Ramaphosa beweer OB bekom CR17-bankstate onwettig

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa se regsverteenwoordigers het die hof versoek dat sekere inligting in die rekords van die Openbare Beskermer se ondersoek na hom nie openbaar gemaak word nie.

Dié versoek is hangende ʼn beslissing oor óf die inligting wettig bekom is en óf dit wettig verkry is met betrekking tot die klagte wat ondersoek word.

“Indien die versoek toegestaan word en sodra die geldigheid van die bron van die dokumente en die toepaslikheid daarvan om in die rekord opgeneem te word vasgestel is, is daar niks wat die hof verhinder om te beslis dat van die inligting of al die inligting openbaar gemaak moet word nie,” het Khusela Diko, die president se woordvoerder, gesê.

Dit kom nadat Ramaphosa daarvan bewus gemaak is dat vertroulike bankbesonderhede van die donateurs en ontvangers van die CR17-veldtog aan die media gelek is. Die CR17-veldtog het daartoe gelei dat Ramaphosa in 2017 tot leier van die ANC verkies is.

“Die inligting, wat vermoedelik slegs in die Openbare Beskermer se besit is, bevat bankstate van derde partye wat private transaksies aangeteken het en wat streng vertroulik is,” het Diko gesê.

Volgens Ramaphosa kom dit neer op ’n skending van die reg op privaatheid, en wat dit nog kommerwekkender maak, is dat dit duidelik blyk dat hierdie inligting van die begin af op ’n onwettige manier verkry is.

“Die selektiewe verspreiding van hierdie bankbesonderhede is duidelik bedoel om die president verdag te probeer maak, en volg op die onlangse verslag van die Openbare Beskermer waarin daar intensief op die befondsing van die CR17-veldtog gefokus was.”

Adv. Busisiwe Mkhwebane het in haar verslag bevind dat die president die parlement opsetlik mislei en die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree het. Mkhwebane het ʼn omvattende verslag van 106 bladsye bekendgemaak waarin sy bevind Ramaphosa het die parlement doelbewus mislei oor die R500 000 wat Bosasa (nou African Global Operations) aan sy veldtog geskenk het om president van die ANC te word.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer, in die Konstitusionele Hof. (Skermgreep: Siphelele Dludla/ANA)

Volgens Diko het nóg die president nóg die veldtog enige iets verkeerd gedoen. “Dit is algemene en aanvaarde praktyk in Suid-Afrika en wêreldwyd vir partye en kandidate om geld vir veldtogte in te samel van donateurs.”

Daar is volgens Diko van die begin af deur die CR17-veldtog se span en Ramaphosa ooreengekom dat dit ʼn skoon veldtog moet wees wat binne die nodige wetlike voorskrifte en in ooreenstemming met die waardes en beginsels van hul organisasie bedryf moet word.

“Daar is ooreengekom dat die veldtog geld sou insamel van private persone wat die pogings om die integriteit en samehorigheid van die ANC te herstel, ondersteun en Suid-Afrika weer op ’n pad van groei en transformasie te plaas, met die duidelike verstandhouding dat hul bydrae hulle geen spesiale gunste of onbehoorlike voordeel sou besorg nie.”

Volgens Diko is fondse verkry uit ’n breë deursnit van die Suid-Afrikaanse samelewing, soms met behulp van ondersteunende individue wat toegang tot verskillende netwerke gehad het. “Meer as honderd individue het volgens hul middele bydraes tot die veldtog gelewer. Die skenkings is op ’n vertroulike grondslag gemaak.”

Ramphosa het volgens Diko in sy antwoord aan die OB en in hofdokumente aangedui dat die fondse aangewend is om ’n verskeidenheid veldtogaktiwiteite te ondersteun, insluitend mobilisering, kommunikasie, navorsing, sekuriteit, administrasie, logistieke ondersteuning (reis en verblyf), sowel as toelaes en salarisse.

“Die president kan die Suid-Afrikaanse publiek verseker dat die CR17-veldtog as ʼn skoon veldtog bedryf is en in die gees van die land se ryk demokratiese tradisies, naamlik verantwoordbaarheid, eerlikheid en integriteit.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

George in Bloem ·

“…..integriteit van die ANC te herstel……” Goeie grappie Cyril. Daar is nie genoeg geld op hierdie aardbol om dit te vermag nie. En dan,die kersie op die koek,jy gebruik “groei en transformasie….” in dieselfde sin? Nee wat,10 uit 10 vir daai een ou grapkas. Ek het omtrent my asem weg gelag. Jy het my dag gemaak. Viva! Hahahahahaha!!………

Lees net ·

BM sal enigiets doen om verlore aansien te herwin en haar kaders wat die toue trek tevrede te stel, al moet dit onwettig gedoen word(vandag word dit deel van die Nasionale sport).

Hb ·

Die land se ryk demokratiese tridisies nogals. Hahaha. Diefstal , oneerlikheid, nepotisme en bedrog. Dit is di huidige demokratiese tradisies. Lagwekkend en angswekkend ne

Gert van Wierdapark ·

Die OB-tjie klou soos dinges aan n wolkombers en sal skynbaar enige-iets doen om CR en SA te help ondermyn!

Pieter ·

Jip dit is die op drag van zuma en sy pelle weet nie waar oor kla die pres nie daar waar bedrog en korupsie is daar sal jy die anc en sy trawnte kry mnr die pres

Klasvakie ·

Die goal posts word verskuif…. Cr het die parlement mislei. Doel van ondersoek geslaag.
Wat nou gebeur is…… niks.
Die sogenaamde ongeruimdhede waarmee hulle nou veg is ‘n totaal ander storie…..
Slegs in die nuwe suid afrika word die regstelsel geprocastinate tot infinity toe!!!!! En…. niks gebeur.
As dit ek was, was ek al geskors sonder vergoeding.
Net 1 vraag…. ‘n skatryk man.. jy smile… wat geen begeerte openbaar het om in die ranks te wees… geen begeerte anders as sy eie sakeryk. Wat het verander?
Doen gerus die 2de ondersoek deeglik. Ons weet watter stories hy aan die buiteland loop en verkoop. DINK

Japie Bruyns ·

Die anc steek beslis iets weg kan nie glo dat hulle die woorde, eerlikheid, integriteit en bekwaamheid gebruik as verskonings nie. Hulle weet duidelik nie wat die woorde beteken nie.

Emma ·

Almal het donker geheime in die regering. Die een meer korrup as die ander. Wat gaan gebeur absoluut zero.

Johan ·

As die rekenings niks met die ondersoek te make het nie, waarom het sy dit bekom? Haar optrede lyk verdag

John ·

Die ANC blyk intrinsiek verrot te wees. Mense spioeneer op mekaar, vermoor kaders, belieg en bedrieg en koop mekaar om. Dit wil voorkom of omkoop van stemme gebruiklik is. Moes CR dit ook doen? Nou moet die prez keer dat sy ondersteuners deur sy opponente geteiken word. As aan al die miljarde gedink word wat in 25 jaar die pad gevat het, moet hier baie super-ryk mense tussen ons lewe… deur wheeling en dealing bekom… maar armoede pleit vir nog. CR blyk toe nie die skerpste potlood in die pennesakkie te wees nie. Dis scary, want al die bic’s is leeg gelieg en bedrieg en nog net nuttig om slotte mee oop te breek vir meer van dieselfde.

Joke! ·

Oë ou Cyril nou wat spring jy soos n kat op n warm sinkdak rond huh? Jy het mos niks om oor bekommerd te wees nie ou Cyriltjie..of het jy? Wil so voorkom jy keer so vir jou wickets…

Swannie ·

Dit lyk my ou Rammelkas het meer om weg te steek as net onsigbare donateurs.

Sue ·

Die ANC is die meerderheidsparty in die regering – dus moet die land se president vanuit die ANC verkies word. Nou aan al die galbrakers – kan een van julle nou aan iemand beter dan CR, vanuit die ANC, voorstel??? Al is hy nie die beste kandidaat in die hele regering nie, is hy die beste uit die ANC, om hierdie land net weer effens op koers te kry!

@Sarel ·

Sal ek ook graag wil weet. Is dit nou koers by Grondonteiening, of die NGV, of 29% werkloosheid of misdaad wat almal teister? Want al koers wat ek sien is die een wat die ANC gee, en dis loshande die afgrond oor.

Jerry ·

CR se opponente in die ANC, die OB en die eff gaan self in die gat beland wat hulle besig is om vir CR te grawe!

Slim Jan ·

Daai cr17 vondsie het op R1bn te staan gekom. Hier is ‘n kan vol wurms. Hoe in jou lewe spandeer jy so huis vol geld vir jou verkiesing tot prez. Hoe werk hierdie liga waarin ons nou is?

Sue ·

En waar het die apartheidsregering se “koers” ons gebring? Ek is tot vandag spyt dat ek saam met soveel “gebreinspoeldes” hulle aan bewind gehou het. Maklik om vir 3 miljoen mense infrastruktuur in stand te hou en land op “koers” te hou. Wonder hoe sou hulle gevaar het om 58 miljoen mense gelukkig te hou. Wat het dit ons gebaat dat ons seuns op die grens afgemaai is. Pleks dat die wonderlike regering huise gebou het en ordentlike skoolonderrig vir ALMAL in die land voorsien het, dan het ons nie nou met hierdie gemors gesit nie.

Anoniem ·

Het die OB ook met soveel ywer ondersoek wie het Me Zuma se veldtog befonds? Of EFF? Of BLF?

Sarel ·

Hoe spandeer jy R1bn op ‘n veldtog om ‘n verkiesing te wen…..
Jy koop stemme? Dit is die demokrasie waarin ons is.
En die publiek moet dit nie sien wie wat gekry het nie. Daarom is dit ‘n geheim. Maar gehieme het ‘n manier om uit te kom… oeps

Adrian ·

Die ANC is vrot soos n vis van die kop af, die hele spul is vrot en sleg tot gordan wat help geld versamel het. Die hele regering moet uit die parlement gejaag word , aangekla alle hul bates verkoop word dan die lekker deel ….. TRONK TOE LEWENSLANK. Ons kort nuwe mense in die parlement nie kommuniste nie amen

Jimmy ·

Indien die beweringe korrek is moet Ramaphosa bedank. Hy is erger as Zuma.

Jimmy ·

Verskeie van Ramaphosa se buddies is ruim vergoed uit die skenkings. Het hulle ooit belasting betaal?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.