Ramaphosa bly rotsvas agter Gordhan

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Kopano/Tlape GCIS)

Soos ’n wafferse Tammy Wynette van ouds gaan pres. Cyril Ramaphosa vas staan by sy man – rotsvas agter sy minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het verskeie bronne naby aan Ramaphosa die afgelope twee dae by navraag aan Maroela Media gesê.

Ondersteuners van Ramaphosa wat die hele vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die naweek bygewoon het, sê boonop die bewering dat Gordhan die skyf was van vele aanvalle en selfs ’n aandrang dat hy uit sy ministerspos ontslaan moet word, is ’n volslae leuen wat versprei word deur ANC-lede wat Ramaphosa en Gordhan nie goedgesind is nie en hulle nou probeer beswadder deur te lieg.

Na wat Maroela Media betroubaar verneem, het net twee NUK-lede (uit omtrent 110) ’n saak probeer uitmaak dat Gordhan ontslaan moet word. En dit was twee van die laagste oktaan Zuma-meelopers in die hele vergadering – mnre. Bongani Bongo, wat tans in die Kaapse streekhof tereg staan op korrupsieklagtes, en mnr. Mosebenzi Zwane, wat Vrystaatse LUR vir landbou was tydens die Vrede-suiwelskandaal en dus die kanalisering van geld na die berugte Gupta-troue by Sun City in 2013.

Pravin Gordhan. Foto: ANA

Bongo en Zwane se pogings het dan ook presies zero sukses gehad en Gordhan was nouliks ter sprake tydens die vergadering, het betroubare bronne aan Maroela Media gesê.

Wat nogal interessant gaan wees, sal die verduidelikings wees waarmee die sekretaris-generaal van die ANC, mnr. Ace Magashule, ’n denkgenoot van Zwane en Bongo, vorendag gaan kom om die leuen weg te verduidelik wanneer die ANC eindelik so ver kom om tydens ’n mediakonferensie – waarskynlik Woensdag – ’n amptelike ANC-weergawe te gee van wat nou eintlik daar gebeur het.

Volgens bronne in die Ramaphosa-dampkring is Gordhan se politieke posisie dus so stewig soos altyd en gaan Ramaphosa nie deur die geklater waarmee Cosatu, die EFF en sommiges in die staatskaping/Zuma/Magashule-faksie vorendag kom om van Gordhan ontslae te raak, beïnvloed word nie.

Wat wel in elk geval uiters binnekort moet gebeur, is ’n kabinetskommeling, en na verneem word, is dit op hande. Die skommeling is noodsaaklik weens die onlangse afsterwe van die adjunkminister van minerale hulpbronne en energie, mev. Bavelile Hlongwa. Dit het ’n vakature gelaat wat gevul moet word.

Na verstaan word, gaan Ramaphosa waarskynlik die geleentheid gebruik om ’n meer omvattende kabinetskommeling te doen, met ’n verandering in die samestelling van sommige portefeuljes, en ’n wisseling van sommige ministers tussen portefeuljes.

Dit kan moontlik met Gordhan se portefeulje gebeur, en as dit gebeur moet dit nie as kritiek op Gordhan gesien word nie, maar eerder as veranderde behoeftes, is aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

… as die ou matrassie in Eskom se voorportaal uitgerol word moet ons maar weet ‘n koue winter kom. Kommunistiese kaders wat op die ANC se bloutrein wil ry sonder kaartjies moet waai. Partye wat nie aan verkiesings deelneem nie mag nie in die parlement dien nie wat nog ministers word en hul ideologie afdwing.

Pottie

Julle kan maak net wat julle wil julle het die land geplunder daar is niks meer oor nie wil sien wat gaan julle klomp slim mnre maak julle weet mos als gordhan is n grap afriforum het vir hom n lys van ingeneers gegee maar eskom het hulle nie nodig nie

Johanna Botha

Lekker Davos …niemand gaan hier kom bele nie …eintlik is Trum toe reg oor SA …dit is n SH !

Feite

Die ANC se Lethuli huis is die ANC en sal besluit hoe die kabinet geskommel moet word. CR sal bloot die aankondigings doen asof hy in beheer is, maar weet dit, CR ontvang sy opdragte vanaf Lethuli huis. Die ANC is groter as enige individu of faksie binne die ANC!

Alex

Ha ha vir die 1st paragraaf (skerp, dink nie almal vang die ou grappie nie).
Cyril het net een maatjie in die hele ANC, so hy moet maar aan hom vashou, want as hy gaan is Cyril se dae ook getel.