min.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.