Ramaphosa deel Oujaarsboodskap

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag ʼn Oujaarsboodskap gedeel vanuit Genadendal, sy amptelike woning in Kaapstad.

Die president het gesê dit is ʼn tyd vir familie en om gehaltetyd te spandeer saam met diegene vir wie ons lief is. “Dit is ook ʼn tyd om terug te kyk na die jaar wat ons deurgemaak het en om na ons lewens en doelwitte te kyk, asook ons planne vir die jaar wat voorlê.”

Ramaphosa het gesê dit is ook ʼn tyd om dankbaar te wees vir die dinge wat die meeste saak maak in ons lewens – ʼn goeie gesondheid, ʼn behoorlike lewe, die liefde van ʼn familie, die kameraadskap van vriende.

“Dit was ʼn baie moeilike jaar vir ons mense en ons land. Vir die tweede jaar moes ons ʼn dodelike pandemie bestry. Vir talle families landswyd is dit ʼn hartseer tyd en ʼn herinnering aan dit wat hulle verloor het. In baie huise is daar vanaand ʼn leë plekkie wat eens gevul is deur ʼn pa, ʼn ma, ʼn suster, ʼn broer, ʼn kind, of ʼn ouer. Ons bid vir elkeen – vir diegene wat oorlede is, vir diegene wat siek is, en vir diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het.”

Hy sê vir talle Suid-Afrikaners is daar min om oor fees te vier. “Weens die verwoestende effek van die Covid-19-pandemie het baie broodwinners hul werk verloor, verskeie ondernemings het hul deure gesluit en miljoene families het gesukkel om kos op die tafel te sit.”

Die tweede pandemie waarna hy verlede jaar verwys het, manifesteer deur geweld teen vroue en kinders en hy sê “dit het ook onverpoosd voortgeduur”.

“Die land het vroeër vanjaar die ergste vorm van openbare geweld en verwoesting beleef sedert die aanvang van demokrasie. Dié onluste het tot lewensverliese gelei, poste is verwoes en miljarde rand se skade is aangerig.”

Hy sê ons het vanjaar ook verskeie vroue en mans verloor wat pilare van krag was vir hul gemeenskappe – leiers, aktiviste en veterane in ons stryd na vryheid. “Die land sal môre in eenheid saamstaan wanneer ons ons geliefde aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu ter ruste lê.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

“Ons het baie storms beleef die afgelope jaar, maar soos wat ons die nuwe jaar betree, weet ons dat beter tye op die horison lê en wag. Nieteenstaande die moeilikhede van 2021, is daar baie om voor dankbaar te wees,” het die president gesê.

Hy het gesê ons kan dankbaar wees vir die krag van ons demokrasie en dat ons vanjaar nóg ʼn vry en regverdige plaaslikeregeringsverkiesing kon hou. “Ons het 25 jaar gevier sedert die Grondwet onderteken is. Ons kan ook dankbaar wees vir Suid-Afrikaners se vermoë om in ʼn krisis saam te kan staan. Te midde van onluste het talle Suid-Afrikaners saamgestaan om plundery te voorkom. Hulle het die strate skoongemaak en ondernemings wat geplunder is, gehelp om te herbou.

“Ons is ook dankbaar vir die mans en vroue wat elke dag op die voorste linies baklei teen die Covid-19-pandemie. Aan ons gesondheidsorgwerkers, ons paramedici, ons nooddienste, ons polisiebeamptes, ons soldate en talle vrywilligers – baie dankie vir julle toewyding om gesond te maak, om te dien en om ons almal te beskerm.”

Hy het ook sy dankbaarheid uitgespreek oor die baanbrekerswerk wat ons wetenskaplikes, akademici en lede van die gesondheidsbedryf doen sodat ons die pandemie beter kan verstaan, sodat ons beter kan beplan en dienooreenkomstig kan reageer.

“Ons is ook dankbaar vir die deursettingsvermoë van ons leerders en onderwysers in dié jaar en veral matrikulante, wat hul finale eksamen onder uitdagende omstandighede moes onderneem.”

Hy het ook sy dankbaarheid uitgespreek teen die nagenoeg 18 miljoen Suid-Afrikaners wat reeds ingeënt is.

“Ons is ook dankbaar vir elke burger wat solidariteit met ander Suid-Afrikaners getoon het en alles gegee het wat hulle kan om diegene te help wat die swaarste deur die pandemie getref is. Ek praat van die hulp wat aan bure gegee is om huur te betaal of kos te koop, en die gemeenskappe se sopkombuise om armes te help. Die miljoene wat aan die regering se Solidarity Fund oorbetaal is en dié sake-eienaars wat uit hul pad gegaan het om poste te beskerm.”

Ramaphosa sê die land sal in 2022 hard werk om poste te skep en hongersnood te vookom. “Ons sal voortbou op die belangrike vordering wat ons gemaak het om staatskaping tot ʼn einde te bring en korrupsie te bestry. Ons sal voortgaan om korrupsie te bestry en suksesvol diegene vervolg wat verantwoordelik is vir ongerymdhede.

“Ons moet ook saam werk om beslissend op te tree teen verhoogde misdaadvlakke; en misdade teen vroue en kinders, en die sabotasie van die ekonomie.

“Dit gaan nog ʼn ruk lank duur voor die wêreld vry is van Covid-19, maar as ons ons deel doen, dan kan ons die impak op ons lewens en lewensbestaan beperk.”

Hy sê die uitdagings van die afgelope jaar het ons as ʼn land nader aan mekaar gebring. “Dit is my wens dat die gees van solidariteit, empatie en deernis sal voortduur in die nuwe jaar en die jare wat kom. Mag 2022 die jaar wees waar ons nie versuim om Suid-Afrika met krag en durf te bou nie. Kom ons bou ʼn beter Suid-Afrika, gebaseer op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid, en fundamentele menseregte. Kom ons bou ʼn verenigde en inklusiewe Suid-Afrika waar ons mekaar help en vir mekaar omgee. Kom ons neem ter harte die woorde van ons geliefde aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu: Doen ʼn klein bietjie goed waar jy ook al is. Wanneer al die klein bietjies goed saamgesit word, kan dit die wêreld oorweldig.

“Terwyl ons die nuwe jaar verwelkom, wens ek vir julle elkeen vreugde, voorspoed en vrede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.